Thursday, August 11, 2011

Wet op Nasionale Onderwysbeleid

WET OP NASIONALE ONDERWYSBELEID 27 VAN 1996

[GOEDGEKEUR OP 16 APRIL 1996] [DATUM VAN INWERKINGTREDING: 24 APRIL 1996]

(Afrikaanse teks deur die President geteken)

soos gewysig by

Wysigingswet op Onderwyswette 100 van 1997
Wysigingswet op Onderwyswette 48 van 1999

WET

Om voorsiening te maak vir die bepaling van nasionale beleid vir die onderwys; tot wysiging van die Wet op die Nasionale Beleid vir Algemene Onderwyssake, 1984, ten einde sekere woordomskrywings te vervang; nuwe voorsiening te maak vir die bepaling van beleid oor salarisse en diensvoorwaardes van opvoeders; en om voorsiening te maak vir aangeleenthede wat daarmee in verband staan.

Aanhef

NADEMAAL dit nodig is om wetgewing aan te neem om die demokratiese omskepping van die nasionale onderwysstelsel in 'n stelsel wat in die behoeftes voorsien en die belange dien van al die mense van Suid-Afrika en hulle fundamentele regte handhaaf;

WORD DAAR DERHALWE BEPAAL deur die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika, soos volg:-

[w27j1996a1]1 Woordomskrywing

In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken-

"belanghebbende" 'n organisasie of liggaam met 'n direkte en voortgesette belang in die tersaaklike onderwysinrigting, program, fase of sektor;

"beleidsdokument" die beleidsdokument in artikel 7 bedoel;

"Departement" die Departement van Onderwys;

"Direkteur-generaal" die Direkteur-generaal: Onderwys;

"georganiseerde onderwysberoep" 'n organisasie of unie wat 'n lid is van die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys, ingestel by artikel 6 van die Wet op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys, 1993 (Wet 146 van 1993), en wat vir die doeleindes van hierdie Wet deur die Minister erken is;

"Komitee" die Komitee van Onderwysdepartementshoofde by artikel 10 ingestel;

"Minister" die Minister van Onderwys;

"onderwys" enige onderwys en opleiding deur 'n onderwysinrigting verskaf, behalwe opleiding soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Mannekragopleiding, 1981 (Wet 56 van 1981);

"onderwysdepartement" die Departement en 'n departement van 'n provinsiale regering wat vir onderwys verantwoordelik is;

"onderwysinrigting" enige inrigting wat onderwys verskaf, hetsy vroeë kinderonderwys, primêre, sekondêre, verdere of hoër onderwys, behalwe 'n universiteit of technikon, en ook 'n inrigting wat gespesialiseerde, beroeps-, volwassene-, afstands- of gemeenskapsonderrig verskaf;

"opvoeder" iemand wat ander persone by 'n onderwysinrigting leer, onderrig of oplei, of bystand verleen by die verskaffing van professionele dienste of onderwyshulpdienste wat deur of in 'n onderwysdepartement voorsien word, maar nie ook 'n beampte of werknemer nie soos omskryf in artikel 1 van die Staatsdienswet, 1994 (Proklamasie 103 van 1994);

"provinsiale politieke onderwyshoof" die lid van 'n Uitvoerende Raad verantwoordelik vir onderwys in 'n provinsie;

"Raad" die Raad van Onderwysministers by artikel 9 ingestel;

"raadgewende liggaam" 'n raadgewende liggaam in artikel 11 beoog;

"skool" 'n preprimêre, primêre of sekondêre skool;

"student" iemand wat by 'n onderwysinrigting ingeskryf is;

"subkomitee" 'n subkomitee van die Komitee.

[w27j1996a2]2 Doelwitte van Wet

Die doelwitte van die Wet is om voorsiening te maak vir-

(a) die bepaling van nasionale onderwysbeleid deur die Minister in ooreenstemming met sekere beginsels;

(b) die oorlegpleging waaraan uitvoering gegee moet word voordat beleid bepaal word en die instelling van sekere liggame vir die doeleindes van oorlegpleging;

(c) die afkondiging en implementering van nasionale onderwysbeleid;

(d) die monitering en evaluering van onderwys.

[w27j1996a3]3 Bepaling van nasionale onderwysbeleid deur Minister

(1) Die Minister bepaal nasionale onderwysbeleid ooreenkomstig die bepalings van die Grondwet en hierdie Wet.

(2) By die bepaling van nasionale beleid vir onderwys by onderwysinrigtings hou die Minister rekening met die bevoegdhede van die provinsiale wetgewers uit hoofde van artikel 146 van die Grondwet en die toepaslike bepalings van die een of ander provinsiale Wet met betrekking tot onderwys.

[Sub-a. (2) vervang by a. 11 (a) van Wet 100 van 1997.]

(3) Behoudens die Grondwet geniet nasionale beleid voorrang oor die geheel of 'n gedeelte van enige provinsiale beleid oor onderwys indien daar strydigheid bestaan tussen die nasionale en die provinsiale beleid.

[Sub-a. (3) vervang by a. 4 van Wet 48 van 1999.]

(4) Behoudens die bepalings van subartikels (1) tot (3), bepaal die Minister nasionale beleid vir die beplanning, voorsiening, finansiering, koördinering, bestuur, beheer, programme, monitering, evaluering en welsyn van die onderwysstelsel en, sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid van hierdie artikel, kan die Minister nasionale beleid bepaal vir-

(a) inligtingstelsels vir onderwysbestuur, met inbegrip van die voorsiening van gegewens ooreenkomstig die internasionale verpligtinge van die regering;

(b) die organisasie van en, bestuur en beheer oor die nasionale onderwysstelsel;

(c) fasiliteite en finansiering van en ontwikkelingsplanne vir onderwys, met inbegrip van advies aan die Finansiële en Fiskale Kommissie;

(d) innovasie, navorsing en ontwikkeling in die onderwys;

(e) die verhouding opvoeder tot student;

(f) die professionele opvoeding en akkreditering van opvoeders;

(g) die organisasie, bestuur, beheer, befondsing, diensstaat en registrasie van onderwysinrigtings;

(h) verpligte skoolonderwys;

(i) die toelating van studente tot onderwysinrigtings, met inbegrip van die bepaling van die ouderdom vir toelating tot skole;

(j) die minimum getal ure per dag en dae per jaar waarbinne onderwys vir verskillende fases van onderwys in onderwysinrigtings voorsien moet word;

(k) die koördinasie van die datums van skooltermyne onder provinsies;

(l) kurrikulumraamwerke, kernsillabusse en onderwysprogramme, leerstandaarde, eksamens en die sertifisering van kwalifikasies, onderworpe aan die bepalings van die een of ander wet wat 'n nasionale kwalifikasieraamwerk of 'n sertifiserings- of akkrediteringsliggaam instel;

(m) taalgebruik in die onderwys;

(n) die beheer en tug van studente by onderwysinrigtings: Met dien verstande dat niemand lyfstraf mag toedien nie, of 'n student by enige onderwysinrigting aan sielkundige of liggaamlike mishandeling mag onderwerp nie;

(o) onderwysondersteuningsdienste, met inbegrip van gesondheids-, welsyns-, loopbaan- en beroepsontwikkeling, beradings- en leidingsdienste vir onderwysinrigtings, binne die funksionele verantwoordelikheid van 'n onderwysdepartement;

(p) samewerking tussen die Departement en-

(i) ander Staatsdepartmente;

(ii) provinsiale onderwysdepartemente;

(iii) plaaslike regering; en

(iv) nie-regeringsinstansies,

met die oog op die bevordering van die nasionale onderwysbeleid in hierdie artikel beoog en die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram;

(q) internasionale betrekkinge op die terrein van die onderwys;

(r) uitvoerende werksaamhede nodig vir die implementering van die nasionale onderwysbeleid ooreenkomstig hierdie Wet bepaal, met inbegrip van die implementering van maatreëls om die diskriminerende optrede van die verlede aan te spreek.

[Sub-a. (4) gewysig by a. 11 (b) van Wet 100 van 1997.]

[w27j1996a4]4 Rigtinggewende beginsels van nasionale onderwysbeleid

Die beleid in artikel 3 beoog word gerig op-

(a) die bevordering en beskerming van die fundamentele regte van elke persoon gewaarborg ingevolge Hoofstuk 2 van die Grondwet en ingevolge internasionale konvensies deur die Parlement bekragtig en in besonder die reg-

(i) van elke persoon om beskerm te word teen onbillike diskriminasie binne of deur 'n onderwysdepartement of 'n onderwysinrigting op watter gronde ook al;

(ii) van elke persoon tot basiese onderwys en gelyke toegang tot onderwysinrigtings;

(iii) van 'n ouer of voog ten opsigte van die onderwys van sy of haar kind of bevoogde;

(iv) van elke kind ten opsigte van sy of haar onderwys;

(v) van elke student om onderrig te word in die taal van sy of haar keuse waar dit redelikerwys uitvoerbaar is;

(vi) van elke persoon op die vryheid van gewete, godsdiens, denke, geloof, mening, uitdrukking en assosiasie binne onderwysinrigtings;

(vii) van elke persoon om, waar dit uitvoerbaar is, onderwysinrigtings gegrond op 'n gemeenskaplike taal, kultuur of geloof in te stel, mits daar geen diskriminasie op grond van ras is nie;

(viii) van elke persoon om die taal van sy of haar keuse te gebruik en om aan die kulturele lewe van sy of haar keuse binne 'n onderwysinrigting deel te neem;

[Par. (a) gewysig by a. 12 van Wet 100 van 1997.]

(b) die instaatstelling van die onderwysstelsel om tot die volle persoonlike ontwikkeling van elke student by te dra, en tot die morele, maatskaplike, kulturele, politieke en ekonomiese ontwikkeling van die nasie in die algemeen, met inbegrip van die bevordering van die demokrasie, menseregte en die vreedsame beslegting van geskille;

(c) die bereiking van billike onderwysgeleenthede en die regstelling van ongelykheid in onderwysvoorsiening in die verlede, met inbegrip van die bevordering van geslagsgelykheid en die verhoging van die status van die vrou;

(d) die beywering om te verseker dat geen persoon, as gevolg van liggaamlike gestremdheid, die geleentheid ontsê word om 'n opvoeding tot die maksimum van sy of haar vermoëns te ontvang nie;

(e) die voorsiening van geleenthede vir en die aanmoediging van 'n lewenslange leeringesteldheid;

(f) die bereiking van 'n geïntegreerde benadering tot onderwys en opleiding binne 'n nasionale kwalifikasieraamwerk;

(g) die ontwikkeling van vaardighede, dissiplines en vermoëns wat nodig is vir heropbou en ontwikkeling;

(h) die erkenning van die aanlegte, vermoëns, belangstellings, voorafkennis en ondervinding van studente;

(i) die aanmoediging van selfstandige en kritiese denke;

(j) die bevordering van 'n kultuur van respek vir onderriggewing en geleerdheid in onderwysinrigtings;

(k) die bevordering van ondersoek, navorsing en kennis;

(l) die verhoging van die gehalte van onderwys en onderwyskundige vernuwing deur stelselmatige navorsing en ontwikkeling op die onderwysgebied, monitering en die evaluering van onderwysvoorsiening en -prestasie en die opleiding van opvoeders en onderwysbestuurders;

(m) die bereiking van breë openbare deelname in die ontwikkeling van onderwysbeleid en die verteenwoordiging van belanghebbendes in die beheer van alle aspekte van die onderwysstelsel;

(n) die bereiking van koste-effektiewe gebruik van onderwyshulpbronne en volhoubare implementering van onderwysdienste;

(o) die bereiking van noue samewerking tussen die nasionale en provinsiale regerings oor aangeleenthede met betrekking tot onderwys, met inbegrip van die ontwikkeling van kapasiteit in die onderwysdepartemente, en die doeltreffende bestuur van die nasionale onderwyssisteem.

[w27j1996a5]5 Oorlegpleging oor nasionale onderwysbeleid

(1) Beleid in artikel 3 beoog, word deur die Minister bepaal na oorlegpleging met die toepaslike raadgewende liggame wat vir dié doel kragtens artikel 11 of enige toepaslike wet ingestel is, en met-

(a) die Raad;

(b) die nasionale organisasies wat hoofde van inrigtings wat verdere onderwys en opleiding verskaf soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Verdere Onderwys en Opleiding, 1998 (Wet 98 van 1998), verteenwoordig en wat die Minister vir hierdie doel erken;

[Par. (b) vervang by a. 5 van Wet 48 van 1999.]

(c) die vakbonde wat in die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys, bedoel in artikel 37 (3) (b) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, 1995 (Wet 66 van 1995), saamgelees met paragraaf 3 (2) van Bylae 1 by daardie Wet, verteenwoordig is;

[Par. (c) vervang by a. 5 van Wet 48 van 1999.]

(d) die nasionale organisasies wat beheerliggame van skole verteenwoordig en wat die Minister vir hierdie doel erken;

[Par. (d) vervang by a. 5 van Wet 48 van 1999.]

(e) die nasionale organisasies wat studente verteenwoordig en wat die Minister vir hierdie doel erken;

(f) die ander nasionale liggame van belanghebbendes wat die Minister vir hierdie doel erken.

(2) Die beleid in artikel 3 beoog, word deur die Minister bepaal met die instemming van die Minister van Finansies vir sover dit uitgawes uit die Staatsinkomstefonds meebring.

(3) Niks in hierdie artikel vervat, beperk die diskresie van die Minister nie om enigiemand na goeddunke te raadpleeg vir advies in verband met die bepaling van nasionale onderwysbeleid.

[w27j1996a6]6 Oorlegpleging oor wetgewing

Wetgewing oor 'n aangeleentheid in artikel 3 bedoel, word by die Parlement ingedien, of, in die geval van regulasies, in die Staatskoerant afgekondig slegs na oorlegpleging tussen die Minister en-

(a) die Raad, ten opsigte van onderwys by onderwysinrigtings; en

(b) al die partye in die Raad vir Arbeidsverhoudinge in die Onderwys ingestel by artikel 6 van die Wet op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys, 1993 (Wet 146 van 1993), ten opsigte van enige aangeleentheid wat binne die doelwitte van daardie Wet ressorteer.

[w27j1996a7]7 Afkondiging van nasionale onderwysbeleid

Die Minister moet binne 21 dae na die bepaling van beleid ingevolge artikel 3-

(a) in die Staatskoerant kennis gee van daardie bepaling en in daardie kennisgewing aandui waar die beleidsdokument wat met betrekking daartoe uitgereik is, verkrygbaar is;

(b) die beleidsdokument in paragraaf (a) bedoel in die Parlement ter Tafel lê binne 21 dae nadat die kennisgewing in die Staatskoerant verskyn het, indien die Parlement dan in gewone sessie is, of, indien die Parlement nie in gewone sessie is nie, binne 21 dae na die aanvang van die eersvolgende gewone sessie van die Parlement.

[w27j1996a8]8 Monitering en evaluering van onderwys

(1) Die Minister gelas dat die standaarde van onderwysvoorsiening, -oordrag en -prestasie jaarliks of by ander gespesifiseerde tussenposes regdeur die Republiek gemoniteer en geëvalueer word met die doel om vordering met die nakoming van die bepalings van die Grondwet en nasionale onderwysbeleid, veral dié kragtens artikel 3 (3) bepaal, te beoordeel.

(2) Elke lasgewing ingevolge subartikel (1) gemaak, moet voldoen aan die bepalings van die een of ander wet wat 'n nasionale kwalifikasieraamwerk instel en word geformuleer na oorlegpleging met die liggame in artikel 5 (1) bedoel.

(3) Die Departement onderneem die monitering en evaluering in subartikel (1) beoog, deur die ontleding van gegewens deur middel van onderwysbestuursinligtingstelsels versamel of deur 'n ander geskikte metode, in samewerking met provinsiale onderwysdepartemente.

(4) Die Departement vervul sy verantwoordelikhede ooreenkomstig subartikels (1) tot (3) op 'n redelike wyse, met die oog daarop om professionele vermoëns in monitering en evaluering regdeur die nasionale onderwysstelsel te verhoog, en om die bevoegde gesagsinstansies met alle praktiese middele binne die perke van beskikbare openbare hulpbronne by te staan om die standaarde van onderwysvoorsiening en -prestasie te verhoog.

(5) Die Departement moet 'n verslag oor die uitslag van elke ondersoek ooreenkomstig subartikel (3) uitgevoer, opstel en publiseer nadat die geleentheid aan die betrokke bevoegde gesag verleen is om daarop kommentaar te lewer, welke kommentaar saam met die verslag gepubliseer moet word.

(6) Indien 'n verslag ooreenkomstig subartikel (5) opgestel, daarop dui dat die standaarde van onderwysvoorsiening, -oordrag en -prestasie in 'n provinsie nie voldoen aan die Grondwet of aan die beleid kragtens artikel 3 (3) bepaal nie, stel die Minister die betrokke provinsiale politieke onderwyshoof aldus in kennis en verlang die Minister dat 'n plan om die situasie te remedieer binne 90 dae voorgelê word.

(7) 'n Plan wat kragtens subartikel (6) deur die Minister verlang word, word deur die betrokke provinsiale onderwysdepartement in oorleg met die Departement voorberei en word binne 21 dae na ontvangs daarvan deur die Minister in die Parlement ter Tafel gelê tesame met sy of haar kommentaar, indien die Parlement dan in gewone sessie is, of, indien die Parlement nie in gewone sessie is nie, binne 21 dae na die aanvang van die eersvolgende gewone sessie van die Parlement.

[w27j1996a9]9 Raad van Onderwysministers

(1) Daar word hierby 'n raad ingestel wat die Raad van Onderwysministers heet en wat bestaan uit-

(a) die Minister, wat die voorsitter is;

(b) die Adjunkminister van Onderwys, indien so 'n Adjunkminister aangestel is, wat in die afwesigheid van die Minister deur die Minister as voorsitter aangewys word; en

(c) elke provinsiale politieke onderwyshoof.

(2) Die Direkteur-generaal woon die vergaderings van die Raad by ten einde oor die verrigtinge van die Komitee verslag te doen en om advies te verleen oor enige ander aangeleentheid wat op die verantwoordelikhede van die Departement betrekking het.

(3) Die voorsitters van die Portefeuljekomitee oor Onderwys in die Nasionale Vergadering en die Gekose Komitee oor Onderwys in die Senaat kan vergaderings van die Raad bywoon.

(4) Die werksaamhede van die Raad is om-

(a) 'n nasionale onderwysbeleid te bevorder wat ten volle die beleid van die regering, die beginsels vervat in artikel 4, die onderwysbelange en -behoeftes van die provinsies en die onderskeie bevoegdhede van die Parlement en die provinsiale wetgewers ingevolge artikel 146 van die Grondwet, in ag neem;

[Par. (a) vervang by a. 13 van Wet 100 van 1997.]

(b) inligting en menings oor alle aspekte van onderwys in die Republiek te deel; en

(c) optrede met betrekking tot aangeleenthede van onderlinge belang vir die nasionale en provinsiale regerings te koördineer.

(5) Die Raad kan die reëls opstel met betrekking tot die belê van sy vergaderings, die gereeldheid van sy vergaderings, die prosedure by sy vergaderings, met inbegrip van die kworum vir sy vergaderings, en enige ander aangeleentheid wat hy noodsaaklik of dienstig ag vir die behoorlike verrigting van sy werksaamhede of die uitoefening van sy bevoegdhede.

(6) Die verrigtinge van die Raad is nie ongeldig bloot op grond van die feit dat daar 'n vakature in die Raad bestaan nie.

[w27j1996a10]10 Komitee van Onderwysdepartementshoofde

(1) Daar word hierby 'n komitee ingestel wat die Komitee van Onderwysdepartementshoofde heet en wat bestaan uit-

(a) die Direkteur-generaal, wat voorsitter is;

(b) die Adjunk-direkteurs-generaal van die Departement; en

(c) die hoofde van die provinsiale onderwysdepartemente.

(2) Die werksaamhede van die Komitee is om-

(a) die ontwikkeling van 'n nasionale onderwysstelsel ooreenkomstig die doelwitte en beginsels vervat in hierdie Wet te bevorder;

(b) inligting en menings oor nasionale onderwys te deel;

(c) administratiewe optrede met betrekking tot aangeleenthede van onderlinge belang vir die onderwysdepartemente te koördineer; en

(d) die Departement oor enige aangeleentheid beoog in artikels 3, 4, 5, 6, 7, 8 en 11 ten opsigte van onderwys te adviseer, of oor enige ander aangeleentheid wat met die behoorlike funksionering van die nasionale onderwysstelsel in verband staan.

(3) Die Komitee kan subkomitees instel om hom by die verrigting van sy werksaamhede by te staan, en-

(a) persone wat nie lid van die Komitee is nie, as lede van 'n subkomitee aanstel: Met dien verstande dat die georganiseerde onderwysberoep uitgenooi word om verteenwoordigers as lede van elke subkomitee te nomineer;

(b) die voorsitter van 'n subkomitee aanwys of gelas dat die voorsitter deur die subkomitee uit die geledere van sy lede aangestel word.

(4) (a) Vergaderings van die Komitee word gehou op die tye en plekke wat die voorsitter van die Komitee bepaal.

(b) Die verrigtinge van die Komitee is nie ongeldig bloot op grond van die feit dat daar 'n vakature in die Komitee bestaan nie.

(c) Indien die voorsitter van die Komitee van 'n vergadering van die Komitee afwesig is, sit een van die Adjunk-direkteurs-generaal wat vir dié doel deur die voorsitter aangewys is, by daardie vergadering voor.

(5) Die Komitee kan reëls opstel met betrekking tot die prosedure by sy vergaderings, met inbegrip van die kworum vir sy vergaderings, en enige ander aangeleentheid wat hy noodsaaklik of dienstig ag vir die behoorlike verrigting van sy werksaamhede of die uitoefening van sy bevoegdhede: Met dien verstande dat minstens vier vergaderings per jaar gehou word.

[w27j1996a11]11 Raadgewende liggame

(1) Die Minister kan, behoudens enige toepaslike wet, by regulasie die liggame instel wat nodig is om hom of haar te adviseer oor aangeleenthede beoog in artikel 3: Met dien verstande dat die Minister-

(a) 'n liggaam wat die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding heet, waarvan die lidmaatskap die nasionale hoofbelanghebbendes in die nasionale onderwysstelsel moet weerspieël, moet instel om te adviseer oor die breë beleid en strategie vir die ontwikkeling van die nasionale onderwysstelsel en die bevordering van 'n geïntegreerde benadering tot onderwys en opleiding;

(b) die ander liggame wat nodig is om die belange van bepaalde sektore van die onderwysstelsel te verteenwoordig, moet instel.

(2) Die samestellings, kwalifikasies vir lidmaatskap, pligte, bevoegdhede en werksaamhede van 'n liggaam kragtens subartikel (1) ingestel, en die ampstermyn van sy lede, word by regulasie voorgeskryf: Met dien verstande dat die liggame in artikel 5 (1) (c) bedoel, uitgenooi word om verteenwoordigers in enige sodanige raadgewende liggaam binne hul onderskeie belangesfere te benoem.

(3) Verskillende regulasies kan ten opsigte van verskillende liggame kragtens subartikel (1) ingestel, afgekondig word.

[w27j1996a12]12 Toelaes en besoldiging van lede van subkomitees en raadgewende liggame

Daar kan aan 'n lid van 'n subkomitee of 'n raadgewende liggaam wat nie in die heeltydse diens van die Staat is nie, ten opsigte van die dienste deur so 'n lid in verband met sake van die subkomitee of raadgewende liggaam verrig, uit geld deur die Parlement vir dié doel bewillig, die reis, verblyf en ander toelaes betaal word wat die Minister, met die instemming van die Minister van Finansies, bepaal.

[w27j1996a13]13 Administratiewe werksaamhede van die Raad, Komitee en raadgewende liggame

(1) Die administratiewe werksaamhede van die Raad, Komitee en elke raadgewende liggaam word deur amptenare van die Departement wat vir daardie doel deur die Direkteur-generaal aangewys is, verrig.

(2) Die Direkteur-generaal wys ten opsigte van die Raad, Komitee en elke raadgewende liggaam 'n Sekretaris aan onder wie se leiding die ander amptenare hul werksaamhede verrig.

[w27j1996a14]14 Wysiging van Wet 76 van 1984

(1) Behoudens die bepalings van subartikel (2), word die Wet op die Nasionale Beleid vir Algemene Onderwyssake, 1984 (Wet 76 van 1984), hierby gewysig in die mate in die Bylae vermeld.

(2) Enigiets wat gedoen is kragtens 'n bepaling van die Wet op die Nasionale Beleid vir Algemene Onderwyssake, 1984, voor die wysiging daarvan deur subartikel (1), bly van krag asof sodanige wysiging nie aangebring is nie.

[w27j1996a15]15 Kort titel

Hierdie Wet heet die Wet op die Nasionale Onderwysbeleid, 1996.

No comments: