Thursday, August 11, 2011

Grondwet

GRONDWET VAN DIE REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA, 1996

[DATUM VAN AFKONDIGING: 18 DESEMBER 1996]
[DATUM VAN INVOERING: 4 FEBRUARIE 1997]
(Tensy anders vermeld)
(Engelse teks deur die President geteken)

Die Grondwet is opgedateer tot Staatskoerant 28568 gedateer 27 Februarie 2006.

soos gewysig deur
Sesde Wysigingswet op die Grondwet van 2001
Sewende Wysigingswet op die Grondwet van 2001
Agtste Wysigingswet op die Grondwet van 2002
Negende Wysigingswet op die Grondwet van 2002
Tiende Wysigingswet op die Grondwet van 2003
Elfde Wysigingswet op die Grondwet van 2003
Wet op die Verwysing na Konstitusionele Wette, No. 5 van 2005
Twaalfde Wysigingswet op die Grondwet van 2005
REDAKSIONELE NOTA
Verwys asseblief na die Engelse teks van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 vir artikels wat deur die „Constitution First Amendment Act of 1997”, „Constitution Second Amendment Act of 1998”, „Constitution Third Amendment Act of 1998”, „Constitution Fourth Amendment Act of 1999”, „Constitution Fifth Amendment Act of 1999”, gewysig is.
ALGEMENE KENNISGEWINGS
Kragtens Proklamasie No. 26 van 26 April 2001, is die administrasie van hierdie Wet aan die Minister van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling oorgedra.
Kragtens artikel 1 (1) en (2) van Wet No. 5 van 2005, word vanaf 27 Junie 2005 geen Wetnommer met die „Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996)”, geassosieer nie; en ’n verwysing na die „Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996)”, in ’n wet wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van Wet No. 5 van 2005 van krag is, moet as ’n verwysing na die „Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996”, uitgelê word.

WET
Om ’n nuwe Grondwet vir die Republiek van Suid-Afrika te verskaf en om vir bykomstige aangeleenthede voorsiening te maak.
Aanhef
Ons, die mense van Suid-Afrika,
Erken die ongeregtighede van ons verlede;
Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het;
Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en
Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.
Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde—
Die verdeeldheid van die verlede te heel en ’n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;
Die grondslag te lê vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;
Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en
’n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as ’n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.
Mag God ons mense beskerm.
Nkosi Sikelel’ iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.
God seën Suid-Afrika. God bless South Africa.
Mudzimu fhatutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika.
INDELING VAN ARTIKELS
HOOFSTUK 1
GRONDLIGGENDE BEPALINGS

1. Republiek van Suid-Afrika
2. Oppergesag van Grondwet
3. Burgerskap
4. Nasionale lied
5. Nasionale vlag
6. Tale

HOOFSTUK 2
HANDVES VAN REGTE

7. Regte
8. Toepassing
9. Gelykheid
10. Menswaardigheid
11. Lewe
12. Vryheid en sekerheid van die persoon
13. Slawerny, knegskap en dwangarbeid
14. Privaatheid
15. Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening
16. Vryheid van uitdrukking
17. Vergadering, betoging, linievorming en petisie
18. Vryheid van assosiasie
19. Politieke regte
20. Burgerskap
21. Vryheid van beweging en verblyf
22. Vryheid van bedryf, beroep en professie
23. Arbeidsverhoudinge
24. Omgewing
25. Eiendom
26. Behuising
27. Gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike sekerheid
28. Kinders
29. Onderwys
30. Taal en kultuur
31. Kultuur, godsdiens- en taalgemeenskappe
32. Toegang tot inligting
33. Regverdige administratiewe optrede
34. Toegang tot howe
35. Gearresteerde, aangehoue en beskuldigde persone
36. Beperking van regte
37. Noodtoestande
38. Afdwinging van regte
39. Uitleg van Handves van Regte

HOOFSTUK 3
REGERING VAN SAMEWERKING

40. Regering van die Republiek
41. Beginsels van regering van samewerking en inter-regeringsbetrekkinge

HOOFSTUK 4
DIE PARLEMENT

42. Samestelling van Parlement
43. Wetgewende gesag van die Republiek
44. Nasionale wetgewende gesag
45. Gesamentlike reëls en orders en gesamentlike komitees
46. Samestelling en verkiesing
47. Lidmaatskap
48. Eed of plegtige verklaring
49. Duur van Nasionale Vergadering
50. Ontbinding van Nasionale Vergadering voor verstryking van sy termyn
51. Sittings en resesse
52. Speaker en Adjunkspeaker
53. Besluite
54. Regte van sekere Kabinetslede en Adjunkministers in Nasionale Vergadering
55. Bevoegdhede van Nasionale Vergadering
56. Getuienis of inligting voor Nasionale Vergadering
57. Interne reëlings, verrigtinge en prosedures van Nasionale Vergadering
58. Voorreg
59. Publieke toegang tot en betrokkenheid in Nasionale Vergadering
60. Samestelling van Nasionale Raad
61. Toewysing van afgevaardigdes
62. Vaste afgevaardigdes
63. Sittings van Nasionale Raad
64. Voorsitter en Adjunkvoorsitters
65. Besluite
66. Deelname deur lede van nasionale uitvoerende gesag
67. Deelname deur verteenwoordigers van plaaslike regering
68. Bevoegdhede van Nasionale Raad
69. Getuienis of inligting voor Nasionale Raad
70. Interne reëlings, verrigtinge en prosedures van Nasionale Raad
71. Voorreg
72. Publieke toegang tot en betrokkenheid in Nasionale Raad
73. Alle Wetsontwerpe
74. Wetsontwerpe wat die Grondwet wysig
75. Gewone Wetsontwerpe wat nie provinsies raak nie
76. Gewone Wetsontwerpe wat provinsies raak
77. Geldwetsontwerpe
78. Bemiddelingskomitee
79. Bekragtiging van Wetsontwerpe
80. Aansoek by Konstitusionele Hof deur lede van Nasionale Vergadering
81. Publikasie van Wette
82. Veilige bewaring van Parlementswette

HOOFSTUK 5
DIE PRESIDENT EN NASIONALE UITVOERENDE GESAG

83. Die President
84. Bevoegdhede en funksies van President
85. Uitvoerende gesag van die Republiek
86. Verkiesing van President
87. Aanvaarding van amp deur President
88. Ampstermyn van President
89. Ontheffing van President
90. Waarnemende President
91. Kabinet
92. Aanspreeklikheid en verantwoordelikhede
93. Adjunkministers
94. Voortbestaan van Kabinet na verkiesings
95. Eed of plegtige verklaring
96. Gedrag van Kabinetslede en Adjunkministers
97. Oordrag van werksaamhede
98. Tydelike opdra van funksies
99. Opdra van funksies
100. Nasionale ingryping in provinsiale administrasie
101. Uitvoerende besluite
102. Voorstelle van wantroue

HOOFSTUK 6
PROVINSIES

103. Provinsies
104. Wetgewende gesag van provinsies
105. Samestelling en verkiesing van provinsiale wetgewers
106. Lidmaatskap
107. Eed of plegige verklaring
108. Duur van provinsiale wetgewers
109. Ontbinding van provinsiale wetgewers voor verstryking van termyn
110. Sittings en resesse
111. Speakers en Adjunkspeakers
112. Besluite
113. Vaste afgevaardigdes se regte in provinsiale wetgewers
114. Bevoegdhede van provinsiale wetgewers
115. Getuienis of inligting voor provinsiale wetgewers
116. Interne reëlings, verrigtinge en prosedures van provinsiale wetgewers
117. Voorreg
118. Publieke toegang tot en betrokkenheid in provinsiale wetgewers
119. Indiening van Wetsontwerpe
120. Geldwetsontwerpe
121. Bekragtiging van Wetsontwerpe
122. Aansoek by Konstitusionele Hof deur lede
123. Publikasie van provinsiale Wette
124. Veilige bewaring van provinsiale Wette
125. Uitvoerende gesag van provinsies
126. Opdra van werksaamhede
127. Bevoegdhede en funksies
128. Verkiesing van Premiers
129. Aanvaarding van amp deur Premiers
130. Ampstermyn en ontheffing van Premiers
131. Waarnemende Premiers
132. Uitvoerende Rade
133. Aanspreeklikheid en verantwoordelikhede
134. Voortbestaan van Uitvoerende Rade na verkiesings
135. Eed of plegtige verklaring
136. Gedrag van lede van Uitvoerende Rade
137. Oordrag van werksaamhede
138. Tydelike opdra van werksaamhede
139. Provinsiale ingryping in plaaslike regering
140. Uitvoerende besluite
141. Voorstelle van wantroue
142. Aanname van provinsiale grondwette
143. Inhoud van provinsiale grondwette
144. Sertifisering van provinsiale grondwette
145. Ondertekening, publikasie en veilige bewaring van provinsiale grondwette
146. Teenstrydighede tussen nasionale en provinsiale wetgewing
147. Ander wetsteenstrydighede
148. Wetsteenstrydighede wat nie opgelos kan word nie
149. Status van wetgewing wat nie voorrang geniet nie
150. Uitleg van wetsteenstrydighede

HOOFSTUK 7
PLAASLIKE REGERING

151. Status van munisipaliteite
152. Oogmerke van plaaslike regering
153. Ontwikkelingspligte van munisipaliteite
154. Munisipaliteite in regering van samewerking
155. Instelling van munisipaliteite
156. Bevoegdhede en funksies van munisipaliteite
157. Samestelling en verkiesing van Munisipale Rade
158. Lidmaatskap van Munisipale Rade
159. Termyne van Munisipale Rade
160. Interne prosedures
161. Voorreg
162. Publikasie van munisipale verordeninge
163. Georganiseerde plaaslike regering
164. Ander aangeleenthede

HOOFSTUK 8
HOWE EN REGSPLEGING

165. Regsprekende gesag
166. Regstelsel
167. Konstitusionele Hof
168. Hoogste Hof van Appèl
169. Hoë Howe
170. Landdroshowe en ander howe
171. Hofprosedures
172. Bevoegdhede van howe in grondwetlike aangeleenthede
173. Inherente bevoegdheid
174. Aanstelling van regterlike beamptes
175. Waarnemende regters
176. Ampstermyne en vergoeding
177. Ontheffing
178. Regterlike Dienskommissie
179. Vervolgingsgesag
180. Ander aangeleenthede betreffende regspleging

HOOFSTUK 9
STAATSINSTELLINGS TER ONDERSTEUNING VAN GRONDWETLIKE DEMOKRASIE

181. Instelling en bepalende beginsels
182. Funksies van Openbare Beskermer
183. Ampstermyn
184. Funksies van Menseregtekommissie
185. Funksies van Kommissie
186. Samestelling van Kommissie
187. Funksies van Kommissie vir Geslagsgelykheid
188. Werksaamhede van Ouditeur-generaal
189. Ampstermyn
190. Funksies van Verkiesingskommissie
191. Samestelling van Verkiesingskommissie
192. Uitsaaiowerheid
193. Aanstellings
194. Ampsontheffing

HOOFSTUK 10
OPENBARE ADMINISTRASIE

195. Basiese waardes en beginsels wat openbare administrasie beheers
196. Staatsdienskommissie
197. Staatsdiens

HOOFSTUK 11
VEILIGHEIDSDIENSTE

198. Grondliggende beginsels
199. Instelling, struktuur en optrede van veiligheidsdienste
200. Weermag
201. Politieke verantwoordelikheid
202. Bevel oor weermag
203. Staat van nasionale verdediging
204. Burgerlike sekretariaat vir verdediging
205. Polisiediens
206. Politieke verantwoordelikheid
207. Beheer oor polisiediens
208. Burgerlike sekretariaat vir polisie
209. Instelling van en beheer oor intelligensiedienste
210. Bevoegdhede, funksies en monitering

HOOFSTUK 12
TRADISIONELE LEIERS

211. Erkenning
212. Rol van tradisionele leiers

HOOFSTUK 13
FINANSIES

213. Nasionale Inkomstefonds
214. Billike verdeling en toekennings van inkomste
215. Nasionale, provinsiale en munisipale begrotings
216. Tesouriebeheer
217. Verkryging
218. Regeringswaarborge
219. Besoldiging van persone wat openbare ampte beklee
220. Instelling en werksaamhede
221. Aanstelling en ampstermyn van lede
222. Verslae
223. Instelling
224. Hoofoogmerk
225. Bevoegdhede en werksaamhede
226. Provinsiale Inkomstefondse
227. Nasionale befondsingsbronne van provinsiale en plaaslike regering
228. Provinsiale belastings
229. Munisipale fiskale bevoegdhede en funksies
230. Provinsiale lenings
230A. Munisipale lenings

HOOFSTUK 14
ALGEMENE BEPALINGS

231. Internasionale ooreenkomste
232. Volkeregtelike gewoontereg
233. Toepassing van volkereg
234. Handveste van Regte
235. Selfbeskikking
236. Befondsing vir politieke partye
237. Getroue nakoming van verpligtinge
238. Agentskap en delegering
239. Woordomskrywings
240. Teenstrydighede tussen verskillende tekste
241. Oorgangsreëlings
242. Herroeping van wette
243. Kort titel en inwerkingtreding
Bylae 1. Nasionale Vlag
Bylae 1A Geografiese Gebiede van Provinsies
Bylae 2. Ampsede en Plegtige Verklarings
Bylae 3. Verkiesingsprosedures
Bylae 4. Funksionele Gebiede van Konkurrente Nasionale en Provinsiale Wetgewende Bevoegdheid
Bylae 5. Funksionele Gebiede van Eksklusiewe Provinsiale Wetgewende Bevoegdheid
Bylae 6. Oorgangsreëlings
Bylae 6A. Behoud van lidmaatskap van Nasionale Vergadering of provinsiale wetgewer, na ’n verandering van partylidmaatskap, samesmeltings tussen partye, onderverdeling van partye en onderverdeling en samesmelting van partye
Bylae 6B. Verlies of behoud van lidmaatskap van Munisipale Rade, na ’n verandering van partylidmaatskap, samesmeltings tussen partye, onderverdeling van partye en onderverdeling en samesmelting van partye, en vul van vakatures
Bylae 7. Wette Herroep

HOOFSTUK 1
GRONDLIGGENDE BEPALINGS
1. Republiek van Suid-Afrika.—Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:
(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.
(b) Nierassigheid en nieseksisme.
(c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.
(d) Algemene stemreg vir volwassenes, ’n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en ’n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.
2. Oppergesag van Grondwet.—Hierdie Grondwet is die hoogste reg van die Republiek; enige regsvoorskrif of optrede daarmee onbestaanbaar, is ongeldig, en die verpligtinge daardeur opgelê, moet nagekom word.
3. Burgerskap.—(1) Daar is ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse burgerskap.
(2) Alle burgers is in gelyke mate—
(a) geregtig op die regte, voorregte en voordele van burgerskap; en
(b) onderworpe aan die pligte en verantwoordelikhede van burgerskap.
(3) Nasionale wetgewing moet voorsiening maak vir die verkryging, verlies en herverlening van burgerskap.
4. Nasionale lied.—Die nasionale lied van die Republiek word deur die President by proklamasie bepaal.
5. Nasionale vlag.—Die nasionale vlag van die Republiek is swart, goud, groen, wit, rooi en blou, soos in Bylae 1 beskryf en geskets.
6. Tale.—(1) Die amptelike tale van die Republiek is Sesotho sa Leboa, Sesotho, Setswana, siSwati, Tshivenda, Xitsonga, Afrikaans, English, isiNdebele, isiXhosa en isiZulu.
(2) Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.
(3) (a) Die nasionale regering en provinsiale regerings kan enige bepaalde amptelike tale vir regeringsdoeleindes aanwend, met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie; maar die nasionale regering en elke provinsiale regering moet minstens twee amptelike tale gebruik.
(b) Munisipaliteite moet die taalgebruike en voorkeure van hul inwoners in aanmerking neem.
(4) Die nasionale regering en provinsiale regerings moet deur wetgewende en ander maatreëls hul gebruik van amptelike tale reël en monitor. Sonder afbreuk aan die bepalings van subartikel (2) moet alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word.
(5) ’n PanSuid-Afrikaanse Taalraad deur nasionale wetgewing ingestel, moet—
(a) die ontwikkeling en gebruik bevorder en omstandighede skep vir die ontwikkeling en gebruik van—
(i) alle amptelike tale;
(ii) die Khoi, Nama en Santale; en
(iii) gebaretaal; en
(b) respek bevorder en verseker vir—
(i) alle tale wat algemeen deur gemeenskappe in Suid-Afrika gebruik word, met inbegrip van Duits, Grieks, Goedjarati, Hindi, Portugees, Tamil, Teloegoe en Oerdoe; en
(ii) Arabies, Hebreeus, Sanskrit en ander tale wat in Suid-Afrika vir godsdiensdoeleindes gebruik word.
HOOFSTUK 2
HANDVES VAN REGTE
7. Regte.—(1) Hierdie Handves van Regte is ’n hoeksteen van die demokrasie in Suid-Afrika. Dit verskans die regte van alle mense in ons land en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.
(2) Die Staat moet die regte in die Handves van Regte eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik.
(3) Die regte in die Handves van Regte is onderworpe aan die beperkings in artikel 36 of elders in die Handves vervat of genoem.
8. Toepassing.—(1) Die Handves van Regte is van toepassing op die totale reg en bind die wetgewende, die uitvoerende en die regsprekende gesag en alle staatsorgane.
(2) ’n Bepaling van die Handves van Regte bind ’n natuurlike of ’n regspersoon indien, en in die mate waarin, dit toepasbaar is met inagneming van die aard van die reg en die aard van enige plig deur die reg opgelê.
(3) By die toepassing van ’n bepaling van die Handves van Regte op ’n natuurlike of regspersoon ingevolge subartikel (2)—
(a) moet ’n hof, ten einde gevolg te gee aan ’n reg in die Handves, die gemene reg toepas, of indien nodig ontwikkel, in die mate waarin wetgewing nie aan daardie reg gevolg gee nie; en
(b) kan ’n hof reëls van die gemene reg ontwikkel om die reg te beperk, mits die beperking in ooreenstemming met artikel 36 (1) is.
(4) ’n Regspersoon is geregtig op die regte in die Handves van Regte in die mate waarin die aard van die regte en die aard van daardie regspersoon dit vereis.
9. Gelykheid.—(1) Elkeen is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg.
(2) Gelykheid sluit die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede in. Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.
(3) Die staat mag nie regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand diskrimineer op een of meer gronde nie, met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.
*(4) Geen persoon mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde ingevolge subartikel (3) diskrimineer nie. Nasionale wetgewing moet verorden word om onbillike diskriminasie te voorkom of te belet.
(5) Diskriminasie op een of meer van die gronde in subartikel (3) vermeld, is onbillik, tensy daar vasgestel word dat die diskriminasie billik is.
10. Menswaardigheid.—Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word.
11. Lewe.—Elkeen het die reg op lewe.
12. Vryheid en sekerheid van die persoon.—(1) Elkeen het die reg op vryheid en sekerheid van die persoon, waarby inbegrepe is die reg om—
(a) nie arbitrêr of sonder gegronde rede vryheid ontneem te word nie;
(b) nie sonder verhoor aangehou te word nie;
(c) vry te wees van alle vorme van geweld van hetsy openbare hetsy private oorsprong;
(d) op geen wyse gemartel te word nie; en
(e) nie op ’n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf te word nie.
(2) Elkeen het die reg op liggaamlike en psigiese integriteit, waarby inbegrepe is die reg—
(a) om besluite oor voortplanting te neem;
(b) op sekerheid van en beheer oor die eie liggaam; en
(c) om nie sonder hul ingeligte toestemming aan mediese of wetenskaplike eksperimente onderwerp te word nie.
13. Slawerny, knegskap en dwangarbeid.—Niemand mag aan slawerny, knegskap of dwangarbeid onderwerp word nie.
14. Privaatheid.—Elkeen het die reg op privaatheid, waarby inbegrepe is die reg dat—
(a) hul persoon of woning nie deursoek word nie;
(b) hul eiendom nie deursoek word nie;
(c) daar nie op hul besittings beslag gelê word nie; of
(d) daar nie op die privaatheid van hul kommunikasies inbreuk gemaak word nie.
15. Vryheid van godsdiens, oortuiging en mening.—(1) Elkeen het die reg op vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening.
(2) Godsdiensbeoefening kan by staats- of staatsondersteunde instellings geskied, mits—
(a) daardie beoefening reëls nakom wat deur die tersaaklike openbare gesag gemaak is;
(b) dit op billike grondslag geskied; en
(c) bywoning daarvan vry en vrywillig is.
(3) (a) Hierdie artikel belet nie wetgewing wat erkenning verleen aan—
(i) huwelike wat aangegaan is kragtens enige tradisie, of ’n stelsel van godsdiens-, persone- of familiereg nie; of
(ii) stelsels van persone- en familiereg kragtens enige tradisie, of wat nagevolg word deur persone wat ’n besondere godsdiens aanhang nie.
(b) Erkenning ingevolge paragraaf (a) moet met hierdie artikel en die ander bepalings van die Grondwet bestaanbaar wees.
16. Vryheid van uitdrukking.—(1) Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is—
(a) die vryheid van die pers en ander media;
(b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;
(c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en
(d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.
(2) Die reg in subartikel (1) omvat nie—
(a) propaganda vir oorlog nie;
(b) die aanstigting van dreigende geweld nie; of
(c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.
17. Vergadering, betoging, linievorming en petisie.—Elkeen het die reg om vreedsaam en ongewapen te vergader, te betoog, ’n betooglinie te vorm en petisies voor te lê.
18. Vryheid van assosiasie.—Elkeen het die reg op vryheid van assosiasie.
19. Politieke regte.—(1) Dit staan elke burger vry om politieke keuses te doen, waarby inbegrepe is die reg om—
(a) ’n politieke party te stig;
(b) deel te neem aan die bedrywighede van, of lede te werf vir, ’n politieke party; en
(c) hulle vir ’n politieke party of saak te beywer.
(2) Elke burger het die reg op vrye, regverdige en gereelde verkiesings vir enige wetgewende liggaam wat ingevolge die Grondwet ingestel is.
(3) Elke volwasse burger het die reg om—
(a) te stem in verkiesings vir enige wetgewende liggaam wat ingevolge die Grondwet ingestel is, en om dit in die geheim te doen; en
(b) ’n kandidaat vir ’n openbare amp te wees en, indien verkies, die amp te beklee.
20. Burgerskap.—Geen burger mag burgerskap ontneem word nie.
21. Vryheid van beweging en verblyf.—(1) Elkeen het die reg op vryheid van beweging.
(2) Elkeen het die reg om die Republiek te verlaat.
(3) Elke burger het die reg om die Republiek binne te kom, daarin aan te bly, en op enige plek daarin verblyf te neem.
(4) Elke burger het die reg op ’n paspoort.
22. Vryheid van bedryf, beroep en professie.—Elke burger het die reg om vrylik ’n bedryf, beroep of professie te kies. Die beoefening van ’n bedryf, beroep of professie kan deur die reg gereguleer word.
23. Arbeidsverhoudinge.—(1) Elkeen het die reg op billike arbeidspraktyke.
(2) Elke werker het die reg om—
(a) ’n vakbond te stig en daarby aan te sluit;
(b) aan die bedrywighede en programme van ’n vakbond deel te neem, en
(c) te staak.
(3) Elke werkgewer het die reg om—
(a) ’n werkgewersorganisasie te stig en daarby aan te sluit; en
(b) aan die bedrywighede en programme van ’n werkgewersorganisasie deel te neem.
(4) Elke vakbond en elke werkgewersorganisasie het die reg om—
(a) sy eie administrasie, programme en bedrywighede te bepaal;
(b) te organiseer; en
(c) ’n federasie te stig en daarby aan te sluit.
(5) Elke vakbond, werkgewersorganisasie en werkgewer het die reg om aan kollektiewe bedinging mee te doen. Nasionale wetgewing kan verorden word om kollektiewe bedinging te reguleer. In die mate waarin die wetgewing ’n reg in hierdie Hoofstuk beperk, moet die beperking aan artikel 36 (1) voldoen.
(6) Nasionale wetgewing kan erkenning verleen aan vakbondsekerheidsreëlings wat in kollektiewe ooreenkomste vervat is. In die mate waarin die wetgewing ’n reg in hierdie Hoofstuk beperk, moet die beperking aan artikel 36 (1) voldoen.
24. Omgewing.—Elkeen het die reg—
(a) op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie; en
(b) op die beskerming van die omgewing, ter wille van huidige en toekomstige geslagte, deur redelike wetgewende en ander maatreëls wat—
(i) besoedeling en ekologiese agteruitgang voorkom;
(ii) bewaring bevorder; en
(iii) die ekologies volhoubare ontwikkeling en aanwending van natuurlike hulpbronne verseker, terwyl dit regverdigbare ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling bevorder.
25. Eiendom.—(1) Niemand mag eiendom ontneem word nie behalwe ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif, en geen regsvoorskrif mag arbitrêre ontneming van eiendom veroorloof nie.
(2) Eiendom mag slegs ingevolge ’n algemeen geldende regsvoorskrif onteien word—
(a) vir ’n openbare doel of in die openbare belang; en
(b) onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word, aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is.
(3) Die bedrag van die vergoeding en die tyd en wyse van betaling moet regverdig en billik wees, en moet ’n billike ewewig toon tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, met inagneming van alle tersaaklike omstandighede, met inbegrip van—
(a) die huidige gebruik van die eiendom;
(b) die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom;
(c) die markwaarde van die eiendom;
(d) die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitale verbetering van die eiendom; en
(e) die doel van die onteiening.
(4) By die toepassing van hierdie artikel—
(a) beteken die openbare belang ook die nasie se verbintenis tot grondhervorming, en tot hervormings om billike toegang tot al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne te bewerkstellig; en
(b) is eiendom nie tot grond beperk nie.
(5) Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om, binne sy beskikbare middele, toestande te skep wat burgers in staat stel om op ’n billike grondslag toegang tot grond te verkry.
(6) ’n Persoon of gemeenskap wie se besitreg van grond regsonseker is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, is geregtig, in die mate wat deur ’n Parlementswet bepaal word, op óf besitreg wat regseker is óf gelykwaardige vergoeding.
(7) ’n Persoon of gemeenskap wat na 19 Junie 1913 die besit van eiendom ontneem is as gevolg van wette of praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, is geregtig, in die mate wat deur ’n Parlementswet bepaal word, op óf teruggawe van daardie eiendom óf billike vergoeding.
(8) Geen bepaling van hierdie artikel verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond, water en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie, op voorwaarde dat enige afwyking van die bepalings van hierdie artikel in ooreenstemming met die bepalings van artikel 36 (1) is.
(9) Die Parlement moet die wetgewing genoem in subartikel (6) aanneem.
26. Behuising.—(1) Elkeen het die reg op toegang tot geskikte behuising.
(2) Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om binne sy beskikbare middele hierdie reg in toenemende mate te verwesenlik.
(3) Sonder ’n hofbevel wat na oorweging van al die tersaaklike omstandighede toegestaan is, mag niemand uit hul woning gesit word en mag niemand se woning gesloop word nie. Geen wetgewing mag arbitrêre uitsettings veroorloof nie.
27. Gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike sekerheid.—(1) Elkeen het die reg op toegang tot—
(a) gesondheidsorgdienste, met inbegrip van reproduktiewe gesondheidsorg;
(b) voldoende voedsel en water; en
(c) maatskaplike sekerheid, met inbegrip van gepaste maatskaplike bystand indien hulle nie in staat is om hulself en hul afhanklikes te onderhou nie.
(2) Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om binne sy beskikbare middele elk van hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik.
(3) Niemand mag mediese noodbehandeling geweier word nie.
28. Kinders.—(1) Elke kind het die reg—
(a) op ’n naam en nasionaliteit vanaf geboorte;
(b) op gesinsorg of ouerlike sorg, of op gepaste alternatiewe sorg wanneer die kind uit die gesinsomgewing weggeneem word;
(c) op basiese voeding, skuiling, basiese gesondheidsorgdienste en maatskaplike dienste;
(d) om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word;
(e) om teen uitbuitende arbeidspraktyke beskerm te word;
( f ) om nie verplig of toegelaat te word om werk te verrig of dienste te lewer nie wat—
(i) onvanpas is vir ’n persoon van daardie kind se ouderdom; of
(ii) ’n risiko vir die kind se welsyn, opvoeding, liggaamlike of geestelike gesondheid of geestelike, morele of sosiale ontwikkeling inhou;
(g) om nie aangehou te word nie, behalwe as laaste uitweg, in watter geval, benewens die regte wat ’n kind kragtens artikels 12 en 35 geniet, die kind slegs vir die kortste gepaste tydperk aangehou mag word, en die reg het om—
(i) afsonderlik van aangehoudenes bo die ouderdom van 18 jaar aangehou te word; en
(ii) op ’n wyse behandel te word, en in omstandighede aangehou te word, wat met die kind se ouderdom rekening hou;
(h) om, in siviele verrigtinge wat die kind raak, deur die staat op staatskoste van ’n regspraktisyn voorsien te word indien dit andersins tot wesenlike onreg sou lei; en
(i) om nie regstreeks in gewapende stryd gebruik te word nie, en om in tye van gewapende stryd beskerm te word.
(2) ’n Kind se beste belang is van deurslaggewende belang in elke aangeleentheid wat die kind raak.
(3) In hierdie artikel beteken ,,kind” iemand onder die ouderdom van 18 jaar.
29. Onderwys.—(1) Elkeen het die reg—
(a) op basiese onderwys, met inbegrip van basiese onderwys vir volwassenes; en
(b) op verdere onderwys, wat die staat, deur middel van redelike maatreëls, in toenemende mate beskikbaar en toeganklik moet maak.
(2) Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van—
(a) billikheid;
(b) doenlikheid; en
(c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.
(3) Elkeen het die reg om op eie koste onafhanklike onderwysinstellings tot stand te bring en in stand te hou wat—
(a) nie op grond van ras diskrimineer nie;
(b) by die staat geregistreer is; en
(c) standaarde handhaaf wat nie minderwaardig is vergeleke met standaarde by vergelykbare openbare onderwysinstellings nie.
(4) Subartikel (3) sluit nie staatsubsidies aan onafhanklike onderwysinstellings uit nie.
30. Taal en kultuur.—Elkeen het die reg om die taal van eie keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van eie keuse deel te neem, maar niemand wat hierdie regte uitoefen, mag dit doen op ’n wyse wat met enige bepalings van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
31. Kultuur, godsdiens- en taalgemeenskappe.—(1) Persone wat aan ’n kultuur-, godsdiens- of taalgemeenskap behoort, mag nie die reg ontsê word om, saam met ander lede van daardie gemeenskap—
(a) hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen en hul taal te gebruik nie; en
(b) kultuur-, godsdiens- en taalverenigings en ander organe van die burgerlike gemeenskap te vorm, in stand te hou en daarby aan te sluit nie.
(2) Die regte in subartikel (1) mag nie uitgeoefen word op ’n wyse wat met enige bepaling van die Handves van Regte onbestaanbaar is nie.
*32. Toegang tot inligting.—(1) Elkeen het die reg op toegang tot—
(a) enige inligting wat deur die staat gehou word; en
(b) enige inligting wat deur ’n ander persoon gehou word en wat vir die uitoefening of beskerming van enige regte benodig word.
(2) Nasionale wetgewing moet verorden word om aan hierdie reg gevolg te gee, en kan voorsiening maak vir redelike maatreëls om die administratiewe en finansiële las op die staat te verlig.
*33. Regverdige administratiewe optrede.—(1) Elkeen het die reg op administratiewe optrede wat regmatig, redelik en prosedureel billik is.
(2) Elkeen wie se regte nadelig geraak is deur administratiewe optrede het die reg op die verskaffing van skriftelike redes.
(3) Nasionale wetgewing moet verorden word om aan hierdie regte gevolg te gee, en moet—
(a) voorsiening maak vir die hersiening van administratiewe optrede deur ’n hof of, waar dit gepas is, ’n onafhanklike en onpartydige tribunaal;
(b) die staat verplig om aan die regte in subartikels (1) en (2) gevolg te gee; en
(c) ’n doeltreffende administrasie bevorder.
34. Toegang tot howe.—Elkeen het die reg dat ’n geskil wat deur die toepassing van die reg besleg kan word, in ’n billike openbare verhoor beslis word voor ’n hof of, waar dit gepas is, ’n ander onafhanklike en onpartydige tribunaal of forum.
35. Gearresteerde, aangehoue en beskuldigde persone.—(1) Elkeen wat weens ’n beweerde oortreding gearresteer word, het die reg om—
(a) te swyg;
(b) onverwyld verwittig te word—
(i) van die reg om te swyg; en
(ii) van die gevolge indien daar nie geswyg word nie;
(c) nie verplig te word om ’n bekentenis of erkenning te doen wat as getuienis teen daardie persoon gebruik sou kon word nie;
(d) sou gou as wat redelikerwys moontlik is, voor ’n hof gebring te word, maar nie later nie as—
(i) 48 uur na die arrestasie; of
(ii) die einde van die eerste hofdag na die verstryking van die 48 uur, as die 48 uur buite gewone hofure, of op ’n dag wat nie ’n gewone hofdag is nie, verstryk;
(e) by die eerste verskyning in ’n hof na die arrestasie, aangekla te word of verwittig te word van die rede vir die voortsetting van die aanhouding, of vrygelaat te word; en
( f ) behoudens redelike voorwaardes, uit aanhouding vrygelaat te word indien die belang van geregtigheid dit toelaat.
(2) Elkeen wat aangehou word, met inbegrip van elke gevonniste gevangene, het die reg—
(a) om onverwyld van die rede vir die aanhouding verwittig te word;
(b) op ’n regspraktisyn van eie keuse en om met daardie regspraktisyn te konsulteer, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word;
(c) om deur die staat op staatskoste van ’n regspraktisyn voorsien te word indien dit andersins tot wesenlike onreg sou lei, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word;
(d) om die regmatigheid van die aanhouding persoonlik voor ’n hof te betwis, en vrygelaat te word indien die aanhouding onregmatig is;
(e) op omstandighede van aanhouding wat met menswaardigheid rekening hou, met inbegrip van, minstens, oefening en die voorsiening, op staatskoste, van toereikende akkommodasie, voeding, leesstof en mediese behandeling; en
( f ) om in verbinding te tree met, en besoek te word deur, daardie persoon se—
(i) gade of lewensmaat;
(ii) naasbestaandes;
(iii) godsdiensraadgewer van eie keuse; en
(iv) mediese praktisyn van eie keuse.
(3) Elke beskuldigde persoon het die reg op ’n billike verhoor, waarby inbegrepe is die reg—
(a) om van die aanklag verwittig te word in voldoende besonderhede om daarop te antwoord;
(b) om genoeg tyd en geriewe te hê om ’n verweer voor te berei;
(c) op ’n openbare verhoor voor ’n gewone hof;
(d) op ’n verhoor wat sonder onredelike vertraging begin en afgehandel word;
(e) om by die verhoor teenwoordig te wees;
( f ) op ’n regspraktisyn van eie keuse en om deur daardie regspraktisyn verteenwoordig te word, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word;
(g) om deur die staat op staatskoste van ’n regspraktisyn voorsien te word indien dit andersins tot wesenlike onreg sou lei, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word;
(h) om onskuldig geag te word, te swyg, en nie gedurende die verrigtinge te getuig nie;
(i) om getuienis aan te voer en te betwis;
( j) om nie verplig te word om self-inkriminerende getuienis af te lê nie;
(k) om verhoor te word in ’n taal wat die beskuldigde persoon verstaan of, indien dit nie doenlik is nie, dat die verrigtinge in daardie taal getolk word;
(l) om nie skuldig bevind te word weens ’n handeling of versuim wat ten tyde van die handeling of versuim ingevolge óf die nasionale reg óf die volkereg nie ’n oortreding was nie;
(m) om nie verhoor te word weens ’n oortreding ten opsigte van ’n handeling of versuim ten opsigte waarvan daardie persoon voorheen vrygespreek of skuldig bevind is nie;
(n) op die voordeel van die ligste van die voorgeskrewe strawwe indien die straf wat vir die oortreding voorgeskryf word, verander is tussen die tydstip waarop die oortreding gepleeg is en die tydstip van vonnis; en
(o) op appèl na, of hersiening deur, ’n hoër hof.
(4) Wanneer hierdie artikel vereis dat inligting aan ’n persoon verstrek word, moet die inligting verstrek word in ’n taal wat die persoon verstaan.
(5) Getuienis wat verkry is op ’n wyse wat enige reg in die Handves van Regte skend, moet uitgesluit word indien toelating van daardie getuienis die verhoor onbillik sou maak of andersins vir die regspleging nadelig sou wees.
36. Beperking van regte.—(1) Die regte in die Handves van Regte kan slegs kragtens ’n algemeen geldende regsvoorskrif beperk word in die mate waarin die beperking redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, met inagneming van alle tersaaklike faktore, met inbegrip van—
(a) die aard van die reg;
(b) die belangrikheid van die doel van die beperking;
(c) die aard en omvang van die beperking;
(d) die verband tussen die beperking en die doel daarvan; en
(e) ’n minder beperkende wyse om die doel te bereik.
(2) Behalwe soos in subartikel (1) of in enige ander bepaling van die Grondwet bepaal, mag geen regsvoorskrif enige reg wat in die Handves van Regte verskans is, beperk nie.
37. Noodtoestande.—(1) ’n Noodtoestand mag slegs ingevolge ’n Parlementswet verklaar word, en slegs wanneer
(a) die voortbestaan van die nasie deur oorlog, ’n inval, algemene oproer, wanorde, ’n natuurramp of ’n ander openbare noodgeval bedreig word; en
(b) die verklaring nodig is om die vrede en orde te herstel.
(2) ’n Verklaring van ’n noodtoestand, en enige wetgewing verorden of ander stappe gedoen na aanleiding van daardie verklaring, kan van krag wees slegs—
(a) vooruitwerkend; en
(b) vir hoogstens 21 dae vanaf die datum van die verklaring, tensy die Nasionale Vergadering besluit om die verklaring te verleng. Die Vergadering kan ’n verklaring van ’n noodtoestand vir hoogstens drie maande op ’n keer verleng. Die eerste verlenging van die noodtoestand moet geskied by wyse van ’n besluit wat aangeneem word met ’n ondersteunende stem van ’n meerderheid van die lede van die Vergadering. Enige daaropvolgende verlenging moet geskied by wyse van ’n besluit wat aangeneem word met ’n ondersteunende stem van minstens 60 persent van die lede van die Vergadering. ’n Besluit ingevolge hierdie paragraaf kan slegs na ’n openbare debat in die Vergadering aangeneem word.
(3) Enige bevoegde hof kan beslis oor die geldigheid van—
(a) ’n verklaring van ’n noodtoestand;
(b) enige verlenging van ’n verklaring van ’n noodtoestand; of
(c) enige wetgewing verorden, of ander stappe gedoen, na aanleiding van ’n verklaring van ’n noodtoestand.
(4) Enige wetgewing wat na aanleiding van ’n verklaring van ’n noodtoestand verorden word, mag die Handves van Regte aantas slegs in die mate waarin—
(a) die aantasting streng deur die noodtoestand vereis word;
en
(b) die wetgewing—
(i) bestaanbaar is met die Republiek se verpligtinge kragtens die volkereg wat op noodtoestande betrekking het;
(ii) so gou as wat na die verordening daarvan redelikerwys moontlik is, in die nasionale Staatskoerant gepubliseer word.
(5) Geen Parlementswet wat ’n verklaring van ’n noodtoestand magtig, en geen wetgewing wat verorden is of ander stappe wat gedoen is na aanleiding van ’n verklaring, verleen toestemming vir of magtig—
(a) die vrywaring van die staat, of enige persoon, ten opsigte van enige onregmatige handeling nie;
(b) enige aantasting van hierdie artikel nie; of
(c) enige aantasting van ’n artikel genoem in kolom 1 van die Tabel van Nie-aantasbare Regte, in die mate teenoor daardie artikel in kolom 3 van die Tabel aangedui nie.
Tabel van Nie-aantasbare Regte

1
Artikelnommer 2
Opskrif van artikel 3
Mate waarin die reg nie aantasbaar is nie
9 Gelykheid Met betrekking tot onbillike diskriminasie uitsluitlik op grond van ras, kleur, etniese of sosiale herkoms, geslag, godsdiens of taal
10 Menswaardigheid Geheel en al
11 Lewe Geheel en al
12 Vryheid en sekerheid van die persoon Met betrekking tot subartikels (1) (d) en (e) en (2) (c).
13 Slawerny, knegskap en dwangarbeid Met betrekking tot slawerny en knegskap
28 Kinders Met betrekking tot:
— subartikel (1) (d) en (e);
— die regte in subparagrawe (i) en (ii) van subartikel (1) (g); en
— subartikel 1 (i) ten opsigte van kinders van 15 jaar en jonger
35 Gearresteerde, aangehoue en beskuldigde persone Met betrekking tot:
— subartikels (1) (a), (b) en (c) en (2) (d);
— die regte in paragrawe (a) tot (o) van subartikel (3), uitgesonderd paragraaf (d);
— subartikel (4); en
— subartikel (5) ten opsigte van die uitsluiting van getuienis indien toelating van daardie getuienis die verhoor onbillik sou maak.

(6) Wanneer iemand sonder verhoor aangehou word na aanleiding van ’n aantasting van regte voortspruitend uit ’n verklaring van ’n noodtoestand, moet die volgende voorwaardes nagekom word:
(a) Daar moet so gou as wat redelikerwys moontlik is met ’n volwasse gesinslid of vriend van die aangehoudene in aanraking gekom word, en daardie gesinslid of vriend moet verwittig word dat die persoon aangehou word.
(b) ’n Kennisgewing moet binne vyf dae nadat die persoon in aanhouding geneem is in die nasionale Staatskoerant gepubliseer word met vermelding van die aangehoudene se naam en plek van aanhouding en die noodmaatreël waarkragtens daardie persoon aangehou word.
(c) Die aangehoudene moet toegelaat word om ’n mediese praktisyn te kies en te eniger redelike tyd deur daardie mediese praktisyn besoek te word.
(d) Die aangehoudene moet toegelaat word om ’n regsverteenwoordiger te kies en te eniger redelike tyd deur daardie regsverteenwoordiger besoek te word.
(e) ’n Hof moet die aanhouding so gou as wat redelikerwys moontlik is, maar nie later nie as 10 dae na die datum waarop die persoon in aanhouding geneem is, hersien, en die hof moet die aangehoudene vrylaat tensy dit noodsaaklik is om die aanhouding voort te sit ten einde die vrede en orde te herstel.
( f ) ’n Aangehoudene wat nie ingevolge ’n hersiening kragtens paragraaf (e) of ingevolge ’n hersiening kragtens hierdie paragraaf vrygelaat word nie, kan te eniger tyd na verstryking van 10 dae na die vorige hersiening by ’n hof aansoek doen om ’n verdere hersiening van die aanhouding, en die hof moet die aangehoudene vrylaat tensy dit steeds noodsaaklik is om die aanhouding voort te sit ten einde die vrede en orde te herstel.
(g) Die aangehoudene moet toegelaat word om persoonlik te verskyn voor enige hof wat die aanhouding oorweeg, om by daardie verrigtinge deur ’n regspraktisyn verteenwoordig te word, en om vertoë teen voortgesette aanhouding te rig.
(h) Die staat moet skriftelike redes om die voortgesette aanhouding van die aangehoudene te regverdig aan die hof voorlê, en moet minstens twee dae voordat die hof die aanhouding hersien, ’n afskrif van daardie redes aan die aangehoudene verskaf.
(7) Indien ’n hof ’n aangehoudene vrylaat, mag daardie persoon nie weer op dieselfde gronde aangehou word nie tensy die staat voor die heraanhouding goeie redes daarvoor voor ’n hof aantoon.
(8) Subartikels (6) en (7) is nie van toepassing op persone wat nie Suid-Afrikaanse burgers is nie en wat na aanleiding van ’n internasionale gewapende stryd aangehou word. In plaas daarvan moet die staat voldoen aan die standaarde wat die Republiek bind kragtens die internasionale humanitêre reg wat op die aanhouding van sodanige persone betrekking het.
38. Afdwinging van regte.—Iemand in hierdie artikel genoem, het die reg om ’n bevoegde hof te nader en aan te voer dat daar op ’n reg in die Handves van Regte inbreuk gemaak is of dat so ’n inbreukmaking dreig, en die hof kan gepaste regshulp verleen, met inbegrip van ’n verklaring van regte. Die persone wat ’n hof kan nader, is—
(a) iemand wat in eie belang optree;
(b) iemand wat optree namens iemand anders wat nie in eie naam kan optree nie;
(c) iemand wat as ’n lid van, of in die belang van, ’n groep of klas persone optree;
(d) iemand wat in die openbare belang optree; en
(e) ’n vereniging wat in die belang van sy lede optree.
39. Uitleg van Handves van Regte.—(1) By die uitleg van die Handves van Regte—
(a) moet ’n hof, tribunaal of forum die waardes wat ’n oop en demokratiese samelewing gebaseer op menswaardigheid, gelykheid en vryheid ten grondslag lê, bevorder;
(b) moet ’n hof, tribunaal of forum die volkereg is ag neem; en
(c) kan ’n hof, tribunaal of forum buitelandse reg in ag neem.
(2) By die uitleg van enige wetgewing, en by die ontwikkeling van die gemene reg of gewoontereg, moet elke hof, tribunaal of forum die gees, strekking en oogmerke van die Handves van Regte bevorder.
(3) Die Handves van Regte ontken nie die bestaan van ander regte of vryhede wat deur die gemene reg, gewoontereg of wetgewing erken of verleen word nie, in die mate waarin daardie regte of vryhede met die Handves bestaanbaar is.
HOOFSTUK 3
REGERING VAN SAMEWERKING
40. Regering van die Republiek.—(1) Regering in die Republiek bestaan uit nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van regering wat onderskeidend onderling afhanklik en onderling verbonde is.
(2) Alle regeringsfere moet die beginsels in hierdie Hoofstuk handhaaf en nakom en moet hul werksaamhede binne die perke wat deur die Hoofstuk bepaal word, verrig.
41. Beginsels van regering van samewerking en inter-regeringsbetrekkinge.—(1) Alle regeringsfere en alle staatsorgane binne elke sfeer moet—
(a) die vrede, die nasionale eenheid en die onverdeelbaarheid van die Republiek bewaar;
(b) die welsyn van die mense van die Republiek verseker;
(c) doeltreffende, deursigtige, verantwoordingspligtige en samehangende regering vir die Republiek as geheel voorsien;
(d) getrou wees aan die Grondwet, die Republiek en sy mense;
(e) die grondwetlike status, instellings, bevoegdhede en funksies van regering in die ander sfere eerbiedig;
( f ) hulself geen bevoegdheid of funksies toe-eien behalwe dié wat ingevolge die Grondwet aan hulle opgedra is nie;
(g) hul bevoegdhede uitoefen en hul funksies verrig op ’n wyse wat nie inbreuk maak op die geografiese, funksionele of institusionele integriteit van regering in ’n ander sfeer nie; en
(h) in wedersydse vertroue en goeie trou met mekaar saamwerk deur—
(i) vriendskaplike betrekkinge te bevorder;
(ii) mekaar te help en te ondersteun;
(iii) mekaar van inligting te voorsien, en met mekaar oorleg te pleeg, oor sake van gemeenskaplike belang;
(iv) hul optrede en wetgewing met mekaar te koördineer;
(v) by ooreengekome prosedures te hou; en
(vi) regsverrigtinge teen mekaar te vermy.
(2) ’n Parlementswet moet—
(a) strukture en instellings tot stand bring, of voorsiening maak vir strukture en instellings, om inter-regeringsbetrekkinge te bevorder en te vergemaklik; en
(b) voorsiening maak vir gepaste meganismes en prosedures om die beslegting van interregeringsgeskille te vergemaklik.
(3) ’n Staatsorgaan wat in ’n interregeringsgeskil betrokke is, moet alle redelike pogings aanwend om die geskil te besleg deur middel van meganismes en prosedures wat vir dié doel voorsien is, en moet alle ander middele uitput voordat hy ’n hof nader om die geskil te besleg.
(4) Indien ’n hof nie tevrede is dat daar aan die voorskrifte van subartikel (3) voldoen is nie, kan hy ’n geskil na die betrokke staatsorgane terugverwys.
HOOFSTUK 4
DIE PARLEMENT
42. Samestelling van Parlement.—(1) Die Parlement bestaan uit—
(a) die Nasionale Vergadering; en
(b) die Nasionale Raad van Provinsies.
(2) Die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies neem aan die wetgewende proses deel op die wyse wat in die Grondwet uiteengesit word.
(3) Die Nasionale Vergadering word verkies om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker. Hy doen dit deur die President te kies, deur as ’n nasionale forum vir die openbare oorweging van sake te dien, deur wetgewing aan te neem en deur optrede van die uitvoerende gesag na te gaan en toesig daaroor uit te oefen.
(4) Die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig die provinsies ten einde te verseker dat provinsiale belange in die nasionale regeringsfeer in ag geneem word. Hy doen dit hoofsaaklik deur aan die nasionale wetgewende proses deel te neem en deur as ’n nasionale forum te dien vir die openbare oorweging van sake wat die provinsies raak.
(5) Die President kan die Parlement te eniger tyd vir ’n buitengewone sitting byeenroep om spesiale werksaamhede te verrig.
(6) Die setel van die Parlement is Kaapstad, maar ’n Parlementswet wat ooreenkomstig artikel 76 (1) en (5) verorden is, kan bepaal dat die setel van die Parlement elders is.
43. Wetgewende gesag van die Republiek.—In die Republiek berus die wetgewende gesag—
(a) van die nasionale regeringsfeer by die Parlement, soos in artikel 44 uiteengesit;
(b) van die provinsiale regeringsfeer by die provinsiale wetgewers, soos in artikel 104 uiteengesit; en
(c) van die plaaslike regeringsfeer by die Munisipale Rade, soos in artikel 156 uiteengesit.
44. Nasionale wetgewende gesag.—(1) Die nasionale wetgewende gesag soos dit by die Parlement berus—
(a) verleen aan die Nasionale Vergadering die bevoegdheid—
(i) om die Grondwet te wysig;
(ii) om wetgewing aan te neem met betrekking tot enige aangeleentheid, met inbegrip van ’n aangeleentheid binne ’n funksionele gebied in Bylae 4 vermeld, maar uitgesonderd, behoudens subartikel (2), ’n aangeleentheid binne ’n funksionele gebied in Bylae 5 vermeld; en
(iii) om enige van sy wetgewende bevoegdhede, uitgesonderd die bevoegdheid om die Grondwet te wysig, aan enige wetgewende liggaam in ’n ander regeringsfeer op te dra; en
(b) verleen aan die Nasionale Raad van Provinsies die bevoegdheid—
(i) om ooreenkomstig artikel 74 aan die wysiging van die Grondwet deel te neem;
(ii) om ooreenkomstig artikel 76 wetgewing aan te neem met betrekking tot enige aangeleentheid binne ’n funksionele gebied in Bylae 4 vermeld en enige ander aangeleentheid ten opsigte waarvan wetgewing ingevolge die Grondwet ooreenkomstig artikel 76 aangeneem moet word; en
(iii) om ooreenkomstig artikel 75 enige ander wetgewing te oorweeg wat deur die Nasionale Vergadering aangeneem is.
(2) Die Parlement kan, deur ooreenkomstig artikel 76 (1) wetgewing aan te neem, met betrekking tot ’n aangeleentheid wat val binne ’n funksionele gebied in Bylae 5 vermeld, ingryp wanneer dit nodig is om—
(a) nasionale veiligheid te handhaaf;
(b) ekonomiese eenheid te handhaaf;
(c) noodsaaklike nasionale standaarde te handhaaf;
(d) minimum standaarde wat vir die lewering van dienste nodig is, te bepaal; of
(e) onredelike optrede deur ’n provinsie wat nadelig is vir die belange van ’n ander provinsie of van die land as geheel, te voorkom.
(3) Wetgewing met betrekking tot ’n aangeleentheid wat redelikerwys nodig is vir, of verband hou met, die doeltreffende uitoefening van ’n bevoegdheid betreffende ’n aangeleentheid in Bylae 4 vermeld, is vir alle doeleindes wetgewing met betrekking tot ’n aangeleentheid in Bylae 4 vermeld.
(4) In die uitoefening van sy wetgewende gesag word die Parlement slegs deur die Grondwet gebind, en moet hy ooreenkomstig, en binne die perke van, die Grondwet optree.
197. Staatsdiens.—(1) Binne die openbare administrasie is daar ’n staatsdiens vir die Republiek, wat ingevolge nasionale wetgewing moet funksioneer en gestruktureer moet word, en wat die wettige beleid van die regering aan die bewind getrou moet uitvoer.
(2) Die bedinge en voorwaardes van indiensneming in die staatsdiens moet deur nasionale wetgewing gereël word. Werknemers is geregtig op ’n billike pensioen soos deur nasionale wetgewing gereël.
(3) Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat dié persoon ’n bepaalde politieke party of saak steun nie.
(4) Provinsiale regerings is verantwoordelik vir die werwing, aanstelling. bevordering, oorplasing en ontslag van lede van die staatsdiens in hul administrasies binne ’n raamwerk van eenvormige norme en standaarde wat op die staatsdiens van toepassing is.
239. Woordomskrywings.—In die Grondwet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken—
,,staatsorgaan”—
(a) enige staatsdepartement of administrasie in die nasionale, provinsiale of plaaslike regeringsfeer; of
(b) enige ander funksionaris of instelling—
(i) wat ingevolge die Grondwet of ’n provinsiale grondwet ’n bevoegdheid uitoefen of ’n funksie verrig; of
(ii) ingevolge wetgewing ’n openbare bevoegdheid uitoefen of ’n openbare funksie verrig, maar nie ook ’n hof of ’n regterlike beampte nie;

No comments: