Thursday, August 11, 2011

SA Skolewet van 1996

SUID-AFRIKAANSE SKOLEWET
NO. 84 VAN 1996

[GOEDGEKEUR OP 23 JANUARIE 2006]
[DATUM VAN INVOERING: 26 JANUARIE 2006]
(Tensy anders vermeld)
(Engelse teks deur die President geteken)

Hierdie Wet is opgedateer tot Staatskoerant 28426 gedateer 26 Januarie 2006.

soos gewysig deur
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 100 van 1997
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 48 van 1999
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 53 van 2000
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 57 van 2001
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 50 van 2002
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 1 van 2004
Wysigingswet op Onderwyswette, No. 24 van 2005

WET
Om voorsiening te maak vir ’n eenvormige stelsel vir die organisasie, bestuur en finansiering van skole; tot wysiging en herroeping van sekere wette wat op skole betrekking het; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan.
Aanhef.—NADEMAAL die bereiking van demokrasie in Suid-Afrika afstand gedoen het van die voormalige onderwysstelsel wat gebaseer was op rasse-ongelykheid en -skeiding; en
NADEMAAL hierdie land ’n behoefte het aan ’n nuwe nasionale stelsel vir skole wat die onregte in onderwysvoorsiening van die verlede sal regstel, onderwys van progressief hoë gehalte aan alle leerders sal voorsien en op hierdie wyse ’n hegte fondament vir die ontwikkeling van al ons mense se talente en bekwaamhede sal lê, die demokratiese transformasie van die gemeenskap sal bevorder, rassisme en seksisme en alle ander vorms van onregverdige diskriminasie en onverdraagsaamheid sal bekamp, tot die uitwissing van armoede en die ekonomiese welstand van die gemeenskap sal bydra, ons verskeidenheid van kulture en tale sal beskerm en bevorder, die regte van alle leerders, ouers en opvoeders sal handhaaf, en hul aanvaarding van verantwoordelikheid vir die organisasie, beheer en finansiering van skole in vennootskap met die Staat sal bevorder; en
NADEMAAL dit nodig is om eenvormige norme en standaarde vir die opvoeding van leerders by skole en die organisasie, beheer en finansiering van skole oor die hele Republiek van Suid-Afrika te stel;
INDELING VAN WET
HOOFSTUK 1
WOORDOMSKRYWING EN TOEPASSING VAN WET

1. Woordomskrywing
2. Toepassing van Wet

HOOFSTUK 2
LEERDERS

3. Verpligte bywoning
4. Vrystelling van verpligte bywoning
5. Toelating tot openbare skole
6. Taalbeleid van openbare skole
6A. Kurrikulum en evaluering
7. Vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole
8. Gedragskode
9. Skorsing en uitsetting uit openbare skool
10. Verbod op lyfstraf
10A. Verbod op inisiasiepraktyk
11. Verteenwoordigende raad van leerders

HOOFSTUK 3
OPENBARE SKOLE

12. Voorsiening van openbare skole
12A. Samesmelting van openbare skole
13. Openbare skole op Staatseiendom
14. Openbare skole op private eiendom
15. Status van openbare skole
16. Beheer en professionele bestuur van openbare skole
17. Beheerliggaam wat twee of meer skole bedien
18. Grondwet van beheerliggaam
18A. Gedragskode van beheerliggaam
19. Opbou van vermoë van beheerliggame
20. Werksaamhede van alle beheerliggame
21. Toegewese werksaamhede van beheerliggame
22. Terugtrekking van werksaamhede van beheerliggame
24. Lidmaatskap van beheerliggaam van openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes
25. Versuim deur beheerliggaam om werksaamhede te verrig
26. Onttrekking deur lede van beheerliggaam
27. Terugbetaling van lede van beheerliggaam
28. Verkiesing van lede van beheerliggaam
29. Ampsdraers van beheerliggame
30. Komitees van beheerliggaam
31. Ampstermyn van lede en ampsdraers van beheerliggame
32. Status van minderjarige lede van beheerliggame van openbare skole
33. Sluiting van openbare skole

HOOFSTUK 4
BEFONDSING VAN OPENBARE SKOLE

34. Verantwoordelikheid van Staat
35. Norme en standaarde vir befondsing van openbare skole
36. Verantwoordelikheid van beheerliggaam
37. Skoolfondse en bates van openbare skole
38. Jaarlikse begroting van openbare skool
38A. Verbod op betaling van ongemagtigde besoldiging, of gee van finansiële voordeel of goederevoordeel aan sekere werknemers
39. Skoolgeld by openbare skole
40. Verpligting op ouer om skoolgeld te betaal
41. Afdwing van betaling van skoolgeld
42. Finansiële rekords en state van openbare skole
43. Ouditering of ondersoek na finansiële rekords en state
44. Boekjaar van openbare skool

HOOFSTUK 5
ONAFHANKLIKE SKOLE

45. Stigting van onafhanklike skool
45A. Toelatingsouderdom tot onafhanklike skool
46. Registrasie van onafhanklike skool
47. Intrekking van registrasie van onafhanklike skool
48. Subsidies aan geregistreerde onafhanklike skole
49. Verklaring van onafhanklike skool tot openbare skool
50. Pligte van Lid van Uitvoerende Raad ten opsigte van onafhanklike skole
51. Registrasie van leerder vir onderwys tuis

HOOFSTUK 6
OORGANGSBEPALINGS

52. Oorgangsbepalings wat op skole anders as private skole betrekking het
53. Oorgangsbepalings wat op private skole betrekking het
54. Oorgangsbepalings wat op beheerliggame betrekking het
55. Oorgangsbepalings wat op vaste eiendom van sekere skole betrekking het
56. Oorgangsbepalings met betrekking tot openbare skole op private eiendom
57. Oorgangsbepalings met betrekking tot private eiendom besit deur godsdiensorganisasie

HOOFSTUK 7
ALGEMENE BEPALINGS

58. Onteiening
59. Plig van skole om inligting te verstrek
60. Aanspreeklikheid van Staat
61. Regulasies
62. Delegasie van bevoegdhede
63. Herroeping en wysiging van wette
64. Kort titel en inwerkingtreding
Bylae 1.
Bylae 2. Wysigings van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1994, deur artikel 63

HOOFSTUK 1
WOORDOMSKRYWING EN TOEPASSING VAN WET
1. Woordomskrywing.—(1) In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken—
„beampte” ’n werknemer van ’n onderwysdepartement wat aangestel is ingevolge die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1994 (Proklamasie No. 138 van 1994), of die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994);
„beheerliggaam” ’n beheerliggaam beoog in artikel 16 (1);
„Departementshoof” die hoof van ’n onderwysdepartement;
„geen skoolgelde drempel” die vlak van befondsing per leerder beoog in die norme en standaarde vir skoolbefondsing aangaande ’n openbare skool wat die Minister die bevoegdheid gee om die skool te verklaar tot ’n geen skoolgelde skool ingevolge hierdie Wet;
[Omskrywing van „geen skoolgelde drempel” ingevoeg deur a. 1 (a) van Wet No. 24 van 2005.]
„graad” dié gedeelte van ’n onderwysprogram wat ’n leerder binne die bestek van een skooljaar kan voltooi of enige ander onderwysprogram wat die Lid van die Uitvoerende Raad mag ag gelykwaardig daaraan te wees;
„Grondwet” die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996);
[Omskrywing van „Grondwet” vervang deur a. 1 (b) van Wet No. 100 van 1997.]
„hierdie Wet” hierdie Wet en alle regulasies wat kragtens hierdie Wet uitgevaardig word;
„leerder” enige persoon wat onderwys ontvang of wat verplig is om onderwys te ontvang ingevolge hierdie Wet;
„Lid van die Uitvoerende Raad” die Lid van die Uitvoerende Raad van ’n provinsie wat verantwoordelik is vir onderwys in dié provinsie;
„Minister” die Minister van Onderwys;
„norme en standaarde vir skoolbefondsing” die nasionale norme en standaarde vir die befondsing van openbare skole deur die Minister ingevolge artikel 35 bepaal;
[Omskrywing van „norme en standaarde vir skoolbefondsing” ingevoeg deur a. 1 (b) van Wet No. 24 van 2005.]
„onafhanklike skool” ’n skool wat geregistreer is of geag word geregistreer te wees ingevolge artikel 46;
„onderwysdepartement” die departement wat ingestel is by artikel 7 (2) van die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994), wat verantwoordelik is vir onderwys in ’n provinsie;
„openbare skool” ’n skool beoog in Hoofstuk 3;
„opvoeder” enige persoon, met uitsondering van ’n persoon wat aangestel is om uitsluitlik buite-kurrikulêre werksaamhede te verrig, wat ander persone onderrig, opvoed of oplei of wat professionele opvoedkundige dienste, met inbegrip van professionele terapie en opvoedkundige sielkundige dienste, by ’n skool lewer;
[Omskrywing van „opvoeder” vervang deur a. 6 (a) van Wet No. 48 van 1999.]
„ouer”—
(a) die ouer of voog van ’n leerder;
(b) die persoon met wettige aanspraak op sorg vir ’n leerder; of
(c) die persoon wat onderneem om die verpligtinge van ’n persoon in paragrawe (a) en (b) ten opsigte van die leerder se opvoeding op skool na te kom;
„personeellid” ’n persoon wat by ’n skool in diens is;
„prinsipaal” ’n opvoeder wat as hoof van ’n skool aangestel is of waarneem;
„provinsiale wetgewer” ’n provinsiale wetgewer beoog in artikel 125 van die Grondwet;
„provinsie” ’n provinsie ingestel by artikel 124 van die Grondwet;
„Raad van Onderwysministers” die Raad van Onderwysministers wat kragtens die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 1996 (Wet No. 27 van 1996), ingestel is;
„Registrateur van Aktes” die registrateur van aktes bedoel in artikel 2 van die Registrasie van Aktes Wet, 1937 (Wet No. 47 van 1937);
[Omskrywing van „Registrateur van Aktes” ingevoeg deur a. 1 (a) van Wet No. 100 van 1997.]
„skool” ’n openbare skool of ’n onafhanklike skool wat leerders in een of meer grade van graad A (Aanvang) tot graad 12 inskryf.
[Sub-a. (1), voorheen a. 1, gewysig deur a. 1 van Wet No. 50 van 2002. Omskrywing van „skool” vervang deur a. 1 (c) van Wet No. 100 van 1997 en deur a. 6 (b) van Wet No. 48 van 1999.]
Bewoording van Artikels
„skoolgelde” skoolgelde in artikel 39 beoog en ook enige vorm van bydrae, van ’n monetêre aard gelewer of betaal deur ’n persoon of liggaam met betrekking tot die bywoning of deelname van ’n leerder aan enige program van ’n openbare skool;
[Omskrywing van „skoolgelde” ingevoeg deur a. 1 (c) van Wet No. 24 van 2005.]
(2) Voetnotas wat in hierdie Wet voorkom, moet nie in die uitleg van enige bepaling van hierdie Wet gebruik word nie.
[Sub-a. (2) bygevoeg deur a. 1 van Wet No. 50 van 2002.]
2. Toepassing van Wet.—(1) Hierdie Wet is op onderwys in skole in die Republiek van Suid-Afrika van toepassing.
(2) ’n Lid van die Uitvoerende Raad en ’n Departementshoof moet enige bevoegdheid uitoefen wat by of kragtens hierdie Wet aan hulle opgedra word, nadat die toepaslike beleid wat ingevolge die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 1996 (Wet No. 27 van 1996), bepaal is, ten volle in berekening gebring is.
(3) Geen bepaling van hierdie Wet belet ’n provinsiale wetgewer om wetgewing vir skoolonderwys in ’n provinsie ooreenkomstig die Grondwet en hierdie Wet te verorden nie.
[Sub-a. (3) gewysig deur a. 2 van Wet No. 100 van 1997.]
Bewoording van Artikels
HOOFSTUK 2
LEERDERS
3. Verpligte bywoning.—(1) Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet moet elke ouer elke leerder vir wie hy of sy verantwoordelik is ’n skool laat bywoon vanaf die eerste skooldag van die jaar waarin sodanige leerder die ouderdom van sewe jaar bereik tot op die laaste skooldag van die jaar waarin sodanige leerder die ouderdom van vyftien jaar of die negende graad bereik, watter een ook al eerste plaasvind.
(2) Die Minister bepaal by kennisgewing in die Staatskoerant die ouderdomme vir verpligte bywoning by skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.
(3) Elke Lid van die Uitvoerende Raad moet verseker dat daar voldoende plek in skole is sodat elke kind wat in sy of haar provinsie woonagtig is, kan skoolgaan soos deur subartikels (1) en (2) vereis word.
(4) Indien ’n Lid van die Uitvoerende Raad nie aan subartikel (3) kan voldoen nie as gevolg van ’n gebrek aan ruimte wat op die datum van inwerkingtreding van hierdie Wet bestaan, moet hy of sy stappe doen om enige sodanige gebrek aan ruimte so gou as moontlik reg te stel, en moet hy of sy jaarliks aan die Minister verslag doen in verband met die vordering wat met hierdie optrede gemaak is.
(5) Indien ’n leerder wat ingevolge subartikel (1) onderworpe is aan verpligte bywoning, nie ingeskryf is by ’n skool nie of versuim om dit by te woon, kan die Departementshoof—
(a) die omstandighede van die leerder se afwesigheid van die skool ondersoek;
(b) toepaslike stappe doen om die aangeleentheid reg te stel; en
(c) by gebrek aan sodanige regstelling, ’n skriftelike kennisgewing aan die ouer van die leerder rig om nakoming van subartikel (1) te eis.
(6) Behoudens hierdie Wet en enige ander toepaslike wet—
(a) is enige ouer wat, sonder afdoende rede en ná ’n skriftelike kennisgewing van die Departementshoof, in gebreke bly om uitvoering te gee aan subartikel (1), skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding onderhewig aan ’n boete of aan gevangenisstraf vir ’n tydperk wat nie ses maande te bowe gaan nie; of
(b) enige ander persoon wat, sonder afdoende rede, ’n leerder wat aan verpligte bywoning onderhewig is, daarvan weerhou om ’n skool by te woon, is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding onderhewig aan ’n boete of aan gevangenisstraf vir ’n tydperk wat nie ses maande te bowe gaan nie.
4. Vrystelling van verpligte bywoning.—(1) ’n Departementshoof kan ’n leerder heeltemal, gedeeltelik of voorwaardelik van verpligte skoolbywoning vrystel indien dit in die beste belang van die leerder is.
(2) Elke Departementshoof moet ’n register hou van alle leerders wat van verpligte skoolbywoning vrygestel is.
5. Toelating tot openbare skole.—(1) ’n Openbare skool moet leerders toelaat en hul opvoedkundige behoeftes dien sonder om op enige wyse onregverdig te diskrimineer.
(2) Die beheerliggaam van ’n openbare skool mag nie enige toets wat verband hou met die toelating van ’n leerder tot ’n openbare skool toepas, of die prinsipaal van die skool of enige ander persoon opdrag gee of magtig om sodanige toets toe te pas nie.
(3) Geen leerder mag toelating tot ’n openbare skool geweier word nie op grond daarvan dat sy of haar ouer—
(a) nie in staat is nie of versuim het om skoolgeld soos deur die beheerliggaam kragtens artikel 39, bepaal, te betaal;
(b) nie die missiestelling van die skool onderskryf nie; of
(c) geweier het om ’n kontrak waarkragtens die ouer afstand doen van enige eis vir skadevergoeding wat uit die opvoeding van die leerder voortspruit, aan te gaan.
(4) (a) Die toelatingsouderdom van ’n leerder tot ’n openbare skool in—
(i) graad R is vier jaar indien die leerder vyf word teen 30 Junie in die jaar van toelating;
(ii) graad 1 is vyf jaar indien die leerder ses word teen 30 Junie in die jaar van toelating.
(b) Behoudens die beskikbaarheid van geskikte plekke in skole en ander opvoedkundige hulpbronne kan die Departementshoof toelating verleen aan ’n leerder wat—
(i) onder die ouderdom in paragraaf (a) beoog, is, indien afdoende redes aangevoer kan word; en
(ii) voldoen aan die kriteria in paragraaf (c) beoog.
(c) Die Minister kan, by regulasie—
(i) kriteria voorskryf vir die toelating tot ’n openbare skool teen ’n ouderdom wat laer is as die toelatingsouderdom, van ’n onderouderdomleerder wat aan die kriteria1 voldoen;
(ii) ouderdomsvereistes vir verskillende grade by ’n openbare skool voorskryf.
(d) By die toepassing van paragraaf (b) (i), beteken afdoende redes aangevoer dat—
(i) aangetoon kan word dat daar uitsonderlike omstandighede bestaan wat die toelating van ’n onderouderdomleerder noodsaak aangesien toelating in sy of haar beste belang sou wees; en
(ii) die weiering om daardie leerder toe te laat tot ernstige nadeel van sy of haar ontwikkeling sou wees.
[Sub-a. (4) vervang deur a. 2 van Wet No. 50 van 2002 met ingang van 1 Januarie 2004.]
Bewoording van Artikels
(5) Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet word die toelatingsbeleid van ’n openbare skool deur die beheerliggaam van sodanige skool bepaal.
(6) In die bepaling van die plasing van ’n leerder met spesiale onderwysbehoeftes moet die Departementshoof en die prinsipaal die regte en wense van die ouer van sodanige leerder in ag neem.
(7) ’n Aansoek om die toelating van ’n leerder tot ’n openbare skool moet aan die onderwysdepartement gerig word op ’n wyse wat deur die Departementshoof bepaal word.
(8) Indien enige aansoek ingevolge subartikel (7) geweier word, moet die Departementshoof die ouer skriftelik verwittig van sodanige weiering en die rede daarvoor.
(9) Enige leerder of ouer van ’n leerder wat toelating tot ’n openbare skool geweier is, kan teen die beslissing appèl aanteken by die Lid van die Uitvoerende Raad.
6. Taalbeleid van openbare skole.—(1) Behoudens die Grondwet en hierdie Wet kan die Minister, na oorleg met die Raad van Onderwysministers, by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant norme en standaarde vir taalbeleid in openbare skole vasstel.
(2) Die beheerliggaam van ’n openbare skool kan die taalbeleid van die skool bepaal, behoudens die Grondwet, hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet.
(3) Geen vorm van rassediskriminasie mag in die uitvoering van beleid wat kragtens hierdie artikel bepaal is, plaasvind nie.
(4) ’n Erkende Gebaretaal het die status van ’n amptelike taal vir die doeleindes van onderrig in ’n openbare skool.
6A. Kurrikulum en evaluering.—(1) Die Minister bepaal by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant—
(a) ’n nasionale kurrikulumstelling wat die minimum uitkomste of standaarde aandui; en
(b) ’n nasionale proses en prosedures vir die evaluering van die leerderprestasie.
(2) Die kurrikulum en die proses vir die evaluering van die leerderprestasie in subartikel (1) beoog moet op openbare en onafhanklike skole van toepassing wees.
[A. 6A ingevoeg deur a. 3 van Wet No. 50 van 2002.]
7. Vryheid van gewete en godsdiens in openbare skole.—Behoudens die Grondwet en enige toepaslike provinsiale wet kan godsdiensbeoefening by ’n openbare skool gehou word ingevolge reëls wat deur die beheerliggaam uitgevaardig is, indien sodanige beoefening op ’n billike wyse geskied en bywoning daarvan deur leerders en personeellede vry en vrywillig is.
8. Gedragskode.—(1) Behoudens enige toepaslike provinsiale wet moet ’n beheerliggaam van ’n openbare skool ’n gedragskode vir leerders aanvaar na oorleg met die leerders, ouers en opvoeders van die skool.
(2) ’n Gedragskode beoog in subartikel (1) moet daarop gemik wees om ’n gedissiplineerde en doelgerigte skoolomgewing wat toegewy is aan die bevordering en instandhouding van die gehalte van die leerproses, te vestig.
(3) Die Minister kan, ná oorlegpleging met die Raad van Onderwysministers, riglyne bepaal vir oorweging deur beheerliggame in die aanvaarding van ’n gedragskode vir leerders.
(4) Geen bepaling van hierdie Wet stel ’n leerder vry van die verpligting om die gedragskode van die skool wat deur sodanige leerder bygewoon word, na te kom nie.
(5) ’n Gedragskode moet bepalings van ’n behoorlike regsproses bevat om die belange van die leerder en enige party wat by dissiplinêre handelinge betrokke is, te beskerm.
(6) ’n Leerder moet by dissiplinêre verrigtinge deur sy of haar ouer of ’n persoon deur die ouer aangewys vergesel word, tensy afdoende redes deur die beheerliggaam aangevoer kan word vir die voortsetting van die verrigtinge in die afwesigheid van die ouer of die persoon deur die ouer aangewys.
[Sub-a. (6) bygevoeg deur a. 4 van Wet No. 50 van 2002.]
(7) Wanneer dissiplinêre verrigtinge voor enige beheerliggaam hangende is en dit vir sodanige beheerliggaam voorkom dat dit ’n getuie onder die ouderdom van 18 jaar aan onbehoorlike geestelike spanning of lyding sal blootstel indien hy of sy tydens die verrigtinge getuienis lewer, kan die beheerliggaam, indien doenlik, ’n bevoegde persoon as tussenganger aanstel ten einde die getuie in staat te stel om sy of haar getuienis deur daardie tussenganger te lewer.
[Sub-a. (7) bygevoeg deur a. 4 van Wet No. 50 van 2002.]
(8) (a) ’n Verhoor, kruisverhoor of herverhoor van ’n getuie ten aansien van wie ’n beheerliggaam kragtens subartikel (7) ’n tussenganger aangestel het, afgesien van verhoor deur die beheerliggaam, moet nie op enige wyse behalwe deur daardie tussenganger plaasvind nie.
(b) So ’n tussenganger kan, tensy die beheerliggaam anders bepaal, die algemene strekking van enige vraag aan die betrokke getuie oordra.
[Sub-a. (8) bygevoeg deur a. 4 van Wet No. 50 van 2002.]
(9) Indien ’n beheerliggaam kragtens subartikel (7) ’n tussenganger aanstel, kan die beheerliggaam bepaal dat die betrokke getuie sy of haar getuienis moet lewer op enige plek wat—
(a) informeel ingerig is om die getuie op sy of haar gemak te stel;
(b) só ingerig is dat enige persoon wie se teenwoordigheid die getuie moontlik kan ontstel, buite sig- en hoorafstand van daardie getuie is; en
(c) die beheerliggaam en enige persoon wie se teenwoordigheid by die betrokke verrigtinge nodig is, in staat stel om deur die medium van elektroniese of ander toestelle daardie tussenganger sowel as daardie getuie tydens sy of haar getuienis te hoor.
[Sub-a. (9) bygevoeg deur a. 4 van Wet No. 50 van 2002.]
9. Skorsing en uitsetting uit openbare skool.—(1) Die beheerliggaam kan, op redelike gronde en as ’n voorsorgmaatreël, n leerder wat vermoedelik ernstige wangedrag gepleeg het, skors van bywoning van die skool, maar mag sodanige skorsing opdwing slegs nadat die leerder ’n redelike geleentheid gebied is om vertoë in verband met sodanige skorsing aan hom te rig.
(1A) ’n Berheegliggaam moet binne sewe skooldae na die skorsing van ’n leerder dissiplinêre verrigtinge teen sodanige leerder hou op die wyse in artikel 8 beoog.
(1B) Indien dissiplinêre verrigtinge nie binne sewe skooldae na die skorsing van ’n leerder gehou word nie, moet die beheerliggaam die goedkeuring van die Departmentshoof verkry vir die voortsetting van die skorsing van sodanige leerder.
(1C) ’n Beheerliggaam kan, nadat ’n leerder gedurende die dissiplinêre verrigtinge in artikel 8 beoog skuldig bevind is aan ernstige wangedrag—
(a) skorsing van sodanige leerder vir ’n tydperk van hoogstens sewe skooldae oplê, of enige ander sanksie in die gedragskode van die openbare skool beoog; of
(b) ’n aanbeveling aan die Departementshoof doen om sodanige leerder uit die openbare skool te sit.
(1D) ’n Departementshoof moet die aanbeveling van die beheerliggaam in subartikel (1C) (b) bedoel oorweeg en moet besluit om die leerder uit die skool te sit al dan nie binne 14 dae na ontvangs van sodanige aanbeveling.
(1E) ’n Beheerliggaam kan die skorsing van ’n leerder oplê of verleng vir ’n tydperk van hoogstens 14 dae hangende die besluit deur die Departementshoof of sodanige leerder uit die openbare skool gesit moet word al dan nie.
[Sub-a. (1) gewysig deur a. 2 (a) van Wet No. 24 van 2005.]
Bewoording van Artikels
(2) ’n Leerder by ’n openbare skool mag uit die skool gesit word slegs—
(a) deur die Departementshoof; en
(b) indien hy of sy ná dissplinêre verrigtinge in artikel 8 beoog, skuldig bevind is aan ernstige wangedrag.
[Sub-a. 2 vervang deur a. 2 (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(3) Die Lid van die Uitvoerende Raad bepaal, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant—
(a) die gedrag van ’n leerder by ’n openbare skool wat as ernstige wangedrag beskou word;
(b) dissiplinêre prosedures wat in sodanige gevalle gevolg moet word;
(c) bepalings van ’n behoorlike regsproses om die belange van die leerder en enige ander party wat by dissiplinêre handelinge betrokke is, te beskerm.
(4) ’n Leerder of die ouer van ’n leerder wat uit ’n openbare skool gesit is, kan binne 14 dae na ontvangs van die kennisgewing van uitsetting teen die beslissing van die Departementshoof appèl aanteken by die Lid van die Uitvoerende Raad.
[Sub-a. 4 vervang deur a. 2 (c) van Wet No. 24 van 2005.]
(5) Indien ’n leerder wat ingevolge artikel 3 (1) aan verpligte bywoning onderhewig is, uit ’n openbare skool gesit word, moet die Departementshoof ’n alternatiewe reëling tref vir sy of haar plasing by ’n openbare skool.
(6) ’n Leerder wat appèl aangeteken het op die wyse in subartikel (4) bedoel, moet toegang tot onderwys verleen word op die wyse deur die Departementshoof bepaal, hangende die uitkoms van die appèl.
[Sub-a. 6 ingevoeg deur a. 2 (d) van Wet No. 24 van 2005.]
(7) Die Departementshoof, by die beplaing van die wyse van bywoning in subartikel (6) beoog—
(a) moet redelike maatreëls tref om die regte van ander leerders by die openbare skool te beskerm; en
(b) kan ’n alternatiewe metode oorweeg om onderwys te verskaf aan die leerder in subartikel (6) beoog.
[Sub-a. 7 ingevoeg deur a. 2 (d) van Wet No. 24 van 2005.]
(8) Indien die Departementshoof besluit om nie ’n leerder uit die skool te sit soos in subartikel (2) beoog nie, kan die Departementshoof, na oorleg met die beheerliggaam, ’n gepaste straf aan die leerder oplê.
[Sub-a. 8 ingevoeg deur a. 2 (d) van Wet No. 24 van 2005.]
(9) Indien die Departementshoof besluit om nie ’n straf aan die leerder op te lê nie, moet die Departementshoof die aangeleentheid na die beheerliggaam terugverwys vir ’n alternatiewe straf ingevolge die gedargskode in artikel 8 beoog, iutsetting uitgesluit.
[Sub-a. 9 ingevoeg deur a. 2 (d) van Wet No. 24 van 2005.]
(10) Die beheerliggaam moet die straf in subartikel (8) beoog, implementeer.
[Sub-a. 10 ingevoeg deur a. 2 (d) van Wet No. 24 van 2005]
10. Verbod op lyfstraf.—(1) Geen persoon mag by ’n skool lyfstraf aan ’n leerder toedien nie.
(2) Enige persoon wat subartikel (1) oortree, is skuldig aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ’n vonnis wat vir aanranding opgelê kan word.
10A. Verbod op inisiasiepraktyke.—(1) ’n Persoon mag nie enige inisiasiepraktyke teen ’n leerder by ’n skool of in ’n koshuis wat leerders van ’n skool huisves, bedryf of daaraan deelneem nie.
(2) (a) Enige persoon wat subartikel (1) oortree, is skuldig aan wangedrag en tugstappe moet teen sodanige persoon ingestel word in ooreenstemming met die toepaslike gedragskode, voorgeskryf in artikels 8 en 18A van hierdie Wet en Bylae 2 by die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet No. 76 van 1998).
(b) Bykomend tot paragraaf (a) kan ’n leerder ’n siviele aksie instel teen ’n persoon of ’n groep wat daardie leerder gemanipuleer en gedwing het om enige inisiasiepraktyke te bedryf of daaraan deel te neem.
(3) By die toepassing van hierdie Wet beteken „inisiasiepraktyke” enige handeling in die proses van inisiasie, toelating tot, of inlywing by, of as ’n voorwaarde vir voortgesette lidmaatskap van, ’n skool, ’n groep, binnemuurse of buitemuurse bedrywighede, interskoolse sportspan, of organisasie wat—
(a) die geestelike of fisiese gesondheid of veiligheid van ’n persoon in gevaar stel;
(b) die intrinsieke waarde van mense ondermyn deur sommiges as minderwaardig teenoor ander te behandel;
(c) individue onderwerp aan vernederende of geweldsdade wat die grondwetlike waarborg van waardigheid in die Handves van Menseregte ondermyn;
(d) die fundamentele regte en waardes wat die Grondwet rugsteun, ondermyn;
(e) die ontwikkeling van ’n ware demokratiese kultuur wat die individu die reg gee om waardig geag te word om met respek en sorg behandel te word; of
( f ) openbare of private eiendom vernietig.
(4) Wanneer daar oorweeg word of die optrede of deelname deur ’n persoon aan enige inisiasiepraktyk binne die bepaling van subartikel (3) val, moet die betrokke dissiplinêre owerheid in subartikel (2) (a) bedoel die reg van die leerder om nie aan sodanige praktyke onderwerp te word nie, in ag neem.
[A. 10A ingevoeg deur a. 5 van Wet No. 50 van 2002.]
11. Verteenwoordigende raad van leerders.—(1) ’n Verteenwoordigende raad van leerders van die skool moet by elke openbare skool wat leerders in die agtste graad of hoër inskryf, ingestel word, en hierdie raad is die enigste erkende en wettige verteenwoordigende leerderliggaam by die skool.
[Sub-a. (1) vervang deur a. 3 van Wet No. 100 van 1997 en deur a. 1 (a) van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
(2) Behoudens beleid gemaak in terme van artikel 3 (4) (g) van die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, 1996 (Wet No. 27 van 1996), moet die Lid van die Uitvoerende Raad, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant, die funksies en die prosedures vir die instelling en verkiesing van verteenwoordigende rade van leerders vasstel.
[Sub-a. (2) vervang deur a. 1 (b) van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
(3) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant, ’n openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes vrystel van die nakoming van subartikel (1) indien dit nie prakties moontlik is om ’n verteenwoordigende raad van leerders by die skool te vestig nie.
HOOFSTUK 3
OPENBARE SKOLE
12. Voorsiening van openbare skole.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet openbare skole vir die onderwys van leerders voorsien uit fondse wat vir die doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is.
(2) Die voorsiening van openbare skole bedoel in subartikel (1) kan die voorsiening van koshuise vir die huisvesting van leerders insluit.
(3) ’n Openbare skool kan ’n gewone openbare skool of ’n openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes wees.
(4) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet, waar redelikerwys uitvoerbaar, onderwys vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes by gewone openbare skole voorsien asook toepaslike opvoedkundige ondersteuningsdienste vir sodanige leerders.
(5) Die Lid van die Uitvoerende Raad tref alle redelike maatreëls om te verseker dat die fisiese geriewe van openbare skole toeganklik is vir gestremde persone.
(6) Geen bepaling van hierdie Wet belet die voorsiening van geslag-spesifieke openbare skole nie.
12A. Samesmelting van openbare skole.—(1) Behoudens subartikel (2) kan die Lid van die Uitvoerende Raad by kennisgewing in die Provinsiale Koerant twee of meer openbare skole in ’n enkele skool laat saamsmelt.
(2) Alvorens twee of meer openbare skole saamgesmelt word, moet die Lid van die Uitvoerende Raad—
(a) aan die betrokke skole skriftelik kennis gee van die beoogde samesmelting;
(b) ’n kennisgewing met uiteensetting van die redes vir die beoogde samesmelting publiseer in een of meer koerante wat in die gebied sirkuleer waarin die betrokke skole geleë is;
(c) die beheerliggame van die. betrokke skole en enige ander belanghebbendes die geleentheid bied om binne ’n tydperk van minstens 90 dae na die datum van die kennisgewing in paragraaf (b) bedoel, vertoë te rig;
(d) die vertoë oorweeg; en
(e) tevrede wees dat die werkgewers van personeel by die openbare skole hulle verpligtings ingevolge die toepaslike arbeidswetgewing nagekom het.
(3) Indien een of meer van die skole wat ingevolge subartikel (1) saamgesmelt staan te word, openbare skole op private eiendom is, moet die Lid van die Uitvoerende Raad ook—
(a) die eienaar van die private eiendom in kennis stel van sy of haar voorneme om die betrokke skole te laat saamsmelt;
(b) sy of haar kontraktuele verpligtinge ingevolge die ooreenkoms in artikel 14 beoog, oorweeg;
(c) sy of haar verpligtings ingevolge die bestaande ooreenkoms herbeding, indien nodig; en
(d) ’n nuwe ooreenkoms ingevolge artikel 14 beding indien die enkele skool in subartikel (1) beoog op private eiendom geleë gaan wees.
(4) Die enkele skool in subartikel (1) beoog moet as ’n openbare skool beskou word.
(5) Alle bates, laste, regte en verpligtinge van die skole wat saamsmelt, berus, behoudens die voorwaardes van enige skenking, bemaking of trust in artikel 37 (4) beoog, by die enkele skool.
(6) (a) Die beheerliggame van die skole wat saamgesmelt word, moet ’n vergadering voor die samesmelting hou om ’n enkele interim beheerliggaam, bestaande uit al die lede van die betrokke beheerliggame, saam te stel.
(b) Die interim beheerliggaam moet besluit oor die begroting en verskille in gedragskodes en skoolgelde, asook enige aangeleentheid wat relevant is tot die samesmelting of wat voorgeskryf word, totdat ’n nuwe beheerliggaam ingevolge artikels 23 en 28 saamgestel is.
(7) Die beheerliggaam van ’n openbare skool wat saamgesmelt staan te word, kan by die Minister appèl aanteken teen die besluit soos in subartikel (1) beoog.
[A. 12A ingevoeg deur a. 8 van Wet No. 48 van 1999.]
13. Openbare skole op Staatseiendom.—(1) In hierdie artikel sluit vaste eiendom waarvan die Staat die eienaar is eiendom wat namens ’n stam in trust gehou word deur ’n trust wat deur wetgewing geskep is, in.
(2) Behoudens artikel 20 (1) (k) het ’n openbare skool wat vaste eiendom okkupeer wat deur die Staat besit word, die reg om, vir die duur van die skool se bestaan, die vaste eiendom te beset en te gebruik tot voordeel van die skool vir opvoedkundige doeleindes by of in verband met die skool.
(3) Die reg bedoel in subartikel (2) kan slegs beperk word—
(a) deur die Lid van die Uitvoerende Raad; en
(b) indien die vaste eiendom nie deur die skool in die belang van die onderwys benut word nie.
(4) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan nie kragtens subartikel (3) optree nie tensy hy of sy—
(a) die beheerliggaam van die skool in kennis gestel het van sy of haar voorneme om op dié wyse op te tree en die redes daarvoor;
(b) die beheerliggaam van die skool ’n redelike geleentheid gebied het om vertoë tot hom of haar te rig in verband met sodanige optrede; en
(c) enige sodanige vertoë wat ontvang is, behoorlik oorweeg het.
(5) Die reg wat in subartikel (2) beoog word, is afdwingbaar teen enige regsopvolger van die eienaar van die betrokke vaste eiendom.
(6) Geen vaste eiendom wat deur die Staat besit word en deur ’n openbare skool beset word, mag vervreem word nie, tensy ’n ooreenkoms beoog in artikel 14 tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die voornemende eienaar van die vaste eiendom aangegaan is.
(7) Die Registrateur van aktes mag nie ’n akte van oordrag ten opsigte van die betrokke vaste eiendom verly, attesteer of registreer nie, tensy die eienaar die Registrateur van aktes van bewys van die ooreenkoms in subartikel (6) beoog, voorsien het.
[Sub-a. (7) vervang deur a. 4 (a) van Wet No. 100 van 1997.]
Bewoording van Artikels
(8) Die bepalings van die Registrasie van Aktes Wet, 1937 (Wet No. 47 van 1937), is nie van toepassing op die reg beoog in subartikel (2) nie.
[Sub-a. (8) vervang deur a. 4 (b) van Wet No. 100 van 1997 (slegs in Afrikaans).]
Bewoording van Artikels
(9) Op aansoek van die eienaar en by voorlegging van die eienaar se afskrif van die titelakte, moet die Registrateur van aktes die titelakte endosseer en in sy of haar rekords aanteken dat ’n openbare skool op die grond ingevolge hierdie Wet ingestel is.
[Sub-a. (9) bygevoeg deur a. 4 (c) van Wet No. 100 van 1997.]
14. Openbare skole op private eiendom.—(1) Behoudens die Grondwet en ’n onteiening ingevolge artikel 58 van grond of ’n saaklike reg om die eiendom waarop die openbare skool geleë is, te gebruik, kan ’n openbare skool op private eiendom voorsien word slegs ingevolge ’n ooreenkoms tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die eienaar van die private eiendom.
[Sub-a. (1) vervang deur a. 2 van Wet No. 53 van 2000.]
Bewoording van Artikels
(2) ’n Ooreenkoms in subartikel (1) beoog, moet strook met hierdie Wet en moet in die besonder voorsiening maak vir—
(a) die verskaffing van onderwys en die verrigting van die gewone werksaamhede van ’n openbare skool;
(b) beheer van die skool, met inbegrip van die verhouding tussen die beheerliggaam van die skool en die eienaar;
(c) toegang tot die eiendom waarop die skool staan, deur alle belanghebbendes;
(d) die sekerheid van okkupasie en gebruik van die eiendom deur die skool;
(e) instandhouding en verbetering van die skoolgeboue en die eiendom waarop die skool staan en die voorsiening van die nodige dienste; en
( f ) die beskerming van die eienaar se regte met betrekking tot die eiendom wat deur die skool geokkupeer, geaffekteer of gebruik word.
(3) Die bepalings van die Wet op die Registrasie van Aktes, 1937 (Wet No. 47 van 1937), is nie van toepassing op ’n saaklike reg, met uitsluiting van eiendomsreg, wat deur die Staat, ’n openbare skool of ’n ander party verkry word ingevolge ’n ooreenkoms in hierdie artikel beoog nie.
(4) Die reg beoog in subartikel (3) is afdwingbaar teen enige regsopvolger van die eienaar van die betrokke eiendom.
(5) Ondanks subartikel (3) moet ’n Registrateur van aktes op die eiendomsakte van die geaffekteerde eiendom ’n endossement aanbring dat die eiendom onderworpe is aan ’n ooreenkoms in hierdie artikel beoog, indien die registrateur in ontvangs is van—
(a) ’n aansoek om sodanige endossement deur die eienaar van die eiendom, of die Lid van die Uitvoerende Raad of enige ander houer van ’n reg beoog in subartikel (3), tesame met die eiendomsakte van die eiendom; en
(b) beëdigde verklarings van die eienaar van die eiendom en die Lid van die Uitvoerende Raad wat verklaar dat ’n ooreenkoms beoog in hierdie artikel gesluit is.
(6) Ná oorleg met die Raad van Onderwysministers moet die Minister regulasies uitvaardig ten aansien van die minimumvereistes vir ’n ooreenkoms beoog in hierdie artikel.
(7) Die Registrateur van aktes kan enige endossement wat ooreenkomstig subartikel (5) aangebring is, kanselleer indien die eienaar van die eiendom ’n beëdigde verklaring deur die Lid van die Uitvoerende Raad van die provinsie waarbinne die openbare skool geleë is, dat sodanige openbare skool ingevolge artikel 33 gesluit is, voorlê.
[Sub-a. (7) ingevoeg deur a. 5 (b) van Wet No. 100 van 1997.]
(8) Enige hereregte, seëlregte, gelde of kostes wat ten opsigte van die registrasie van ’n reg ingevolge subartikel (3) betaalbaar is, kan ten volle of gedeeltelik uit fondse wat vir die doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is, betaal word, maar die openbare skool beoog in subartikel (1) is nie aanspreeklik vir sodanige regte, gelde of kostes nie.
[Sub-a. (8), voorheen sub-a. (7), hernommer deur a. 5 (b) van Wet No. 100 van 1997.]
Bewoording van Artikels
15. Status van openbare skole.—Elke openbare skool is ’n regspersoon met die wetlike bevoegdheid om sy werksaamhede ingevolge hierdie Wet te verrig.
16. Beheer en professionele bestuur van openbare skole.—(1) Behoudens hierdie Wet setel die beheer van elke openbare skool in sy beheerliggaam en mag dit slegs sodanige werksaamhede en verpligtinge uitvoer en slegs sodanige regte uitoefen soos deur die Wet voorgeskryf.
[Sub-a. (1) vervang deur a. 2 van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
(2) ’n Beheerliggaam staan in ’n vertrouensposisie teenoor die skool.
(3) Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet, moet die professionele bestuur van ’n openbare skool deur die prinsipaal onder die gesag van die Departementshoof onderneem word.
(4) Die Departementshoof kan ’n openbare skool in geval van nood tydelik sluit indien hy of sy op redelike gronde glo dat die lewens van die leerders en die personeel in gevaar is of dat daar ’n wesenlike gevaar van liggaamlike leed aan hulle of beskadiging van eiendom bestaan.
[Sub-a. (4) bygevoeg deur a. 9 van Wet No. 48 van 1999.]
(5) Wanneer die Departementshoof besluit dat die skool moet heropen, moet hy of sy die beheerliggaam en die prinsipaal in kennis stel van die datum waarop die skool moet heropen.
[Sub-a. (5) bygevoeg deur a. 9 van Wet No. 48 van 1999.]
(6) Die prinsipaal of ’n persoon deur die Departementshoof aangewys, moet die opvoeders en die ouers in kennis stel van die datum in subartikel (5) beoog.
[Sub-a. (6) bygevoeg deur a. 9 van Wet No. 48 van 1999.]
(7) Indien ’n nuwe openbare skool ingevolge artikel 12 voorsien word, setel die beheer oor dié skool in die Departementshoof totdat ’n beheerliggaam ingevolge hierdie Wet saamgestel is.
[Sub-a. (7) bygevoeg deur a. 3 van Wet No. 53 van 2000.]
17. Beheerliggaam wat twee of meer skole bedien.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan bepaal dat die beheer oor twee of meer skole in ’n enkele beheerliggaam moet setel indien dit in die beste belang van onderwys by die betrokke skole is.
(2) Die Lid van die Uitvoerende Raad tree nie ingevolge subartikel (1) op nie tensy hy of sy—
(a) in die Provinsiale Koerant kennis gegee het van sy of haar voorneme om op dié wyse op te tree;
(b) aan belanghebbendes die geleentheid gebied het om binne ’n tydperk van minstens 30 dae skriftelike vertoë te rig; en
(c) alle sodanige vertoë oorweeg het.
18. Grondwet van beheerliggaam.—(1) Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet, moet die beheerliggaam van ’n openbare skool ingevolge ’n grondwet wat aan die minimumvereistes deur die Lid van die Uitvoerende Raad by kennisgewing in die Provinsiale Koerant bepaal, funksioneer.
(2) ’n Grondwet beoog in subartikel (1) moet voorsiening maak vir—
(a) ’n vergadering van die beheerliggaam minstens een keer elke skoolkwartaal;
(b) vergaderings van die beheerliggaam met ouers, leerders, opvoeders en ander personeel, onderskeidelik, minstens een keer per jaar;
(c) die afneem en hou van notules van vergaderings van die beheerliggaam;
(d) die beskikbaarstelling van sodanige notules vir inspeksie deur die Departementshoof; en
(e) die lewering van ’n verslag oor sy aktiwiteite aan ouers, leerders, opvoeders en ander personeel van die skool minstens een keer per jaar.
(3) Die beheerliggaam moet binne 90 dae na sy verkiesing ’n afskrif van sy grondwet aan die Departementshoof voorlê.
18A. Gedragskode van beheerliggaam.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet, by wyse van kennisgewing in die Provinsiale Koerant, ’n gedragskode vir die lede van die beheerliggaam van ’n openbare skool bepaal na oorlegpleging met verenigings van beheerliggame in daardie provinsie, indien van toepassing.
(2) Die gedragskode in subartikel (1) bedoel moet gemik wees op die vestiging van ’n gedissiplineerde en doelgerigte skoolomgewing wat toegewy is aan die verbetering en instandhouding van ’n beheerstruktuur van gehalte by ’n openbare skool.
(3) Alle lede van ’n beheerliggaam moet hulle hou by die gedragskode.
(4) Die gedragskode moet bepalings ten aansien van ’n behoorlike regsproses bevat om die belange van lede van die beheerliggaam in dissiplinêre verrigtinge te beskerm.
(5) Die Departementshoof kan die lidmaatskap van ’n lid van ’n beheerliggaam ná ’n behoorlike regsproses opskort of beëindig vir ’n verbreking van die gedragskode.
(6) ’n Lid van die beheerliggaam kan by die Lid van die Uitvoerende Raad appèl aanteken teen ’n beslissing van die Departementshoof ten aansien van die opskorting of beëindiging van sy of haar lidmaatskap as ’n lid van die beheerliggaam.
[A. 18A ingevoeg deur a. 6 van Wet No. 50 van 2002.]
19. Opbou van vermoë van beheerliggame.—(1) Die Departementshoof moet, uit fondse wat vir hierdie doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is, ’n program vestig om—
(a) inleidende opleiding aan nuut verkose beheerliggame te voorsien om hulle in staat te stel om hul werksaamhede te verrig; en
(b) voortgesette opleiding aan beheerliggame te voorsien ten einde die doeltreffende verrigting van hul werksaamhede te bevorder of om hulle in staat te stel om bykomende werksaamhede aan te neem.
(2) Die Departementshoof moet verseker dat prinsipale en ander beamptes van die onderwysdepartement alle nodige hulp aan beheerliggame by die verrigting van hul werksaamhede ingevolge hierdie Wet voorsien.
20. Werksaamhede van alle beheerliggame.—(1) Behoudens hierdie Wet moet die beheerliggaam van ’n openbare skool—
(a) die beste belange van die skool bevorder en poog om die ontwikkeling daarvan te verseker deur die voorsiening van onderwys van gehalte aan alle leerders in die skool;
(b) ’n grondwet aanvaar;
(c) die missiestelling van die skool ontwikkel;
(d) ’n gedragskode vir leerders by die skool aanvaar;
(e) die prinsipaal, opvoeders en ander personeel van die skool ondersteun in die verrigting van hul professionele werksaamhede;
( f ) die tye van die skooldag bepaal in ooreenstemming met enige toepaslike diensvoorwaardes van personeel by die skool;
(g) die skool se eiendom, asook die geboue en gronde deur die skool beset, met inbegrip van koshuise, indien van toepassing, administreer en beheer;
(h) ouers, leerders, opvoeders en ander personeel van die skool aanmoedig om vrywillige dienste aan die skool te lewer;
(i) die aanstelling van opvoeders by die skool by die Departementshoof aanbeveel, behoudens die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet No. 76 van 1998), en die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995);
[Par. (i) vervang deur a. 3 van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
( j) die aanstelling van nie-opvoederpersoneel by die skool by die Departementshoof aanbeveel, onderworpe aan die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994), en die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995);
(k) op versoek van die Departementshoof, die redelike gebruik van die fasiliteit van die skool vir opvoedkundige programme wat nie deur die skool aangebied word nie, in regverdige omstandighede soos deur die Departementshoof bepaal, toelaat;
[Par. (k) vervang deur a. 4 van Wet No. 53 van 2000.]
Bewoording van Artikels
(l) alle ander werksaamhede wat by of kragtens hierdie Wet aan die beheerliggaam opgelê word, verrig; en
(m) ander werksaamhede in ooreenstemming met hierdie Wet uitvoer, soos deur die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant bepaal, of deur die Lid van die Uitvoerende Raad by kennisgewing in die Provinsiale Koerant.
(2) Die beheerliggaam kan die redelike gebruik van die fasiliteite van die skool vir gemeenskaps-, sosiale en skoolfonds-insamelingsdoeleindes toelaat, onderworpe aan sodanige redelike en billike voorwaardes as wat die beheerliggaam mag bepaal, wat die heffing van gelde of tariewe vir die skool se voordeel kan insluit.
(3) Die beheerliggaam kan by ’n vrywillige vereniging wat beheerliggame van openbare skole verteenwoordig, aansluit.
(4) Behoudens hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet kan ’n openbare skool poste vir opvoeders instel en opvoeders in diens neem bykomstig tot die diensstaat deur die Lid van die Uitvoerende Raad bepaal ingevolge artikel 3 (1) van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1994.
[Sub-a. (4) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(5) Behoudens hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet kan ’n openbare skool poste vir nie-opvoeders instel en nie-opvoederspersoneel in diens neem bykomstig tot die diensstaat wat ingevolge die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994), bepaal is.
[Sub-a. (5) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(6) ’n Opvoeder en ’n nie-opvoeder wat in ’n pos wat ingevolge subartikel (4) of (5) ingestel is, aangestel word, moet voldoen aan die vereistes wat gestel word vir indiensneming by openbare skole ingevolge hierdie Wet, die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet No. 66 van 1995), en enige ander toepaslike wet.
[Sub-a. (6) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(7) ’n Openbare skool kan ’n opvoeder in ’n pos ingestel ingevolge subartikel (4) aanstel slegs indien sodanige opvoeder as opvoeder geregistreer is by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders.
[Sub-a. (7) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(8) Die personeel beoog is subartikels (4) en (5) moet ooreenkomstig die basiese waardes en beginsels bedoel in artikel 195 van die Grondwet in diens geneem word, en die faktore wat in berekening gebring word by die aanstellings, moet insluit, maar is nie beperk nie tot—
(a) die bekwaamheid van die kandidaat;
(b) die beginsel van billikheid;
(c) die behoefte om ongeregtigheid van die verlede reg te stel; en
(d) die behoefte om verteenwoordigend te wees.
[Sub-a. (8) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(9) Wanneer die jaarlikse begroting soos beoog in artikel 38 aangebied word, moet die beheerliggaam van ’n openbare skool voldoende besonderhede van enige poste wat beoog word ingevolge subartikels (4) en (5) aanbied, met inbegrip van die geskatte koste betreffende die aanstelling van personeel in sodanige poste en die manier waarop die voorgestelde koste betaal sal word.
[Sub-a. (9) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(10) Ondanks artikel 60 is die Staat nie aanspreeklik vir enige handeling of late by ’n openbare skool wat voortspruit uit sy kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer teenoor die personeel aangestel ingevolge subartikels (4) en (5) nie.
[Sub-a. (10) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
(11) Na oorleg soos beoog in artikel 5 van die Wet op die Nasionale Onderwysbeleid, 1996 (Wet No. 27 van 1996), kan die Minister norme en standaarde bepaal by kennisgewing in die Staatskoerant betreffende die fondse wat gebruik word vir die aanstelling van personeel beoog in subartikels (4) en (5), maar sodanige norme en standaarde word nie uitgelê as sou die Staat die gesamentlike werkgewer van sodanige personeel wees nie.
[Sub-a. (11) bygevoeg deur a. 6 van Wet No. 100 van 1997.]
21. Toegewese werksaamhede van beheerliggame.—(1) Behoudens hierdie Wet, kan ’n beheerliggaam skriftelik by die Departementshoof aansoek doen om enige van die volgende werksaamhede toegewys te word:
(a) Die instandhouding en verbetering van die skool se eiendom, asook die geboue en gronde deur die skool beset, met inbegrip van koshuise, indien van toepassing;
(b) die bepaling van die buitemuurse kurrikulum van die skool en die keuse van vak-opsies ingevolge die provinsiale kurrikulumbeleid;
(c) die aankoop van handboeke, opvoedkundige materiaal of uitrusting vir die skool;
(d) betaling vir dienste aan die skool;
(dA) behoudens enige toepaslike wet, die voorsiening van ’n klas of ’n sentrum vir basiese onderwys en opleiding vir volwassenes; of
[Par. (dA) ingevoeg deur a. 10 (b) van Wet No. 48 van 1999.]
(e) ander werksaamhede in ooreenstemming met hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet.
(2) Die Departementshoof kan ’n aansoek in subartikel (1) beoog, weier slegs indien die betrokke beheerliggaam nie oor die vermoë beskik om sodanige werksaamheid doeltreffend te kan verrig nie.
(3) Die Departementshoof kan sodanige aansoek onvoorwaardelik of onderhewig aan voorwaardes goedkeur.
(4) Die beslissing van die Departementshoof oor sodanige aansoek moet skriftelik aan die betrokke beheerliggaam oorgedra word, met opgawe van redes.
(5) Enige persoon wat deur ’n beslissing van die Departementshoof ingevolge hierdie artikel gegrief is, kan teen die beslissing by die Lid van die Uitvoerende Raad appelleer.
(6) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant, bepaal dat sekere beheerliggame een of meer werksaamhede kan uitoefen sonder om ’n aansoek bedoel in subartikel (1) in te dien, indien—
(a) hy of sy tevrede is dat die betrokke beheerliggame in die vermoë is om sodanige werksaamhede doeltreffend uit te voer; en
(b) daar ’n redelike en billike basis daarvoor bestaan.
22. Terugtrekking van werksaamhede van beheerliggame.—(1) Die Departementshoof kan, op redelike gronde, ’n werksaamheid van ’n beheerliggaam intrek.
(2) Die Departementshoof kan nie ingevolge subartikel (1) optree nie, tensy hy of sy—
(a) die beheerliggaam in kennis gestel het van sy of haar voorneme om op hierdie wyse op te tree en die redes daarvoor;
(b) aan die beheerliggaam ’n redelike geleentheid gebied het om vertoë tot hom of haar te rig in verband met sodanige voorneme; en
(c) enige sodanige vertoë wat ontvang is, behoorlik oorweeg het.
(3) In dringende gevalle kan die Departementshoof ingevolge subartikel (1) optree sonder vooraf skakeling met sodanige beheerliggaam, indien die Departementshoof daarna—
(a) aan die beheerliggaam redes vir sy of haar optrede verstrek;
(b) aan die beheerliggaam ’n redelike geleentheid bied om vertoë in verband met sodanige optrede te rig; en
(c) enige sodanige vertoë wat ontvang word, behoorlik oorweeg.
(4) Die Departementshoof kan, met afdoende redes, sy of haar optrede ingevolge subartikel (3) herroep of opskort.
(5) Enige persoon wat veronreg voel deur ’n besluit van die Departementshoof ingevolge hierdie artikel kan teen die besluit appèl aanteken by die Lid van die Uitvoerende Raad.
23. Lidmaatskap van beheerliggaam van gewone openbare skool.—(1) Behoudens hierdie Wet, bestaan die lidmaatskap van ’n beheerliggaam van ’n gewone openbare skool uit—
(a) verkose lede;
(b) die prinsipaal, in sy of haar amptelike hoedanigheid;
(c) gekoöpteerde lede.
(2) Verkose lede van die beheerliggaam bestaan uit ’n lid of lede van elk van die volgende kategorieë:
(a) Ouers van leerders by die skool;
(b) opvoeders by die skool;
(c) personeellede by die skool wat nie opvoeders is nie; en
(d) leerders in die agtste graad of hoër by die skool.
(3) ’n Ouer wat by die skool in diens is, kan nie ingevolge subartikel (2) (a) ouers op die beheerliggaam verteenwoordig nie.
(4) ’n Verteenwoordigende raad van leerders bedoel in artikel 11 (1) moet ’n leerder of leerders bedoel in subartikel (2) (d) verkies.
(5) Die beheerliggaam van ’n gewone openbare skool wat onderwys verskaf aan leerders met spesiale onderwysbehoeftes moet, waar prakties moontlik, ’n persoon of persone koöpteer met kundigheid ten aansien van die spesiale onderwysbehoeftes van sodanige leerders.
(6) ’n Beheerliggaam kan ’n lid of lede van die gemeenskap koöpteer om behulpsaam te wees met die verrigting van sy werksaamhede.
(7) Die beheerliggaam van ’n openbare skool beoog in artikel 14 kan die eienaar van die eiendom waarop die skool gevestig is of die genomineerde verteenwoordiger van sodanige eienaar koöpteer.
(8) Gekoöpteerde lede het, behoudens subartikel (10), nie stemreg op die beheerliggaam nie.
[Sub-a. (8) vervang deur a. 11 (a) van Wet No. 48 van 1999.]
Bewoording van Artikels
(9) Die aantal ouerlede moet een meer as die gesamentlike totaal van die ander lede van die beheerliggaam wat stemreg het, uitmaak.
(10) Indien die getal ouers in enige stadium nie meer is as die gekombineerde totaal van die ander lede met stemreg nie, moet die beheerliggaam ouers tydelik met stemreg koöpteer.
[Sub-a. (10) bygevoeg deur a. 11 (b) van Wet No. 48 van 1999.]
(11) Waar ’n ouer gekoöpteer is met stemreg soos in subartikel (10) beoog, staak die koöptering wanneer die vakature gevul is by wyse van ’n tussenverkiesing wat binne 90 dae nadat die vakature ontstaan het, gehou moet word, ooreenkomstig ’n prosedure bepaal ingevolge artikel 28 (d).
[Sub-a. (11) bygevoeg deur a. 11 (b) van Wet No. 48 van 1999.]
(12) Indien ’n persoon wat as lid van ’n beheerliggaam verkies is soos in subartikel (2) beoog, nie meer in die kategorie in daardie subartikel bedoel ten aansien waarvan hy of sy as lid verkies is, val nie, staak sy of haar lidmaatskap van die beheerliggaam.
[Sub-a. (12) bygevoeg deur a. 11 (b) van Wet No. 48 van 1999.]
24. Lidmaatskap van beheerliggaam van openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.—(1) Die volgende kategorieë van persone moet in die beheerliggaam van ’n openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes verteenwoordig word, in elke geval deur ’n lid of lede van die bepaalde kategorie:
(a) Ouers van leerders van die skool, indien redelik uitvoerbaar;
(b) opvoeders by die skool;
(c) personeellede van die skool wat nie opvoeders is nie;
(d) leerders in die agtste graad of hoër, indien redelik uitvoerbaar;
(e) verteenwoordigers van borgliggame, indien toepaslik;
( f ) verteenwoordigers van organisasies van ouers van leerders met spesiale onderwysbehoeftes, indien toepaslik;
(g) verteenwoordigers van organisasies vir gestremde persone, indien toepaslik;
(h) gestremde persone, indien toepaslik; en
(i) deskundiges in toepaslike velde van spesiale behoefte-onderwys;
( j) die prinsipaal in sy of haar amptelike hoedanigheid.
[Par. ( j) bygevoeg deur a. 7 van Wet No. 100 van 1997.]
(2) Behoudens hierdie Wet, bepaal die Lid van die Uitvoerende Raad by kennisgewing in die Provinsiale Koerant die getal lede in elke kategorie waarna verwys word in subartikel (1) en die wyse van verkiesing of aanstelling van sodanige lede by elke openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes in sy of haar provinsie.
(3) ’n Kennisgewing beoog in subartikel (2) moet aan belanghebbendes die geleentheid bied om binne ’n tydperk van minstens 30 dae skriftelike vertoë te rig.
(4) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet alle sodanige vertoë oorweeg, en kan daarna die kennisgewing beoog in subartikel (2) wysig.
25. Versuim deur beheerliggaam om werksaamhede te verrig.—(1) Indien die Departementshoof bepaal op redelike gronde dat ’n beheerliggaam opgehou het om die werksaamhede te verrig wat aan hom opgedra is ingevolge hierdie Wet, of opgehou het om een of meer van sodanige werksaamhede te verrig, moet hy of sy voldoende persone aanstel om al sodanige werksaamhede, of een of sommige van sodanige werksaamhede, na gelang van die geval, vir ’n tydperk van hoogstens drie maande te verrig.
[Sub-a. (1) vervang deur a. 4 (a) van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
(2) Die Departementshoof kan die tydperk bedoel in subartikel (1) met verdere tydperke van hoogstens drie maande elk verleng, maar die totale tydperk mag nie een jaar oorskry nie.
(3) Indien ’n beheerliggaam opgehou het om sy werksaamhede te verrig moet die Departementshoof seker maak dat ’n beheerliggaam kragtens hierdie Wet verkies word binne een jaar ná die aanstelling van persone in subartikel (1) beoog.
[Sub-a. (3) vervang deur a. 4 (b) van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
(4) Indien ’n beheerliggaam in gebreke bly om enige van sy werksaamhede te verrig, moet die persone in subartikel (1) beoog binne die tydperk van hulle aanstelling die nodige vermoë opbou om te verseker dat die beheerliggaam sy werksaamhede sal verrig.
[Sub-a. (4) bygevoeg deur a. 4 (c) van Wet No. 57 van 2001.]
26. Onttrekking deur lede van beheerliggaam.—’n Lid van ’n beheerliggaam moet van ’n vergadering van die beheerliggaam onttrek vir die duur van die bespreking van en die besluitneming oor enige aangeleentheid waarby die lid ’n persoonlike belang het.
27. Terugbetaling van lede van beheerliggaam.—(1) Noodsaaklike onkoste deur ’n lid van ’n beheerliggaam in die uitvoering van sy of haar pligte aangegaan, mag vergoed word.
(2) Geen lid van ’n beheerliggaam mag op enige wyse vergoed word deur die beheerliggaam vir die uitvoering van sy of haar pligte nie.
28. Verkiesing van lede van beheerliggaam.—Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet, bepaal die Lid van die Uitvoerende Raad by kennisgewing in die Provinsiale Koerant—
(a) die ampstermyn van lede en ampsdraers van ’n beheerliggaam;
(b) die aanwysing van ’n amptenaar om die proses van die nominasie en verkiesing van lede van die beheerliggaam te hanteer;
(c) die prosedure vir die diskwalifikasie of verwydering van ’n lid van ’n beheerliggaam of die ontbinding van ’n beheerliggaam, met afdoende rede in elke geval;
(d) die prosedure vir die vul van ’n vakature op die beheerliggaam;
(e) riglyne ter bereiking van die hoogste praktiese vlak van verteenwoordigendheid van lede van ’n beheerliggaam;
( f ) ’n formule of formules vir die berekening van die aantal lede van die beheerliggaam wat in elk van die kategorieë bedoel in artikel 23 (2) verkies moet word, maar sodanige formule of formules moet in staat wees tot toepassing op die verskillende omvang van en omstandighede by openbare skole; en
(g) enige ander aangeleenthede wat vereis word deur die verkiesing, aanwysing of ampsaanvaarding van lede van die beheerliggaam.
29. Ampsdraers van beheerliggame.—(1) ’n Beheerliggaam moet uit sy geledere ampsdraers verkies wat minstens ’n voorsitter, ’n tesourier en ’n sekretaris moet insluit.
(2) Slegs ’n ouerlid van ’n beheerliggaam wat nie by die openbare skool werksaam is nie mag as die voorsitter van die beheerliggaam dien.
(3) In die geval van ’n openbare skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes mag enige lid van die beheerliggaam wat uit die kategorieë van persone bedoel in artikel 24 (1) (a), (e), ( f ), (g), (h) en (i) verkies is, as voorsitter van daardie beheerliggaam dien.
[Sub-a. (3) bygevoeg deur a. 12 van Wet No. 48 van 1999.]
30. Komitees van beheerliggaam.—(1) ’n Beheerliggaam kan—
(a) komitees instel, met inbegrip van ’n uitvoerende komitee; en
(b) persone wat nie lede van die beheerliggaam is nie, in sodanige komitees aanstel op grond van kundigheid, maar ’n lid van die beheerliggaam moet as voorsitter van elke komitee optree.
(2) Die beheerliggaam van ’n gewone openbare skool wat onderwys verskaf aan leerders met spesiale onderwysbehoeftes, moet ’n komitee vir spesiale onderwysbehoeftes instel.
31. Ampstermyn van lede en ampsdraers van beheerliggame.—(1) Die ampstermyn van ’n lid van ’n beheerliggaam wat nie ’n leerder is nie, mag nie drie jaar te bowe gaan nie.
(2) Die ampstermyn van ’n lid van ’n beheerliggaam wat ’n leerder is, mag nie een jaar te bowe gaan nie.
(3) Die ampstermyn van ’n ampsdraer van ’n beheerliggaam mag nie een jaar te bowe gaan nie.
(4) ’n Lid of ampsdraer van ’n beheerliggaam kan herverkies of gekoöpteer word, na gelang van die geval, ná verstryking van sy of haar ampstermyn.
32. Status van minderjarige lede van beheerliggame van openbare skole.—(1) ’n Lid van ’n beheerliggaam wat ’n minderjarige is, mag nie namens ’n openbare skool kontrakteer nie.
(2) ’n Lid van ’n beheerliggaam wat ’n minderjarige is, mag nie stem oor besluite van ’n beheerliggaam wat aanspreeklikheid op derde partye of op die skool plaas nie.
(3) ’n Lid van ’n beheerliggaam wat ’n minderjarige is, loop geen persoonlike aanspreeklikheid vir enige gevolg van sy of haar lidmaatskap van die beheerliggaam op nie.
33. Sluiting van openbare skole.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant, ’n openbare skool sluit.
(2) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan nie kragtens subartikel (1) optree nie, tensy hy of sy—
(a) die beheerliggaam van die skool in kennis gestel het van sy of haar voorneme om op dié wyse op te tree en sy of haar redes daarvoor;
(b) die beheerliggaam van die skool ’n redelike geleentheid gebied het om vertoë in verband met sodanige optrede tot hom of haar te rig;
(c) ’n openbare verhoor belê het met redelike kennisgewing, ten einde die gemeenskap in staat te stel om vertoë in verband met sodanige optrede tot hom of haar te rig; en
(d) enige sodanige vertoë wat ontvang is, behoorlik oorweeg het.
(3) Indien ’n openbare skool ingevolge subartikel (1) gesluit word, moet alle bates en laste van sodanige skool, behoudens die voorwaardes van enige skenking, bemaking of trust beoog in artikel 37 (4), die Staat toeval tensy ’n andersluidende ooreenkoms tussen die Lid van die Uitvoerende Raad en die beheerliggaam van die skool aangegaan is.
HOOFSTUK 4
BEFONDSING VAN OPENBARE SKOLE
34. Verantwoordelikheid van Staat.—(1) Die Staat finansier openbare skole uit openbare inkomste op ’n billike basis ten einde die behoorlike uitoefening van die regte van leerders op onderwys en die regstelling van ongelykhede van die verlede in die voorsiening van onderwys te verseker.
(2) Die Staat moet, op ’n jaarlikse basis, voldoende inligting in verband met die befondsing bedoel in subartikel (1) aan openbare skole voorsien om openbare skole in staat te stel om hul begrotings vir die volgende boekjaar voor te berei.
35. Norme en standaarde vir skoolbefondsing.—(1)°°Behoudens die Grondwet en hierdie Wet moet die Minister, ná oorleg met die Raad van Onderwysministers en die Minister van Finansies, nasionale kwintiele vir openbare skole en nasional norme en standaarde vir skoolbefondsing bepaal.
(2) Die norme en standaarde vir skoolbefondsing in subartikel (1) beoog, moet—
(a) kriteria uiteensit vir die verspreiding van staatsbefondsing aan alle openbare skole op ’n regverdige en billike manier;
(b) voorsiening maak vir ’n stelsel waarvolgens leerders van alle openbare skole geplaas kan word in kwintiele, wat nasionale kwintiele vir leerders genoem word, volgens finansiële vermoë;
(c) voorsiening maak vir ’n stelsel waarvolgens alle openbare skole in die Republiek geplaas kan word in kwintiele, wat nasionale kwintiele vir openbare skole genoem word, volgens die verspreiding van leerders in die nasionale kwintiele vir leerders; en
(d) die prosedure bepaal waarvolgens die Lid van die Uitvoerende Raad die kriteria in paragraaf (a) bedoel, moet toepas.
[A. 35 vervang deur a. 3 van Wet No. 24 van 2005.]
Bewoording van Artikels
36. Verantwoordelikheid van beheerliggaam.—(1) ’n Beheerliggaam van ’n openbare skool moet alle redelike maatreëls binne sy vermoë tref om die hulpbronne deur die Staat voorsien aan te vul ten einde die gehalte van onderwys wat deur die skool aangebied word aan alle leerders by die skool, te verhoog.
(2) Ondanks subartikel (1) mag ’n beheerliggaam nie sonder die skriftelike goedkeuring van die Lid van die Uitvoerende Raad ’n lenings- of oortrekkingsooreenkoms aangaan ten einde die skoolfonds aan te vul nie.
[Sub-a. (2) bygevoeg deur a. 5 van Wet No. 57 van 2001.]
(3) Indien ’n persoon sonder die goedkeuring van die Lid van die Uitvoerende Raad geld aan ’n openbare skool leen of ’n oortrekking aan ’n openbare skool toestaan, sal die Staat en die openbare skool nie aan die geldleenkontrak of oortrekkingsooreenkoms gebonde wees nie.
[A. 36 gewysig deur a. 5 van Wet No. 57 van 2001. Sub-a. (3) bygevoeg deur a. 5 van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
37. Skoolfondse en bates van openbare skole.—(1) Die beheerliggaam van ’n openbare skool moet ’n skoolfonds instel en dit administreer ooreenkomstig voorskrifte deur die Departementshoof uitgereik.
(2) Behoudens subartikel (3) moet alle geld wat deur ’n openbare skool ontvang word, met inbegrip van skoolgeld en vrywillige bydraes, in die skoolfonds gestort word.
(3) Die beheerliggaam van ’n openbare skool moet ’n enkele bankrekening open en handhaaf, maar ’n beheerliggaarn van ’n openbare skool mag surplusfondse met die goedkeuring van die Lid van die Uitvoerende Raad belê.
[Sub-a. (3) vervang deur a. 6 (a) van Wet No. 57 van 2001.]
Bewoording van Artikels
(4) Geld of ander goedere wat aan ’n openbare skool geskenk of bemaak word of in trust ontvang word, moet ooreenkomstig die voorwaardes verbonde aan sodanige skenking, bemaking of trust aangewend word.
(5) Alle bates deur ’n openbare skool verwerf op of ná die inwerkingtreding van hierdie Wet is die eiendom van die skool.
(6) Die skoolfonds, alle opbrengste daaruit en alle ander bates van die openbare skool mag slegs gebruik word vir—
(a) opvoedkundige doeleindes by of in verband met sodanige skool;
(b) opvoedkundige doeleindes by of in verband met ’n ander openbare skool, volgens ooreenkoms met sodanige ander openbare skool en met die instemming van die Departementshoof;
(c) die uitvoering van die werksaamhede van die beheerliggaam; of
(d) ’n ander opvoedkundige doel soos ooreengekom tussen die beheerliggaam en die Departementshoof.
(7) (a) Geld van die skoolfonds van ’n openbare skool mag die in ’n trust inbetaal word, of gebruik word om ’n trust te stig nie.
(b) Indien ’n trust gestig is met ’n skoolfonds van ’n openbare skool, of indien sodanige geld in ’n trust inbetaal is voor 1 Januarie 2002, is sodanige trust of inbetaling ongeldig en moet die geld aan die skoolfonds terugbetaal word.
(c) ’n Beheerliggaam van ’n openbare skool mag nie geld of bydraes van ouers invorder om die betaling van verpligte skoolgelde te ontduik of te manipuleer en om sodanige gelde of bydraes te gebruik om ’n trust te stig of te befonds nie, en indien sodanige geld of bydraes van ouers in ’n trust inbetaal is voor 1 Januarie 2002, moet die trust sodanige geld of bydraes in die skoolfonds inbetaal.
[Sub-a. (7) ingevoeg deur a. 6 (b) van Wet No. 57 van 2001.]
38. Jaarlikse begroting van openbare skool.—(1) ’n Beheerliggaam van ’n openbare skool moet elke jaar ’n begroting voorberei in ooreenstemming met voorskrifte soos bepaal deur die Lid van die Uitvoerende Raad in ’n Provinsiale Koerant, wat die beraamde inkomste en uitgawe van die skool vir die volgende boekjaar uiteensit.
[Sub-a. (1) ingevoeg deur a. 7 van Wet No. 57 van 2001.]
(2) Voordat ’n begroting bedoel in subartikel (1) deur die beheerliggaam goedgekeur word, moet dit aan ’n vergadering van ouers wat met minstens 30 dae kennisgewing belê is, voorgelê word vir oorweging en goedkeuring deur ’n meerderheid van ouers teenwoordig wat stem.
(3) Die kennisgewing in subartikel (2) beoog moet ook die ouers inlig dat die begroting minstens 14 dae voor die vergadering by die skool ter insae sal wees.
[Sub-a. (3) bygevoeg deur a. 7 van Wet No. 50 van 2002.]
38A. Verbod op betaling van ongemagtigde besoldiging, of gee van finansiële voordeel of goederevoordeel aan sekere werknemers.—(1) Behoudens subartikel (2) mag ’n beheerliggaam nie aan ’n staatswerknemer wat ingevolge die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1998 (Wet No. 76 van 1998), of die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie No. 103 van 1994), in diens is, enige ongemagtigde—
(a) besoldiging;
(b) ander finansiële voordeel; of
(c) goederevoordeel, betaal of gee nie.
(2) ’n Beheerliggaam kan by die werkgewer aansoek doen om goedkeuring om aan ’n staatswerknemer enige betaling in subartikel (1) beoog, te betaal.
(3) Sodanige aansoek moet skriftelik by die kantoor van die werkgewer ingedien word en moet—
(a) volle besonderhede van die aard en omvang van die betaling vermeld;
(b) die proses en hulpbronne vermeld wat gebruik sal word om die staatswerknemer te vergoed of te besoldig; en
(c) die mate vermeld waarin daar aan artikel 20 (5) tot (9) voldoen is.
(4) Die beheerliggaam moet die aansoek in subartikel (2) beoog, indien minstens vier maande voordat die skool se begroting afgehandel word.
(5) Ondanks subartikel (1) kan ’n beheerliggaam reis- en verblyfuitgawes wat met amptelike skoolbedrywighede verband hou, betaal, maar sodanige uitgawes mag nie groter wees as dié wat onder soortgelyke omstandighede aan ’n staatsamptenaar betaalbaar sou wees nie.
(6) ’n Werkgewer mag nie op onredelike wyse ’n aansoek in subartikel (2) beoog, weier nie.
(7) Wanneer die aansoek oorweeg word, moet die werkgewer onder meer—
(a) die implikasies vir die werkgewer ingevolge die dienskontrak en arbeidswetgewing;
(b) of die diens wat in die aansoek ter sprake is, met die normale dienslewering van die werknemer sal inmeng;
(c) of die werkgewer al reeds betaal het vir die diens wat in die aansoek ter sprake is; en
(d) of die bykomende vergoeding, ander voordele of goederevoordele die kernbedrywighede en -werksaamhede van die skool ondersteun, in ag neem.
(8) Die betaling in subartikel (1) beoog, moet weerspieël word in die skool se begroting, soos dit voorgelê is aan die algemene vergadering van ouers in artikel 38 (2) beoog.
(9) Indien ’n beheerliggaam sonder vooraf goedkeuring van die werkgewer aan ’n werknemer enige besoldiging of finansiële voordeel of goederevoordeel in subartikel (1) beoog, betaal of gee, moet die werkgewer namens die skool die bedrag geld wat betaal is of die voordeel wat gegee is, verhaal van die lede van die beheerliggaam wat daardie besluit geneem het om die besoldiging te betaal of die voordeel te gee, uitgesonderd ’n lid van die beheerliggaam wat ’n minderjarige is.
(10) ’n Beheerliggaam kan by die Lid van die Uitvoerende Raad appèl aanteken teen
(a) die werkgewer se weiering van die aansoek in subartikel (2) beoog; of
(b) die versuim van die werkgewer om binne drie maande na die indiening van ’n aansoek in subartikel (2) beoog by die kantoor van die werkgewer ’n besluit te verskaf oor die aansoek
[A. 38A ingevoeg deur a. 2 van Wet No. 1 van 2004.]
39. Skoolgeld by openbare skole.—(1) Ingevolge hierdie Wet kan skoolgeld by ’n openbare skool vasgestel en gehef word alleenlik indien ’n besluit om dit te doen deur ’n meerderheid van ouers tydens ’n vergadering bedoel in artikel 38 (2) aanvaar is.
(2) ’n Besluit beoog in subartikel (1) moet voorsiening maak vir—
(a) die bedrag van skoolgelde wat gehef staan te word;
(b) billike maatstawwe en prosedures vir die algehele, gedeeltelike of voorwaardelike vrystelling van ouers wat nie in staat is om skoolgelde te betaal nie; en
(c) ’n skoolbegroting wat die geraamde kumulatiewe effek weerspieël van—
(i) die gevestigde tendense van niebetaling van skoolgelde wat vir daardie jaar beoog word; en
(ii) die totale, gedeeltelike of voorwaardelike vrystellings wat aan ouers verleen is ingevolge die regulasies in subartikel (4) beoog.
[Sub-a. (2) vervang deur a. (4) (a) van Wet No. 24 van 2005.]
Bewoording van Artikels
(3) Die beheerliggaam moet ’n besluit by ’n vergadering beoog in subartikel (1) geneem, in werking stel.
(4) Die Minister, na oorlegpleging met die Raad van Onderwysministers en die Minister van Finansies, vaardig regulasies uit ten opsigte van die billike maatstawwe en prosedures bedoel in subartikel (2) (b).
(5) Geen openbare skool mag enige registrasie-, administrasie- of enige ander gelde hef nie, uigesonder skoolgelde soos in artikel 1 omskryf.
[Sub-a. (5) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(6) ’n Openbare skool mag nie verskillende skoolgelde gebaseer op die kurrikulum of buitemuurse kurrikulum binne dieselfde graad op ’n ouer van ’n leerder by daardie skool hef nie.
[Sub-a. (6) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(7) Ondanks subartikel (1) moet die Minister by kennisgewing in die Staatskoerant jaarliks die nasionale kwintiele vir openbare skole of deel van sodanige kwintiele bepaal wat deur die Lid van Uitvoerende Raad gebruik moet word om skole te identifiseer wat nie skoolgelde mag hef nie.
[Sub-a. (7) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(8) Die Minister kan ’n bepaling ingevolge subartikel (7) maak slegs as voldoende befondsing van minstens die geen skoolgelde drempel bereik is om leerders te befonds in die skole wat deur die bepaling geraak word.
[Sub-a. (8) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(9) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet al die skole in subartikel (7) beoog, binne sy of haar provinsie identifiseer en ’n lys van sulke skole opstel.
[Sub-a. (9) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(10) Die Minister moet—
(a) die lys van skole geïdentifiseer ingevolge subartikel (9) oorweeg;
(b) die lys vergelyk met die bepaling beoog in artikel 35 (1); en
(c) die lys per provinsie, in die Staatskoerant publiseer indien dit aan die bepaling voldoen
[Sub-a. (10) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(11) Die skole in subartikel (7) beoog, kan ondanks daardie subartikel skoolgede heg indien hulle minder as die geen skoolgede drempel van die provinsiale onderwysdepartement ontvang.
[Sub-a. (11) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
(12) Die reg van die skool om skoolgelde ingevolge subartikel (11) te hef, word beperk tot ’n bedrag gelyk aan die bedrag wat verkry word as die werkilke bedrag wat van die Staat ontvang word, van die geen skoolgede drempel afgetrek word.
[Sub-a. (12) ingevoeg deur a. (4) (b) van Wet No. 24 van 2005.]
40. Verpligting op ouer om skoolgeld te betaal.—(1) ’n Ouer is aanspreeklik vir die betaling van die skoolgeld ingevolge artikel 39 bepaal, tensy en tot die mate waartoe hy of sy van betaling vrygestel is kragtens hierdie Wet.
(2) ’n Ouer kan by die Departementshoof appelleer teen ’n beslissing van ’n beheerliggaam in verband met die vrystelling van sodanige ouer van die betaling van skoolgeld.
(3) In die beslissing oor ’n appèl bedoel in subartikel (2) moet die Departementshoof ’n behoorlike regsproses volg om die belange van die ouer en die beheerliggaam te beskerm.
41. Afdwing van betaling van skoolgelde.—(1) ’n Openbare skool kan die betaling van skoolgelde deur ouers wat ingevolge artikel 40 daarvoor aanspreeklik is, deur regsproses afdwing.
(2) Die vrystelling van die betaling van skoolgelde moet bereken word in ooreenstemming met die regulasies in artikel 39 (4) beoog.
(3) Die vrystelling van die betaling van skoolgelde ingevolge hierdie Wet word terugwerkend bereken vanaf die datum waarop die ouer vir vrystelling kwalifiseer.
(4) ’n Openbare skool kan ingevolge subartikel (1) optree slegs nadat hy vasgestel het dat—
(a) die ouer nie ingevolge hierdie Wet vir vrystelling van die betaling van skoolgelde kwalifiseer nie;
(b) aftrekkings gemaak is ingevolge regulasies in artikel 39 (4) beoog vir ’n ouer wat vir gedeeltelike vrystelling kwalifiseer; en
(c) die ouer die vorm wat in die regulasies in artikel 39 (4) beoog word, ingevul en geteken het.
(5) Ondanks subartikel (4), kan ’n openbare skool ingevolge subartikel (1) optree indien—
(a) die skool bewys kan verskaf van ’n skriftelike kennisgewing aan die ouer wat per hand of geregistreerde pos gelewer is dat die ouer versuim het om vir vrystelling aansoek te doen soos in artikel 39 beoog; en
(b) ondanks die kennisgewing in paragraaf (a) beoog, die ouer versuim om die skoolgelde te betaal na ’n tydperk van drie maande na die datum van kennisgewing.
(6) ’n Openbare skool mag nie op die woning waarin ’n ouer woon, beslag lê nie.
(7) ’n Leerder mag ondanks die niebetaling van skoolgelde deur sy of haar ouer nie van sy of haar reg om aan alle aspekte van die program van ’n openbare skool deel te neem, ontneem word nie en mag op geen manier geviktimiseer word nie, insluitend maar nie beperk nie tot die volgende optrede:
(a) Skorsing uit klasse;
(b) mondelinge of niemondelinge belediging;
(c) ontsegging van toegang tot—
(i) kultuur-, sport- of sosiale aktiwiteite van die skool; of
(ii) die skool se voedingsprogram vir daardie leerders wat ingevolge die toepaslike beleid kwalifiseer; of
(d) ontsegging van ’n skoolrapport of oorplasingsertifikaat.
[A. (41) vervang deur a. 5 van Wet No. 24 van 2005.]
42. Finansiële rekords en state van openbare skole.—Die beheerliggaam van ’n openbare skool moet—
(a) rekord hou van fondse ontvang en bestee deur die openbare skool, en van sy bates, laste en finansiële transaksies; en
(b) so spoedig as moontlik, maar nie later nie as drie maande na die einde van elke boekjaar, jaarlikse finansiële state opstel ooreenkomstig die riglyne wat deur die Lid van die Uitvoerende Raad bepaal is.
43. Ouditering of ondersoek na finansiële rekords en state.—(1) Die beheerliggaam van ’n openbare skool moet ’n persoon wat ingevolge die Wet op Openbare Rekenmeesters en Ouditeurs, 1991 (Wet No. 80 van 1991), as rekenmeester en ouditeur geregistreer is, aanstel om die rekords en finansiële state bedoel in artikel 42 te ouditeer.
(2) Indien die oudit bedoel in subartikel (1) nie redelikerwys uitvoerbaar is nie, moet die beheerliggaam van ’n openbare skool ’n persoon aanstel om die rekords en finansiële state bedoel in artikel 42 te ondersoek en daaroor verslag te doen, welke persoon—
(a) bevoeg is om die pligte van ’n rekenpligtige beampte ingevolge die bepalings van artikel 60 van die Wet op Beslote Korporasies, 1984 (Wet No. 69 van 1984), uit te voer; of
(b) deur die Lid van die Uitvoerende Raad vir hierdie doel goedgekeur is.
(3) Geen persoon wat ’n finansiële belang in die sake van die openbare skool het, mag kragtens hierdie artikel aangestel word nie.
(4) Indien die Lid van die Uitvoerende Raad dit nodig ag, kan hy of sy die Ouditeur-Generaal versoek om ’n oudit van die rekords en finansiële state van ’n openbare skool te onderneem.
(5) ’n Beheerliggaam moet binne ses maande na die einde van elke boekjaar ’n afskrif van die jaarlikse finansiële state, geouditeer of ondersoek kragtens hierdie artikel, aan die Departementshoof voorlê.
(6) Op versoek van ’n belanghebbende persoon moet die beheerliggaam die rekords bedoel in artikel 42 en die geouditeerde of ondersoekte finansiële state beskikbaar stel vir inspeksie.
44. Boekjaar van openbare skool.—Die boekjaar van ’n openbare skool begin op die eerste dag van Januarie en eindig op die laaste dag van Desember van elke jaar.
HOOFSTUK 5
ONAFHANKLIKE SKOLE
45. Stigting van onafhanklike skool.—Behoudens hierdie Wet en enige toepaslike provinsiale wet kan elke persoon op sy of haar eie koste ’n onafhanklike skool stig en onderhou.
45A. Toelatingsouderdom tot onafhanklike skool.—(a) Die toelatingsouderdom van ’n leerder tot ’n onafhanklike skool in—
(i) graad R is vier jaar indien die leerder vyf word teen 30 Junie in die jaar van toelating;
(ii) graad 1 is vyf jaar indien die leerder ses word teen 30 Junie in die jaar van toelating.
(b) ’n Onafhanklike skool kan toelating verleen aan ’n leerder wat—
(i) onder die ouderdom in paragraaf (a) beoog is, indien afdoende redes aangevoer kan word; en
(ii) voldoen aan die kriteria in paragraaf (c) beoog.
(c) Die Minister kan, by regulasie—
(i) kriteria2 voorskryf vir die toelating tot ’n onafhanklike skool teen ’n ouderdom wat laer is as die toelatingsouderdom, van ’n onderouderdomleerder wat aan die kriteria voldoen;
(ii) ouderdomsvereistes vir verskillende grade by ’n onafhanklike skool voorskryf.
(d) By die toepassing van paragraaf (b) (i) beteken afdoende redes aangevoer dat—
(i) aangetoon kan word dat daar uitsonderlike omstandighede bestaan wat die toelating van ’n onderouderdomleerder noodsaak aangesien toelating in sy of haar beste belang sou wees; en
(ii) die weiering om daardie leerder toe te laat tot die ernstige nadeel van sy of haar ontwikkeling sou wees.
[A. 45A ingevoeg deur a. 8 van Wet No. 50 van 2002 met ingang van 1 Januarie 2004.]
46. Registrasie van onafhanklike skool.—(1) Geen persoon kan ’n onafhanklike skool stig of onderhou nie tensy dit deur die Departementshoof geregistreer is.
(2) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant, die gronde bepaal waarop die registrasie van ’n onafhanklike skool deur die Departementshoof toegestaan of ingetrek kan word.
(3) ’n Departementshoof moet ’n onafhanklike skool registreer indien hy of sy oortuig is dat—
(a) die standaarde wat in sodanige skool gehandhaaf staan te word, nie minderwaardig in vergelyking met standaarde in vergelykbare openbare skole is nie;
(b) die skool se toelatingsbeleid nie op grond van ras diskrimineer nie; en
(c) die skool voldoen aan die voorwaardes vir registrasie beoog in subartikel (2).
(4) Enige persoon wat subartikel (1) oortree, is aan ’n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar met ’n boete of gevangenisstraf vir ’n tydperk van drie maande.
47. Intrekking van registrasie van onafhanklike skool.—(1) Geen intrekking van die registrasie van ’n onafhanklike skool is geldig nie tensy—
(a) die eienaar van sodanige onafhanklike skool deur die Departementshoof van ’n kennisgewing van voorneme om die registrasie in te trek, voorsien is met uiteensetting van redes waarom sodanige intrekking beoog word;
(b) die eienaar van sodanige onafhanklike skool die geleentheid gebied is om skriftelike vertoë tot die Departementshoof te rig met opgawe van redes waarom die registrasie van die onafhanklike skool nie ingetrek behoort te word nie; en
(c) enige sodanige vertoë wat ontvang is, behoorlik oorweeg is.
(2) Die eienaar van ’n onafhanklike skool kan by die Lid van die Uitvoerende Raad appèl aanteken teen die intrekking van die registrasie van sodanige onafhanklike skool.
48. Subsidies aan geregistreerde onafhanklike skole.—(1) Die Minister kan, by kennisgewing in die Staatskoerant, na oorleg met die Raad van Onderwysministers en die Finansiële en Fiskale Kommissie en met die instemming van die Minister van Finansies, norme en minimumstandaarde vir die toestaan van subsidies aan onafhanklike skole bepaal.
(2) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, uit geld wat vir daardie doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is, ’n subsidie aan ’n onafhanklike skool toestaan.
(3) Indien daar nie aan ’n voorwaarde onderworpe waaraan ’n subsidie toegeken is, voldoen word nie, kan die Departementshoof die subsidie staak of verminder met ingang van ’n datum deur hom of haar bepaal.
(4) Die Departementshoof kan nie ’n subsidie ingevolge subartikel (3) staak of verminder nie, tensy—
(a) die eienaar van sodanige onafhanklike skool van ’n kennisgewing van die voorneme om die subsidie te staak of te verminder en die redes daarvoor voorsien is;
(b) sodanige eienaar die geleentheid gebied is om skriftelike vertoë te rig met opgawe van redes waarom die subsidie nie gestaak of verminder moet word nie; en
(c) enige sodanige vertoë wat ontvang is, behoorlik oorweeg is nie.
(5) Die eienaar van ’n onafhanklike skool kan by die Lid van die Uitvoerende Raad appèl aanteken teen die staking of vermindering van ’n subsidie aan sodanige onafhanklike skool.
49. Verklaring van onafhanklike skool tot openbare skool.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, met die instemming van die Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir finansies, ’n ooreenkoms met die eienaar van ’n onafhanklike skool aangaan ingevolge waarvan sodanige onafhanklike skool tot openbare skool verklaar word.
(2) Kennisgewing van die verandering in status in subartikel (1) beoog moet in die Provinsiale Koerant gepubliseer word.
50. Pligte van Lid van Uitvoerende Raad ten opsigte van onafhanklike skole.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet, by kennisgewing in die Provinsiale Koerant, die vereistes bepaal vir—
(a) die toelating van leerders van ’n onafhanklike skool tot eksamens wat deur of onder die toesig van die onderwysdepartement afgeneem word;
(b) die byhou van registers en ander dokumente deur ’n onafhanklike skool;
(c) die kriteria vir geskiktheid, die voorwaardes en die wyse van betaling van enige subsidie aan ’n onafhanklike skool; en
(d) enige ander aangeleentheid wat betrekking het op ’n onafhanklike skool en wat ingevolge hierdie Wet voorgeskryf moet word of kan word.
(2) Verskillende vereistes kan ingevolge subartikel (1) ten opsigte van verskillende onafhanklike skole gestel word.
(3) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet aan die geaffekteerde partye ’n redelike tyd toestaan om kommentaar te lewer op enige vereiste wat hy of sy beplan om kragtens subartikel (1) te stel.
51. Registrasie van leerder vir onderwys tuis.—(1) ’n Ouer kan by die Departementshoof aansoek doen om die registrasie van ’n leerder om by die leerder se huis onderwys te ontvang.
(2) Die Departementshoof moet ’n leerder soos beoog in subartikel (1) registreer indien hy of sy oortuig is dat—
(a) die registrasie in die belang van die leerder is;
(b) die onderwys wat die leerder waarskynlik tuis sal ontvang—
(i) aan die minimum vereistes van die kurrikulum van openbare skole sal voldoen; en
(ii) van ’n standaard sal wees wat nie minderwaardig is aan die standaard van onderwys wat in openbare skole aangebied word nie; en
(c) die ouer aan enige ander redelike voorwaardes wat deur die Departementshoof gestel word, sal voldoen.
(3) Die Departementshoof kan, behoudens subartikel (4), die registrasie bedoel in subartikel (1) intrek.
(4) Die Departementshoof kan nie die registrasie intrek nie alvorens hy of sy—
(a) die ouer van sy of haar voorneme om op hierdie wyse op te tree en die redes daarvoor verwittig het;
(b) aan die ouer die geleentheid gebied het om vertoë tot hom of haar te rig in verband met sodanige optrede; en
(c) enige sodanige vertoë wat ontvang is, behoorlik oorweeg het.
(5) ’n Ouer kan by die Lid van die Uitvoerende Raad appèl teen die intrekking van ’n registrasie of die weiering om ’n leerder ingevolge hierdie Wet te registreer, aanteken.
HOOFSTUK 6
OORGANGSBEPALINGS
52. Oorgangsbepalings wat op skole anders as private skole betrekking het.—(1) Enige skool wat ingestel is of geag was ingestel te gewees het ingevolge enige wet wat skoolonderwys in die Republiek van Suid-Afrika beheer en wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet bestaan het, anders as ’n private skool bedoel in artikel 53, word geag ’n openbare skool te wees.
(2) Die bates en laste wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet by ’n skool beoog in subartikel (1) berus het, berus by die betrokke openbare skool.
(3) Fondse en ander roerende bates wat deur die openbare skool gebruik word of vir of namens ’n skool beoog in subartikel (1) gehou word, wat regtens die eiendom van die Staat is, bly tot die beskikking van die skool, en val terug na die skool op ’n datum en onderhewig aan voorwaardes deur die Minister bepaal by wyse van kennisgewing in die Staatskoerant, ná oorleg met die Raad van Onderwysministers.
(4) Enige transaksie wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet deur ’n skool beoog in subartikel (1) aangegaan is en wat daartoe gelei het dat fondse of ander bates van sodanige skool sonder waarde aan ’n ander persoon of liggaam oorgedra is, is ongeldig.
53. Oorgangsbepalings wat op private skole betrekking het.—’n Private skool wat geregistreer was of geag word geregistreer te gewees het kragtens die bepalings van ’n wet wat skoolonderwys in die Republiek van Suid-Afrika reël, en wat bestaan het onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet, word geag ’n onafhanklike skool te wees.
54. Oorgangsbepalings wat op beheerliggame betrekking het.—(1) Die Minister moet, na oorleg met die Lid van die Uitvoerende Raad en by kennisgewing in die Staatskoerant, datums vasstel—
(a) waarteen die verkiesing van lede van beheerliggame vir alle openbare skole in ’n provinsie afgehandel moet wees ingevolge hierdie Wet; en
(b) waarop die beheerliggame bedoel in subartikel (1) (a) ingevolge hierdie Wet moet funksioneer.
(2) Verskillende datums kan bepaal word ingevolge subartikel (1) (b) ten opsigte van beheerliggame in die verskillende provinsies.
(3) Enige beheerliggaam, bestuursraad of dergelike owerheid van ’n openbare skool, wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van hierdie Wet bestaan het, gaan voort om te funksioneer tot op die dag voor die datum waarop die betrokke beheerliggaam verkies word en verrig alle werksaamhede wat hy voor die inwerkingtreding van hierdie Wet verrig het en wat ’n beheerliggaam wettig ingevolge hierdie Wet kan verrig.
(4) Totdat ’n beheerliggaam ingevolge subartikel (1) (b) begin funksioneer, moet so ’n beheerliggaam van ’n skool wat geag word ’n openbare skool te wees ingevolge artikel 52 (1) die werksaamhede verrig wat wettig deur sy voorganger verrig is en wat deur ’n beheerliggaam ingevolge hierdie Wet verrig kan word.
55. Oorgangsbepalings wat op vaste eiendom van sekere skole betrekking het.—(1) Die vaste eiendom van ’n skool wat tot staatsondersteunde skool verklaar is ingevolge artikel 29 (2A) van die Wet op Onderwysaangeleenthede, 1988 (Volksraad) (Wet No. 70 van 1988), val die Staat toe op ’n datum deur die Minister bepaal by kennisgewing in die Staatskoerant.
(2) Die Minister kan verskillende datums ten opsigte van verskillende skole kragtens subartikel (1) bepaal.
(3) Enige kennisgewing wat ’n datum of datums bedoel in subartikel (1) of (2) bepaal, moet aan alle belanghebbende partye ’n tydperk van minstens 30 dae gee om skriftelike vertoë te kan rig.
(4) Die Minister moet alle sodanige vertoë wat ontvang is, oorweeg en kan daarna ’n kennisgewing bedoel in subartikel (1) wysig.
(5) Enige hereregte, seëlregte, ander gelde of kostes wat as gevolg van die oordrag van die onroerende eiendom beoog in subartikel (1) betaalbaar is, moet ten volle of gedeeltelik uit fondse deur die Parlement vir daardie doel bewillig, betaal word.
(6) Die Minister kan, met die instemming van die Minister van Finansies, beveel dat geen hereregte, seëlregte, ander gelde of kostes beoog in subartikel (5) ten opsigte van ’n bepaalde oordrag kragtens hierdie artikel betaal word nie.
(7) Die regte van derde partye met eise teen die skool met betrekking tot die vaste eiendom deur die oordrag beoog in hierdie artikel geaffekteer, word nie deur die oordrag uitgewis nie en—
(a) ’n derde party verkry geen reg tot eksekusie teen die vaste eiendom bloot as gevolg van sodanige oordrag nie;
(b) ’n derde party is verplig om die betrokke skool uit te win as die skool in gebreke bly om sy verpligtinge teenoor die derde party na te kom; en
(c) die Staat stel sodanige party skadeloos in sy eise teen die skool wat deur die onroerende eiendom geborg is, maar die derde party bekom nie ’n groter reg teen die Staat as wat hy voor die oordrag teen die skool gehad het nie.
(8) Die feit dat kompensasie vir enige grond en saaklike reg in of oor grond wat kragtens subartikel (1) onteien is, nog nie afgehandel of betaal is nie, verhinder nie die oordrag van sodanige grond of saaklike reg in of oor die grond na die Staat nie.
(9) Tot op die datum beoog in subartikel (1) mag ’n openbare skool bedoel in daardie subartikel nie sy vaste eiendom verhuur, verkoop of andersins vervreem nie, of aan enige persoon enige saaklike reg of ’n serwituut daarop toestaan sonder die skriftelike goedkeuring van die Lid van die Uitvoerende Raad nie.
(10) Enige eis om skadevergoeding wat uit subartikel (1) voortspruit, moet besleg word soos beoog in die Grondwet.
(11) Die beampte in beheer van die aktekantoor of ander kantoor waar die vaste eiendom van ’n skool geregistreer is, moet, by voorlegging van die betrokke titelakte, die endossement op die akte aanbring en die inskrywing in die akteregister aanteken wat vereis word om die oordrag van die vaste eiendom te registreer.
[Sub-a. (11) bygevoeg deur a. 9 van Wet No. 100 van 1997 en vervang deur a. 13 van Wet No. 48 van 1999.]
Bewoording van Artikels
(12) Enige vaste eiendom wat aan die Staat behoort en deur ’n skool gebruik is en wat nie oordra is na of geëndosseer is in die naam van die skool beoog in subartikel (1) nie, bly die eiendom van die Staat.
[Sub-a. (12) bygevoeg deur a. 9 van Wet No. 100 van 1997.]
(13) Enige vaste eiendom wat in die naam van die skool beoog in subartikel (1) oorgedra is, gaan oor op die Staat indien daardie skool later ingevolge hierdie Wet of enige ander toepaslike wet gesluit word.
[Sub-a. (13) bygevoeg deur a. 9 van Wet No. 100 van 1997.]
56. Oorgangsbepalings met betrekking tot openbare skole op private eiendom.—Indien ’n ooreenkoms beoog in artikel 14 nie met die inwerkingtreding van hierdie Wet met betrekking tot ’n skool, wat op private eiendom staan, en wat geag ’n openbare skool ingevolge artikel 52 (1) te wees, bestaan nie, moet die Lid van die Uitvoerende Raad redelike maatreëls tref om sodanige ooreenkoms binne ses maande na die inwerkingtreding van hierdie Wet aan te gaan.
57. Oorgangsbepalings met betrekking tot private eiendom besit deur godsdiensorganisasie.—Indien die eienaar van die private eiendom na verwys in artikel 56 ’n godsdiensorganisasie is, kan sodanige eienaar verlang dat die ooreenkoms in artikel 14 beoog op ’n gepaste wyse in ooreenstemming met hierdie Wet die eiesoortige godsdienstige karakter van die skool weerspieël.
HOOFSTUK 7
ALGEMENE BEPALINGS
58. Onteiening.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, indien dit in die openbare belang is om dit te doen, grond en saaklike regte in of oor grond onteien vir enige doel wat verband hou met onderwys in skole in ’n provinsie.
(2) Die Lid van die Uitvoerende Raad moet in die Provinsiale Koerant kennis gee van sy of haar voorneme om ingevolge subartikel (1) onteiening te bewerkstellig.
(3) ’n Kennisgewing in subartikel (2) beoog, moet—
(a) die grond of enige saaklike regte in of oor die grond identifiseer;
(b) belanghebbende partye ’n geleentheid bied om skriftelike vertoë betreffende die onteiening binne ’n tydperk van minstens 30 dae te rig; en
(c) enige persoon wat op vergoeding aanspraak maak as gevolg van die onteiening, uitnooi om in onderhandeling daaroor te tree met die Lid van die Uitvoerende Raad, en moet verwys na die bepalings van subartikel (5).
(4) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, ná oorweging van alle sodanige skriftelike vertoë, die grond en enige saaklike regte in of oor die grond bedoel in subartikel (3) onteien by kennisgewing in die Provinsiale Koerant.
(5) Enige onteiening beoog in subartikel (4) is onmiddellik van krag, selfs al is die kompensasie betaalbaar ten opsigte van sodanige grond of saaklike regte in of oor die grond nog nie finaal vasgestel of betaal nie.
(6) Indien die Lid van die Uitvoerende Raad en die eienaar van die grond of saaklike regte in of oor die grond nie daarin slaag om ’n ooreenkoms te bereik in verband met die betaling van kompensasie nie, kan enigeen van die twee partye die aangeleentheid na ’n hof verwys vir beslegting, of hulle kan ooreenkom om die geskil na ’n arbiter te verwys vir arbitrasie.
(7) Die arbiter bepaal die tyd, plek en prosedures wat op die arbitrasie van toepassing sal wees.
(8) Die arbiter gee ’n beslissing oor die geskil en maak ’n skriftelike toekenning met opgawe van redes vir sodanige toekenning so gou as moontlik ná arbitrasie, en sy of haar beslissing is bindend.
(9) Die arbiter kan geen toekenning van koste maak nie.
(10) Die arbiter word, uit fondse wat vir die doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is, die gelde en toelaes betaal wat die Lid van die Uitvoerende Raad in oorleg met die Lid van die Uitvoerende Raad verantwoordelik vir finansies bepaal.
(11) Enige hereregte, seëlreg, ander fooie of koste betaalbaar as gevolg van die oordrag van grond of saaklike regte beoog in subartikel (1) kan ten volle of gedeeltelik betaal word uit fondse wat vir dié doel deur die provinsiale wetgewer bewillig is.
(12) Enige eis vir kompensasie wat uit die onteiening beoog in subartikel (4) voortspruit, moet besleg word soos beoog in die Grondwet en hierdie artikel.
58A. Vervreemding van bates van openbare skool.—(1) Die Departementshoof het die reg om 1’n inventaris van al die bates van ’n openbare skool op te stel en te inspekteer.
(2) Geen persoon mag enige bates van ’n openbare skool aan ’n ander persoon of liggaam vervreem sonder die skriftelike goedkeuring van die Lid van die Uitvoerende Raad nie.
(3) Ondanks subartikel (2) kan die Lid van die Uitvoerende Raad—
(a) bepaal dat sekere kategorieë bates onder ’n sekere waarde sonder sy of haar skriftelike goedkeuring vervreem kan word;
(b) van tyd tot tyd die waarde in paragraaf (a) beoog, bepaal en by kennisgewing in die Provinsiale Koerant publiseer.
(4) Daar mag nie op die bates van ’n openbare skool beslag gelê word as gevolg van enige regsaksie teen die skool nie.
[A. 58A ingevoeg deur by a. 6 van Wet No. 24 van 2005.]
59. Plig van skole om inligting te verstrek.—(1) ’n Skool moet inligting beskikbaar stel vir inspeksie deur enige persoon, vir sover sodanige inligting vir die uitoefening en beskerming van sodanige persoon se regte vereis word.
(2) Elke skool moet die inligting oor die skool wat redelikerwys deur die Departementshoof of die Direkteur-generaal van die nasionale Departement van Onderwys in same- werking met die Departementshoof vereis word, voorsien.
[Sub-a. (2) vervang deur a. 10 van Wet No. 100 van 1997.]
Bewoording van Artikels
60. Aanspreeklikheid van Staat.—(1) Die Staat is aanspreeklik vir enige skade of verlies wat veroorsaak word as gevolg van enige daad of versuim in verband met enige opvoedkundige aktiwiteit wat deur ’n openbare skool bedryf word en waarvoor sodanige openbare skool aanspreeklik sou gewees het by gebrek aan die bepalings van hierdie artikel.
(2) Die bepalings van die Wet op Staatsaanspreeklikheid, 1957 (Wet No. 20 van 1957), is op ’n eis kragtens subartikel (1) van toepassing.
(3) Enige eis weens skade of verlies in subartikel (1) beoog moet teen die betrokke Lid van die Uitvoerende Raad ingestel word.
[Sub-a. (3) bygevoeg deur a. 14 van Wet No. 48 van 1999.]
(4) Ondanks die bepalings van subartikel (1) is die Staat nie verantwoordelik vir enige skade of verlies as gevolg van enige handeling of versuim in verband met enige onderneming of besigheid wat onder die beheer van ’n openbare skool bedryf word vir doeleindes van die aanvulling van die hulpbronne van die skool soos in artikel 36 beoog nie, met inbegrip van die aanbied van praktiese opvoedkundige aktiwiteite in verband met daardie onderneming of besigheid.
[Sub-a. (4) bygevoeg deur a. 14 van Wet No. 48 van 1999.]
(5) Enige regstappe teen ’n openbare skool vir enige skade of verlies in subartikel (4) beoog, of ten aansien van enige handeling of versuim in verband met sy kontraktuele verantwoordelikheid as werkgewer soos in artikel 20 (10) beoog, kan ingestel word slegs nadat skriftelike kennisgewing van die voorneme om regstappe teen die skool te doen, aan die Departementshoof vir sy of haar inligting gegee is.
[Sub-a. (5) bygevoeg deur a. 14 van Wet No. 48 van 1999.]
61. Regulasies.—Die Minister kan regulasies uitvaardig—
(a) om voorsiening te maak vir veiligheidsmaatreëls by openbare en onafhanklike skole;
(b) ten opsigte van enige aangeleentheid wat kragtens hierdie Wet deur regulasies voorgeskryf kan of moet word;
(c) om ’n nasionale kurrikulumstelling voor te skryf wat op openbare en onafhanklike skole van toepassing is;
(d) om ’n nasionale proses en prosedures vir die evaluering van leerderprestasie in openbare en onafhanklike skole voor te skryf;
(e) om ’n nasionale proses vir die beraming, monitering en evaluering van onderwys in openbare en onafhanklike skole voor te skryf;
( f ) aangaande inisiasiepraktyke by openbare en onafhanklike skole;
(g) om die ouderdomsnorm per graad in openbare en onafhanklike skole voor te skryf;
(h) om voorsiening te maak vir norme en minimum standaarde vir die finansiering van skole; en
(i) oor enige aangeleentheid wat nodig of dienstig is om voor te skryf ten einde die oogmerke van hierdie Wet te bereik.
[A. 61 vervang deur a. 5 van Wet No. 53 van 2000 en deur a. 9 van Wet No. 50 van 2002.]
Bewoording van Artikels
62. Delegasie van bevoegdhede.—(1) Die Lid van die Uitvoerende Raad kan, behoudens die voorwaardes wat hy of sy bepaal, enige bevoegdheid wat by of kragtens hierdie Wet aan hom of haar opgedra is, met uitsondering van die bevoegdheid om ’n kennisgewing te publiseer en die bevoegdheid om te beslis oor enige appèl wat ingevolge hierdie Wet by hom of haar aangeteken word, aan die Departementshoof of ’n beampte delegeer.
(2) Die Departementshoof kan, behoudens die voorwaardes wat hy of sy bepaal, enige van sy of haar bevoegdhede by of ingevolge hierdie Wet of gedelegeer kragtens subartikel (1) aan ’n beampte delegeer.
(3) Delegasie ingevolge subartikel (1) of (2) belet nie die Lid van die Uitvoerende Raad of die Departementshoof, na gelang van die geval, om sodanige bevoegdheid self uit te oefen of sodanige plig self uit te voer nie.
63. Herroeping en wysiging van wette.—(1) Die wette in kolom een van Bylae 1 vermeld, word hiermee herroep in die mate uiteengesit in kolom drie van daardie Bylae.
(2) Die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, 1994 (Proklamasie No. 138 van 1994), word hiermee gewysig in die mate uiteengesit in Bylae 2.
64. Kort titel en inwerkingtreding.—Hierdie Wet is die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996, en tree in werking op ’n datum wat die President by proklamasie in die Staatskoerant bepaal.
Bylae 1

No. en jaar van Wet Kort titel In hoeverre herroep
Wet No. 47 van 1963 Wet op Onderwys vir Gekleurde Persone, 1963 Artikels 1A, 8 tot 20, 26 en 28 tot 31
Wet No. 61 van 1965 Wet op Indiëronderwys, 1965 Artikels 1B, 8 tot 20, 26, 28, 29, 31 en 33 (1) (g)
Wet No. 90 van 1979 Wet op Onderwys en Opleiding, 1979 Artikels 1A, 3, 4, 11 tot 29, 31, 32, 43 en 44 (1) (h)
Wet No. 104 van 1986 Wet op Private Skole (Volksraad), 1986 Artikel 1A
Wet No. 70 van 1988 Wet op Onderwysaangeleenthede (Volksraad), 1988 Artikels 3 en 65 en Hoofstuk 7

Bylae 2
WYSIGINGS VAN DIE WET OP DIE INDIENSNEMING VAN OPVOEDERS, 1994, DEUR ARTIKEL 63
1. Wysig artikel 1 as volg:—paragraaf (a) voeg die omskrywings van „Departement”, „onderwysinstelling”, „ongesubsidieerde pos”, „openbare onderwysinstelling”, „openbare skool”, „staatsondersteunde kollege” en „Wet op Arbeidsverhoudinge” in; paragraaf (b) vervang die omskrywings van „opvoeder”, „werkgewer” en „werknemerslid”; en paragraaf (c) skrap die omskrywings van „departementele onderwysinstelling”, „gesubsidieerde pos”, „staatsondersteunde onderwysinstelling”, „Uitvoerende Raad” en „Wet op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys”.
2. Vervang artikel 3.
3. Voeg artikel 3A in.
4. Vervang artikel 4.
5. Wysig artikel 5 as volg:—paragraaf (a) vervang subartikel (1); en paragraaf (b) skrap subartikel (2).
6. Vervang artikel 6.
7 tot en met 9. Wysig onderskeidelik artikels 7, 8 en 10, deur die vervanging van die uitdrukking „staatsonderwysinstelling” deur die uitdrukking „openbare onderwysinstelling”, waar dit ook al voorkom.
10. Wysig artikel 11 deur subartikel (3) te vervang.
11 en 12. Vervang onderskeidelik artikels 22 en 23.