Thursday, August 11, 2011

SARO Wet

WET OP DIE SUID-AFRIKAANSE RAAD VIR OPVOEDERS 31 VAN 2000

[GOEDGEKEUR OP 26 JULIE 2000] [DATUM VAN INWERKINGTREDING: 2 AUGUSTUS 2000]

(Engelse teks deur die President geteken)

WET

Om voorsiening te maak vir die voortbestaan van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders; opnuut voorsiening te maak vir die werksaamhede van genoemde raad; en opnuut voorsiening te maak vir die samestelling van genoemde raad; en om vir bykomstige aangeleenthede voorsiening te maak.

HOOFSTUK 1
UITLEG EN OOGMERKE VAN WET (aa 1-3)

[w31j2000a1]1 Woordomskrywing

In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken-

"georganiseerde beroep" alle vakbonde of federasies van vakbonde wat lede is van die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys;

"inrigting" 'n skool, inrigting vir verdere onderwys en opleiding of sentrum vir onderrig vir volwassenes;

"inrigting vir verdere onderwys en opleiding" 'n openbare of private inrigting vir verdere onderwys en opleiding omskryf in artikel 1 van die Wet op Verdere Onderwys en Opleiding, 1998 (Wet 98 van 1998), of enige tegniese kollege, jeugkollege, gemeenskapskollege, staatskollege of ander kollege wat geheel of gedeeltelik deur die staat befonds word;

"lid" 'n lid van die raad ingevolge artikel 6 aangestel;

"Minister" die Minister van Onderwys;

"opvoeder" 'n persoon in artikel 3 bedoel en wat ander persone onderrig, opvoed of oplei of wat professionele opvoedkundige dienste lewer, met inbegrip van professionele terapie en opvoedkundige sielkundige dienste, by 'n inrigting;

"raad" die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders in artikel 4 bedoel;

"sentrum vir onderrig van volwassenes" 'n openbare of private sentrum wat basiese onderrig aan volwassenes voorsien en waarvan die opvoeders in diens is ingevolge die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998);

"skool" 'n openbare of onafhanklike skool omskryf in artikel 1 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996).

[w31j2000a2]2 Oogmerke van Wet

Die oogmerke van hierdie Wet is om deur middel van die funksionering van die raad-

(a) vir die registrasie van opvoeders voorsiening te maak;

(b) die professionele ontwikkeling van opvoeders te bevorder; en

(c) etiese en professionele standaarde vir opvoeders te stel, in stand te hou en te beskerm.

[w31j2000a3]3 Toepassing van Wet

Hierdie Wet is van toepassing op alle opvoeders wat aangestel is-

(a) ingevolge die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998);

(b) ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996);

(c) by 'n onafhanklike skool;

(d) ingevolge die Wet op Verdere Onderwys en Opleiding, 1998 (Wet 98 van 1998);

(e) by 'n inrigting vir verdere onderwys en opleiding;

(f) by 'n sentrum vir onderrig vir volwassenes.

HOOFSTUK 2
VOORTBESTAAN, BEVOEGDHEDE EN PLIGTE, SAMESTELLING EN BESTUUR VAN RAAD (aa 4-20)

[w31j2000a4]4 Voortbestaan van raad

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders bedoel in artikel 27 van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998), bly as 'n regspersoon voortbestaan ondanks die herroeping van daardie artikel by artikel 28 van hierdie Wet.

[w31j2000a5]5 Bevoegdhede en pligte van raad

Behoudens hierdie Wet en die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 1996 (Wet 27 van 1996)-

(a) met betrekking tot die registrasie van opvoeders-

(i) moet die raad minimum kriteria en prosedures vir registrasie of voorwaardelike registrasie bepaal;

(ii) moet die raad 'n aansoek om registrasie of voorwaardelike registrasie oorweeg en daaroor besluit;

(iii) moet die raad 'n register van die name van alle persone wat geregistreer of voorwaardelik geregistreer is, byhou;

(iv) moet die raad die vorm en inhoud van die registers en sertifikate wat ingevolge hierdie Wet gehou, bygehou of uitgereik moet word, die tydperke waarbinne hulle hersien moet word en die wyse waarop wysigings daaraan aangebring kan word, bepaal; en

(v) kan die raad die tydperk van geldigheid van registrasie of voorwaardelike registrasie voorskryf;

(b) met betrekking tot die bevordering en ontwikkeling van die onderwys- en opleidingsberoep-

(i) moet die raad 'n professionele beeld bevorder, ontwikkel en in stand hou;

(ii) moet die raad die Minister adviseer oor aangeleenthede met betrekking tot die onderrig en opleiding van opvoeders, met inbegrip van, maar nie beperk nie tot-

(aa) die minimum toelatingsvereistes tot alle vlakke van die beroep;

(bb) die standaarde van programme van voordiens- en indiensopleiding van opvoeders;

(cc) die vereistes vir bevordering binne die onderwysstelsel;

(dd) professionalisme van opvoeders;

(iii) moet die raad 'n professionele ontwikkelingsbeleid navors en ontwikkel;

(iv) moet die raad die indiensopleiding van alle opvoeders bevorder;

(v) kan die raad bronmateriaal ontwikkel om in oorleg met 'n werkgewer opleidingsprogramme, werkwinkels, seminare en kort kursusse wat daarop gemik is om die beroep te versterk, te inisieer en aan te bied;

(vi) kan die raad 'n professionele tydskrif en ander publikasies opstel, druk en versprei;

(vii) kan die raad 'n professionele hulpfasiliteit vir opvoeders instel;

(c) met betrekking tot professionele etiek-

(i) moet die raad 'n professionele etiese kode vir opvoeders wat by die raad geregistreer of voorwaardelik geregistreer is, opstel, in stand hou en van tyd tot tyd hersien;

(ii) moet die raad 'n regverdige verhoorprosedure bepaal;

(iii) kan die raad, behoudens subparagraaf (ii), 'n opvoeder wat skuldig bevind word aan 'n oortreding van die professionele etiese kode-

(aa) waarsku of berispe;

(bb) met hoogstens een maand se salaris beboet; of

(cc) se naam van die register verwyder vir 'n vermelde of onbepaalde tydperk, of onderworpe aan vermelde voorwaardes; en

(iv) kan die raad 'n sanksie kragtens subparagraaf (iii) (bb) of (cc) opgelê, opskort vir 'n tydperk en op voorwaardes deur die raad bepaal;

(d) met betrekking tot gelde-

(i) moet die raad in oorleg met die Minister gelde aan die raad betaalbaar deur geregistreerde opvoeders en opvoeders wat om registrasie aansoek doen, bepaal;

(ii) kan die raad van die betrokke werkgewers vereis om gelde van die salarisse van opvoeders af te trek en dit aan die raad oor te betaal;

(iii) kan die raad, na 'n regverdige verhoor, 'n opvoeder wat skuldig bevind is aan wanbetaling van gelde deur die raad bepaal-

(aa) waarsku of berispe; of

(bb) se naam van die register verwyder vir 'n vermelde of onbepaalde tydperk, of onderworpe aan vermelde voorwaardes; en

(iv) kan die raad 'n sanksie kragtens subparagraaf (iii) (bb) opgelê, opskort vir 'n tydperk en op voorwaardes deur die raad bepaal; en

(e) in die algemeen-

(i) moet die raad die Minister van advies dien oor enige opvoedkundige aspek waaroor die Minister die raad versoek om te adviseer;

(ii) kan die raad personeel aanstel en hulle diensvoorwaardes bepaal;

(iii) kan die raad komitees instel en pligte aan hulle toewys;

(iv) moet die raad enige plig wat vir die behoorlike funksionering van die raad nodig is, verrig; en

(v) kan die raad die Minister oor enige tersaaklike opvoedkundige aspek adviseer.

[w31j2000a6]6 Samestelling van raad

(1) Die raad bestaan uit die volgende lede, deur die Minister aangestel met behoorlike inagneming van verteenwoordiging ten opsigte van ras, geslagtelikheid, gestremdheid en geografiese verspreiding:

(a) Die voorsitter, behoudens artikel 7;

(b) 18 opvoeders gesamentlik deur die georganiseerde beroep benoem;

(c) vyf persone deur die Departement van Onderwys benoem;

(d) twee persone benoem deur die nasionale verenigings wat beheerliggame van skole in artikel 20 (3) van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 (Wet 84 van 1996), beoog, verteenwoordig;

(e) een persoon benoem deur die Raad vir Hoër Onderwys ingestel by artikel 4 van die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (Wet 101 van 1997);

(f) een persoon benoem deur die rade van inrigtings vir verdere onderwys en opleiding beoog in artikel 8 van die Wet op Verdere Onderwys en Opleiding, 1998 (Wet 98 van 1998);

(g) een persoon benoem deur nasionale liggame wat onafhanklike of private inrigtings wat deur die Minister erken word, verteenwoordig; en

(h) die hoof- uitvoerende beampte van die raad, behoudens artikel 17.

(2) Die lede bedoel in subartikel (1) (b) moet bestaan uit opvoeders, met inbegrip van hoofde, in diens by of in elk van die volgende inrigtings of sektore:

(a) 'n Openbare gewone skool;

(b) 'n onafhanklike skool;

(c) 'n openbare inrigting vir verdere onderwys en opleiding;

(d) 'n private inrigting vir verdere onderwys en opleiding;

(e) kleuterontwikkelingsektor;

(f) 'n sentrum vir onderwys vir volwassenes;

(g) sektor vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.

(3) Indien die georganiseerde beroep nie in staat is om gesamentlik ooreenstemming te bereik met betrekking tot die 18 benoemings in subartikel (1) (b) bedoel nie, stel die Minister 18 lede uit die benoemings deur individuele organisasies van die georganiseerde beroep aan.

(4) Wanneer 'n benoeming ingevolge subartikel (1) nodig word, moet die raad die betrokke liggame of owerhede skriftelik uitnooi om binne 'n vermelde tydperk van minstens 30 dae persone wat vir benoeming kwalifiseer, te benoem.

(5) Niemand mag as 'n lid van die raad benoem of aangestel word nie indien daardie persoon-

(a) deur 'n geregshof uit 'n vertrouensposisie verwyder word; of

(b) skuldig bevind word aan 'n misdryf wat oneerlikheid behels of 'n misdaad waarvoor die vonnis opgelê gevangenisstraf sonder die keuse van 'n boete is.

(6) Indien die raad enige benoeming ontvang, moet hy die benoeming binne 30 dae na die vervaldatum in die uitnodiging vermeld aan die Minister voorlê.

(7) Indien die raad binne die tydperk in die uitnodiging vermeld geen benoemings ontvang nie of onvoldoende benoemings ontvang, kan die Minister, na oorleg met die raad, persone wat aan die vereistes voldoen, tot die vereiste getal as lede aanstel.

(8) Die Minister moet by kennisgewing in die Staatskoerant, so gou doenlik na die aanstelling van die lede, die naam van elke persoon wat as 'n lid aangestel is, tesame met die datum waarop die aanstelling van krag word en die tydperk waarvoor die aanstelling gedoen is, publiseer.

[w31j2000a7]7 Voorsitter en adjunkvoorsitter van raad

(1) (a) By die eerste vergadering in 'n nuwe ampstermyn van lede moet die lede vyf persone benoem, van wie een deur die Minister aangestel word as voorsitter.

(b) Iemand wat nie 'n lid is nie, kan deur die raad benoem word vir aanstelling as voorsitter.

(2) Die hoof- uitvoerende beampte moet as voorsitter waarneem tot tyd en wyl 'n voorsitter aangestel is.

(3) Na die aanstelling van die voorsitter deur die Minister, moet die lede iemand uit hulle geledere as adjunkvoorsitter van die raad verkies wat as voorsitter waarneem wanneer die voorsitter nie beskikbaar nie.

(4) Die voorsitter en adjunkvoorsitter beklee hulle ampte tydens die ampstermyn van die lede.

(5) Indien die voorsitter uit die geledere van die raad aangestel word, moet die vakature wat ontstaan ooreenkomstig artikel 10 gevul word.

(6) Wanneer ook al beide die voorsitter en die adjunkvoorsitter nie beskikbaar is nie, moet die lede uit hul geledere 'n lid kies om as voorsitter waar te neem.

[w31j2000a8]8 Ampstermyn van lede

Behoudens artikel 10 (2) beklee alle lede, behalwe die hoof- uitvoerende beampte, hulle ampte vir 'n tydperk van vier jaar.

[w31j2000a9]9 Beëindiging van amp van voorsitter, adjunkvoorsitter of lid

Die ampstermyn van die voorsitter, ondervoorsitter of enige ander lid word beëindig indien die lid-

(a) bedank deur skriftelik aan die Minister en die raad kennis te gee;

(b) van drie opeenvolgende vergaderings van die raad of van 'n komitee waarvan die lid 'n lid is, afwesig is sonder verlof van die betrokke voorsitter, of in die geval van die voorsitter, die verlof van die uitvoerende komitee van die raad;

(c) die raad of die beroep in diskrediet bring;

(d) ophou om aan die vereistes in artikel 6 (1) en (2) bedoel, te voldoen;

(e) (i) insolvent verklaar word;

(ii) uit 'n vertrouensposisie verwyder word deur 'n geregshof;

(iii) skuldig bevind word aan 'n misdryf wat oneerlikheid behels of 'n misdryf waarvoor die vonnis opgelê tronkstraf is sonder die keuse van 'n boete; of

(iv) deur 'n bevoegde hof as geestelik versteurd of handelingsonbevoeg verklaar word.

[w31j2000a10]10 Vul van vakatures

(1) Indien die ampstermyn van 'n lid ingevolge artikel 9 beëindig word, moet die vakature, met die nodige veranderinge, ooreenkomstig artikel 6 gevul word.

(2) Die ampstermyn van 'n lid wat ingevolge subartikel (1) aangestel word, is die restant van die ampstermyn van die betrokke voorganger.

(3) (a) Indien die amp van voorsitter ingevolge artikel 9 vakant raad, moet die oorblywende lede en die Minister ooreenkomstig artikel 7 (1) optree.

(b) Die persoon aldus as voorsitter aangestel, beklee die amp vir die restant van die ampstermyn van die betrokke voorganger.

[w31j2000a11]11 Uitvoerende komitee

(1) Die uitvoerende komitee van die raad bestaan uit-

(a) die voorsitter van die raad, wat die voorsitter van die komitee is;

(b) ses ander lede deur die raad aangestel, van wie minstens een 'n lid in artikel 6 (1) (c) bedoel, moet wees; en

(c) die hoof- uitvoerende beampte.

(2) Behoudens hierdie Wet moet die raad die werksaamhede van die uitvoerende komitee bepaal.

(3) 'n Besluit van die uitvoerende komitee word geag 'n besluit van die raad te wees, tensy die besluit deur die raad by sy volgende vergadering herroep word.

(4) Enigiets wat gedoen word ter implementering van die besluit van die uitvoerende komitee voor dit deur die raad herroep word, is nie ongeldig slegs weens die feit dat die besluit daarna deur die raad herroep word nie.

[w31j2000a12]12 Registrasiekomitee

(1) Die registrasiekomitee van die raad bestaan uit-

(a) die voorsitter, wat 'n lid is van, en aangestel word deur, die raad;

(b) vier ander lede deur die raad aangestel; en

(c) die hoof- uitvoerende beampte.

(2) Behoudens Hoofstuk 3 moet die registrasiekomitee-

(a) minimum kriteria en prosedures vir die registrasie of voorwaardelike registrasie van opvoeders oorweeg en aanbevelings daaroor aan die raad doen;

(b) enige aansoek om registrasie of voorwaardelike registrasie oorweeg en aanbevelings daaroor aan die raad doen;

(c) die tydperk van geldigheid van die registrasie van 'n opvoeder by die raad aanbeveel; en

(d) enige ander bevoegdheid of plig deur die raad aan hom gedelegeer of toegewys, uitoefen of verrig.

(3) Die registrasiekomitee moet verslag hou van sy verrigtinge.

[w31j2000a13]13 Professionele ontwikkelingskomitee

(1) Die professionele ontwikkelingskomitee van die raad bestaan uit-

(a) die voorsitter, wat 'n lid is van, en aangestel word deur, die raad;

(b) vier ander lede deur die raad aangestel, van wie minstens een 'n lid in artikel 6 (1) (c) bedoel, moet wees; en

(c) die hoof- uitvoerende beampte.

(2) Die professionele ontwikkelingskomitee moet, behoudens hierdie Wet-

(a) aanbevelings oorweeg en aan die raad doen met betrekking tot die bevoegdhede en pligte beoog in artikel 5 (b); en

(b) enige ander bevoegdheid of plig deur die raad aan hom gedelegeer of toegewys, uitoefen of verrig.

(3) Die professionele ontwikkelingskomitee moet verslag hou van sy verrigtinge.

[w31j2000a14]14 Tugkomitee

(1) Die tugkomitee van die raad bestaan uit-

(a) die adjunkvoorsitter van die raad, wat die voorsitter van die komitee is;

(b) vier ander lede deur die raad aangestel, van wie minstens een 'n lid in artikel 6 (1) (c) bedoel, moet wees; en

(c) die hoof- uitvoerende beampte.

(2) Die tugkomitee moet-

(a) 'n professionele etiese kode opstel, in stand hou en van tyd tot tyd hersien;

(b) verseker dat 'n beweerde oortreding van die professionele etiese kode ondersoek word;

(c) panele instel om klagtes teen opvoeders te ondersoek en te verhoor;

(d) verseker dat 'n regverdige verhoor, ooreenkomstig die prosedure deur die raad ingevolge artikel 5 (c) (ii) bepaal, gehou word;

(e) op grond van 'n aanbeveling van die betrokke paneel 'n bevinding en toepaslike optrede, as daar is, aan die raad aanbeveel; en

(f) enige ander bevoegdheid of plig deur die raad aan hom gedelegeer of toegewys, uitoefen of verrig.

(3) 'n Betrokke paneel moet 'n aanbeveling aan die tugkomitee doen met betrekking tot 'n bevinding, en, as daar is, dissiplinêre optrede, betreffende 'n klagte wat na hom verwys is.

(4) Vir die doeleindes van die ondersoek en verhoor kan 'n paneel enige persoon wat-

(a) moontlik inligting van wesenlike belang betreffende die onderwerp van die ondersoek of verhoor kan verskaf; of

(b) enige boek, stuk of voorwerp wat op die aangeleentheid betrekking kan hê, in sy of haar besit of bewaring het of daaroor beheer het,

dagvaar om voor die paneel te verskyn en die boek, stuk of voorwerp, as daar is, voor te lê.

(5) Die dagvaarding is in 'n vorm deur die raad voorgeskryf en moet deur die voorsitter van die tugkomitee of die hoof- uitvoerende beampte onderteken word en aan 'n persoon beteken word by wyse van-

(a) aflewering per hand;

(b) telefaks; of

(c) aangetekende pos.

(6) Die datum waarop die dagvaarding beteken word, word by ontstentenis van teenbewys, geag-

(a) die datum van aflewering te wees, in geval van betekening per hand;

(b) die versendingsdatum wat op die telefaks verskyn, te wees, in geval van betekening per telefaks; en

(c) die datum waarop daar vir die brief geteken is, te wees, in geval van betekening per aangetekende pos.

(7) Die tugkomitee en 'n paneel moet verslag hou van die verrigtinge van elke ondersoek en tugverhoor.

[w31j2000a15]15 Komitees van raad

(1) Die raad kan ander komitees instel om bystand te verleen in die verrigting van sy werksaamhede en kan ander persone koöpteer om komiteevergaderings by te woon op grond van hulle kundigheid.

(2) Enige komitee, behalwe die uitvoerende komitee, kan persone insluit wat nie lede van die raad is nie.

(3) Behoudens artikels 11 en 14 moet die voorsitter van 'n komitee deur die raad uit sy geledere aangestel word.

(4) Lede van komitees in subartikel (1) bedoel, kan aangestel word vir die tydperk wat die raad bepaal.

(5) Lede van 'n paneel in artikel 14 (2) (c) bedoel hoef nie lede van die raad te wees nie.

[w31j2000a16]16 Vergaderings, en prosedure by vergaderings van raad en komitees

(1) Die raad moet gedurende elke kalenderjaar minstens twee vergaderings by sy hoofkantoor hou en kan daarbenewens die vergaderings hou wat die voorsitter van die raad bepaal.

(2) Die raad kan reëls met betrekking tot die prosedure by vergaderings van die raad en sy komitees maak, en oor enige ander saak wat noodsaaklik is vir die verrigting van sy werksaamhede.

(3) 'n Meerderheid van die lede van die raad of 'n komitee maak 'n kworum by enige vergadering van die raad of 'n komitee uit.

(4) (a) 'n Besluit van die meerderheid van die lede van die raad of van 'n komitee wat by 'n vergadering teenwoordig is, maak 'n besluit van die raad of die komitee uit.

(b) In die geval van 'n staking van stemme, het die voorsittende lid 'n beslissende stem benewens 'n beraadslagende stem.

(5) 'n Besluit deur die raad of 'n komitee geneem is nie ongeldig slegs weens 'n vakature in die raad of 'n komitee, na gelang van die geval, tydens die neem van die besluit nie.

[w31j2000a17]17 Aanstelling en werksaamhede van hoof- uitvoerende beampte en personeel

(1) Die raad moet 'n hoof- uitvoerende beampte aanstel en kan die ander werknemers aanstel wat hy nodig ag om bystand te verleen in die verrigting van sy werksaamhede.

(2) Die hoof- uitvoerende beampte is die rekenpligtige beampte van die raad.

(3) Die hoof- uitvoerende beampte is, behoudens die opdragte en ooreenskomtig die beleid van die raad, verantwoordelik vir die-

(a) samestelling en ontwikkeling van 'n doeltreffende administrasie;

(b) organisasie, beheer, bestuur en dissipline van die personeel;

(c) implementering van die besluite van die raad.

(4) As rekenpligtige beampte is die hoof- uitvoerende beampte verantwoordelik vir-

(a) alle inkomste en uitgawes van die raad;

(b) alle bates en die nakoming van alle verpligtinge van die raad; en

(c) die behoorlike en vlytige implementering van die operasionele planne van die raad.

(5) Die raad is die werkgewer en bepaal die diensvoorwaardes van sy werknemers.

[w31j2000a18]18 Besoldiging en toelaes van lede van raad en komitees

Die voorsitter van die raad, die ondervoorsitter, elke lid en enige persoon wat as 'n lid van 'n komitee of paneel aangestel is, wat nie in diens van die Staat is nie, kan ten opsigte van dienste deur hulle gelewer in verband met die sake van die raad, 'n komitee of paneel, deur die raad-

(a) die reis-, verblyf- en ander toelaes; en

(b) in die geval van die voorsitter van die raad, die bykomstige besoldiging,

betaal word wat die raad bepaal.

[w31j2000a19]19 Fondse van raad

(1) Die fondse van die raad bestaan uit-

(a) verpligte gelde;

(b) geld ontvang uit skenkings, bydraes, rente of boetes; en

(c) ander geld deur die raad ontvang uit enige ander bron.

(2) Die raad-

(a) moet gedurende elke boekjaar, op die tyd en wyse deur die Minister bepaal, 'n gedetailleerde staat van sy geraamde inkomste en uitgawes vir die volgende boekjaar aan die Minister vir goedkeuring voorlê;

(b) kan gedurende enige boekjaar gewysigde state van sy geraamde inkomste en uitgawes aan die Minister vir goedkeuring voorlê;

(c) mag geen uitgawe aangaan wat die totale bedrag wat ingevolge paragrawe (a) en (b) goedgekeur is, te bowe gaan nie.

(3) Indien die Minister nie die staat van geraamde inkomste en uitgawes van die raad goedkeur nie, moet die Minister die raad versoek om binne 'n vermelde tydperk 'n hersiene staat van sy geraamde inkomste en uitgawes voor te lê.

(4) (a) Die fondse in subartikel (1) beoog, moet deur die raad gebruik word ooreenkomstig die goedgekeurde staat in subartikel (2) bedoel.

(b) Enige onbestede balans moet as 'n krediet oorgedra word na die volgende boekjaar.

(5) Behoudens subartikel (4) kan die raad enige gedeelte van sy fondse belê op die wyse wat die raad goedkeur.

(6) Die rekeningboeke en finansiële state van die raad moet aan die einde van elke boekjaar geouditeer word deur 'n geoktrooieerde rekenmeester wat geregistreer is ingevolge die Wet op Openbare Rekenmeesters en Ouditeurs, 1991 (Wet 80 van 1991), deur die raad aangestel.

(7) 'n Afskrif van die geouditeerde finansiële state moet binne drie maande na die einde van die raad se boekjaar aan die Minister voorgelê word.

[w31j2000a20]20 Jaarverslag

(1) Die raad moet, binne drie maande na die einde van elke boekjaar, 'n verslag aan die Minister voorlê oor die verrigting van sy werksaamhede gedurende daardie boekjaar.

(2) Die Minister moet die verslag so gou as prakties moontlik in die Parlement ter tafel lê.

HOOFSTUK 3
REGISTRASIE VAN OPVOEDERS (aa 21-24)

[w31j2000a21]21 Verpligte registrasie van opvoeders

(1) Iemand wat ingevolge hierdie Wet vir registrasie kwalifiseer, moet by die raad registreer voor aanstelling as opvoeder kan geskied.

(2) Niemand mag deur enige werkgewer in diens geneem word as 'n opvoeder nie tensy die persoon by die raad geregistreer is.

[w31j2000a22]22 Aansoek om registrasie

(1) (a) 'n Aansoek om registrasie moet aan die raad gedoen word op die wyse en in die vorm deur die raad bepaal.

(b) Die aansoeker moet die stukke en inligting wat deur die raad vereis word, voorlê tesame met die registrasiegeld in artikel 5 (d) (i) bedoel.

(2) Die raad moet 'n aansoek om registrasie oorweeg ingevolge die vereistes vir registrasie deur die raad bepaal.

(3) Indien 'n aansoeker aan die vereistes in subartikel (1) bedoel, voldoen, registreer die raad die aansoeker en reik 'n registrasiesertifikaat aan die opvoeder uit.

(4) Indien 'n aansoeker nie aan al die vereistes voldoen nie, maar die raad van mening is dat daar binne 'n redelike tydperk aan die vereistes voldoen sal word, kan die raad die aansoeker voorwaardelik registreer op die voorwaardes wat die raad bepaal.

(5) Wanneer 'n opvoeder wat voorwaardelik geregistreer is soos in subartikel (4) beoog, aan al die vereistes vir registrasie en die voorwaardes in daardie subartikel bedoel, voldoen, moet die raad die opvoeder ooreenkomstig subartikel (3) registreer.

(6) Indien 'n opvoeder in subartikel (4) bedoel nie aan die vereistes vir registrasie binne die vermelde tydperk voldoen nie, verval die voorwaardelike registrasie en word die naam van die persoon van die register verwyder.

(7) Die tydperk waarvoor 'n opvoeder voorwaardelik geregistreer word, kan deur die raad verleng word, en verskillende voorwaardes kan ten opsigte van verskillende aansoekers bepaal word indien daar 'n redelike grondslag vir die differensiasie bestaan.

(8) Verskillende kategorieë registrasie kan deur die raad bepaal word-

(a) om voorsiening te maak vir spesiale omstandighede van verskillende sektore in die onderwys; of

(b) indien daar 'n redelike basis vir so 'n differensiasie bestaan.

[w31j2000a23]23 Verwydering van naam van register

(1) Die raad kan aan die hoof- uitvoerende beampte opdrag gee om die naam van 'n opvoeder van die register te verwyder indien-

(a) na registrasie, die betrokke kwalifikasie van die opvoeder ingetrek of gekanselleer word deur die inrigting vir hoër onderwys wat dit uitgereik het;

(b) die opvoeder foutiewelik of as gevolg van bedrog geregistreer is;

(c) die opvoeder skuldig bevind is aan 'n oortreding van die professionele etiese kode;

(d) die opvoeder deregistrasie versoek, permanent of vir 'n vermelde tydperk;

(e) die opvoeder in gebreke bly om die gelde deur die raad voorgeskryf, binne 'n vermelde tydperk te betaal; of

(f) die opvoeder te sterwe kom.

(2) Die hoof- uitvoerende beampte moet by wyse van gesertifiseerde pos gerig aan die betrokke adres wat in die register voorkom, aan die betrokke opvoeder kennis gee van die verwydering van die register van die naam van die opvoeder.

(3) Die naam van 'n opvoeder beoog in subartikel (1) (a), (b), (c) en (e) mag nie van die register verwyder word nie tensy die opvoeder 'n redelike geleentheid gebied is om vertoë aan die raad te rig.

(4) Vanaf die datum waarop kennis soos in subartikel (2) beoog aan die opvoeder gegee is, word 'n registrasiesertifikaat wat aan die betrokke opvoeder uitgereik is, geag gekanselleer te wees.

[w31j2000a24]24 Registrasiesertifikate

(1) 'n Registrasiesertifikaat word uitgereik en aan die opvoeder gestuur na registrasie deur die raad.

(2) Indien die hoof- uitvoerende beampte tevrede is, by voorlegging van bewys deur 'n geregistreerde opvoeder, dat 'n registrasiesertifikaat vernietig of verlore is, moet 'n duplikaatregistrasiesertifikaat by betaling van die geld deur die raad voorgeskryf, aan daardie opvoeder uitgereik word.

HOOFSTUK 4
ALGEMEEN (aa 25-29)

[w31j2000a25]25 Oorgangsbepalings

(1) Die ampstermyne van die lede van die raad wat hulle ampte onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet beklee, verstryk op die dag voor die datum waarop die aanstelling van die lede ingevolge artikel 6 (8) van krag word.

(2) Enige werksaamhede wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet deur die raad verrig is, word geag ingevolge die ooreenstemmende bepaling van hierdie Wet verrig te wees.

(3) Ondanks die bepalings van subartikel (2) word met enige dissiplinêre verrigtinge wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet teen 'n opvoeder ingestel is weens beweerde oortreding van die professionele etiese kode, voortgegaan en word dit afgehandel ingevolge die prosedure bepaal ingevolge Hoofstuk 6 van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998).

(4) Die grondwet, registrasieprosedure, professionele etiese kode en ander prosedures van die raad wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet bestaan, bly van krag totdat dit deur die raad kragtens hierdie Wet gewysig of herroep word, behalwe waar hulle in stryd met die bepalings van hierdie Wet is.

(5) Die verpligte registrasie- en ander gelde aan die raad betaalbaar onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet, bly van krag totdat dit deur die raad kragtens hierdie Wet gewysig of herroep word.

(6) Die dienskontrakte wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet bestaan tussen die werknemers van die raad en die raad, bly voortbestaan behoudens toepaslike arbeidswetgewing.

(7) Praktiserende opvoeders op wie die bepalings van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998), nie van toepassing is nie en van wie ingevolge hierdie Wet vereis word om te registreer, word behoudens subartikel (8) geag voorwaardelik by die raad geregistreer te wees, ongeag hulle kwalifikasies.

(8) Voorwaardelike registrasie in subartikel (7) beoog, bly van krag tot 'n datum deur die Minister bepaal, voor welke datum die betrokke opvoeders ingevolge Hoofstuk 3 om registrasie moet aansoek doen en dit verkry ten einde geregistreer te bly.

[w31j2000a26]26 Inligting aan raad voorsien te word

(1) 'n Inrigting vir hoër onderwys en die werkgewer van 'n opvoeder moet die raad op sy versoek voorsien van die inligting wat redelikerwys deur die raad benodig word vir die verrigting van sy werksaamhede.

(2) In elke geval waar tugstappe teen enige opvoeder gedoen is deur die werkgewer en dit op 'n ander sanksie as 'n waarskuwing of berisping uitloop, moet 'n gesertifiseerde opsomming van die verslag van die verrigtinge by die verhoor en van die sanksie opgelê, deur daardie werkgewer aan die raad gestuur word.

[w31j2000a27]27 Misdrywe en strawwe

Iemand wat-

(a) behoorlik kragtens artikel 14 (5) gedagvaar is en wat sonder voldoende rede in gebreke bly-

(i) om te verskyn op die tyd en plek in die dagvaarding vermeld; of

(ii) om teenwoordig te bly totdat daardie persoon deur die paneel van verdere bywoning onthef word;

(b) weier om as getuie beëdig te word of te bevestig; of

(c) sonder voldoende rede in gebreke bly-

(i) om 'n vraag wat wettig aan daardie persoon gestel word volledig en bevredigend te beantwoord; of

(ii) om 'n boek, stuk of voorwerp in daardie persoon se besit of bewaring of onder daardie persoon se beheer voor te lê wat daardie persoon ingevolge genoemde artikel 14 (5) verplig was om voor te lê,

is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens ses maande.

[w31j2000a28]28 Herroeping van wet

Hoofstuk 6 van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet 76 van 1998), word hierby herroep.

[w31j2000a29]29 Kort titel

Hierdie Wet heet die Wet op die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders, 2000.

No comments: